Talle agter tralies; duisende boetes in Kaapstad uitgereik

Kaapstadse wetstoepassers het die afgelope naweek op verskeie plekke toegeslaan. (Foto: City of Cape Town/Facebook)

Die Stad Kaapstad sê sy wetstoepassers het die afgelope week altesame 135 mense in hegtenis geneem, 8 131 boetes uitgereik en altesaam 132 minibustaxi’s geskut in talle operasies in die stad.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê minibustaxi’s het Vrydag verkeer in die omgewing van Station Deck ontwrig. Hulle het protes aangeteken teen die uitreik van boetes, lasbriewe vir verkeersoortredings en die skut van taxi’s wat onwettig bedryf word.

Hy het gesê die betogings veroorsaak enorme ontwrigting en verkeersopeenhopings in die stad.

“Die stad kan nie toelaat dat minibustaxibestuurders die reg in eie hande neem en wetsgehoorsame burgers gyselaar hou deur hul frustrasie na die strate te neem, paaie te versper, openbare ontwrigting te veroorsaak en die lewens van burgers in gevaar te stel nie,” het Smith gesê.

Altesaam 76 mense is ook in hegtenis geneem omdat hulle glo onder die invloed van alkohol bestuur het.

In die stad se suidelike voorstede het wetstoepassers 20 taxi’s geskut, beslag gelê op 45 selfone en 4 167 boetes uitgereik.

“Die voortgesette verontagsaming van die reg in die openbare vervoersektor is ʼn bron van groot kommer en só ook die aanhoudende teenstand teen ons wetstoepassingsoptrede. Dié sektor is egter nie die enigste knelpunt nie.

“Daar is talle private motoriste wat ook hul optrede moet herbesin. Of dit nou dronk- of roekelose en nalatige bestuur is, die stad gaan nie dié soort optrede van enigeen duld nie. Baie motoriste kla oor die optrede van taxibestuurders, maar versuim om verantwoordelikheid vir hul eie optrede te aanvaar,” het Smith gesê.

Altesaam 58 motoriste is tydens misdaadvoorkomingspatrollies vir beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem en 45 mense is aangekeer vir oortredings wat wissel van die onwettige besit van dwelms, verset teen inhegtenisneming, diefstal, die besit van gesteelde goedere, die besit van gevaarlike wapens, betreding en dwarsboming van die gereg. Meer as ʼn duisend boetes is uitgereik vir die oortreding van verkeerswette en munisipale verordenings.

Smith het gesê die polisie het ook op dwelms beslag gelê. In een voorval het beamptes verbonde aan die dwelm- en bendetaakspan ʼn struktuur in Gugulethu deursoek en 109 pakkies tik, mandrax-tablette, dagga en kontant gevind. ʼn Drie-en-twintigjarige man is in hegtenis geneem.

“Die stad se wetstoepassingsagentskappe prioritiseer ernstige oortredings op grond van operasionele doelwitte en sal nie huiwer om teen misdadigers op te tree nie. Dis ons plig om te dien en te beskerm en ons sal voortgaan om dit te doen,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dankbaar ·

Omdat dit Wes Kaap is. Die res van die land kan dit ook doen as die wil daar is om dit te doen.

Elise Bishop ·

Wonderlik om te lees die terreur van die wilde ryery in die metro en hoofroetes word aangespreek!!! Dis ‘n area wat weekliks besoek kan word.

danie ·

Mnr Smit jou verkeers polisie is pateties. Kom na die middestad van Bellville en kyk hoe maak hulle net soos hulle wil terwyl die verkeerspolisie in die agterstrate op sagte teikens toeslaan en dit terwyl die taxi bestuurders daagliks gaos in die hoofstrate veroorsaak. Jou beamptes is onbevoeg. Ek daag jou om op hierdie stelling in die openbaar te reageer.

Dankbaar ·

Rome is nie in een dag gebou nie. Iewers moet n begin gemaak word.

Gerrit ·

Die taxi eienaars hoef maar net n onwettige optog na JP se kantoor te hou, en hy sal vinnig van besluit verander.

aj ·

Welgedaan JP Smith en die polisie!

Dissiplineer die roekelose taxi drywers!

Verbied die taxi’s tydelik toegang tot die middestad … totdat hulle gedrag verbeter het!

Peper ·

Wees versigtig asb, een van die dae is die meerderheid van SA agter tralies…
Hulle kan van die staats grond neem en dat ‘n merske tronk daarop bou en hulle leer om te boer… Dan hoef die van ons wat werklik ‘n verskil wil maak en vreedsaam lewe nie nog vir hulle te sorg nie…

Linda J ·

Baie dankie vir die harde werk. Sal julle asb ook die werk hier in Pretoria in Malherbe straat kom doen. Ons waag ons lewe gedurende spiits verkeer daar. 1 Baan beweeg van Oos na Wes en die ander baan beweeg van Wes na Oos. In spits verkeer gebruik die taxis sommer die eenrigting ook om na die Weste toe te beweeg. Baie van die aankomende verkeer van die Weste na die Ooste moet dan heeltemal uitswaai uit die pad vir die Taxibestuurder wat aan die verkeerde kant van die pad ry, mens is in spits verkeer gladnie veilig op daai pad nie.

JohanR ·

Ek het soe gevoel gekry dat die lekkerder is om te ry in die middestad. Daar is 132 minder taxis! Kan julle nie ‘n rede op maak, op al die vuilegoed heeltemal te verwyder nie? Die bestuurder is lelik, die taxi se kleur is verkeerd, taxi ry te stadig, te min passasiers en soe aan ens, en ens en ens.

Maria ·

Wetstoepassing = protesoptrede, want taxi’s kan en wil doen net wat hulle wil en jy moet die gehoorsame landsburger wees, wat alles gelate moet aanvaar. MAAR waag nou net om om dalk vuur met vuur te beveg en net so blatant ongeskik te ry, dan is die “ghost squad” op jou met ‘n boete en die taxi ry weg. Tralalalalala

Johann ·

Danie Hierdie optredes word vooraf beplan volgens tendense, natuurlik sal daar nie genoeg beamptes wees om elke liewe straat te beman nie, ek dink jy is baie onredelik met jou uitlatings. Wees bly daar word iets gedoen of het jy jou foon dalk moes oorhandig. Kom kyk hoe gaan dit in Bloemfontein waar geen verkeersdept meer is nie en sê dankie vir wat julle het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.