Talle amptenare van waterwese ‘korrup’

Minister Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS/Flickr

Byna ’n honderd amptenare van die departement van water en sanitasie is vanjaar weens korrupte aktiwiteite afgedank of sonder betaling geskors. Verskeie word tans krimineel aangekla, selfs nadat hulle bedank het.

Dié aankondiging is Woensdagmiddag tydens ’n mediakonferensie gedoen deur die minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Lindiwe Sisulu, wat self in ’n storm gehul is nadat sy verskeie verdagte politieke kontakte aangestel het. Die DA het Dinsdag gedreig om ʼn kriminele klag hieroor teen Sisulu aanhangig te maak.

Sisulu het egter geen sprak gesprook oor die pekel waarin sy haarself bevind nie. Sy het wel veel te sê gehad oor die beweerde en bewese misstappe van ander.

Volgens Sisulu is 97 amptenare van die departement aan korrupsieverwante wangedrag skuldig bevind. Hiervan is sestien afgedank en ander is sonder betaling geskors vir tydperke van tussen 15 dae en twee maande, afhangend van die aard van hul oortreding.

Maroela Media het berig adv. Terry Motau, wat die VBS-skandaal oopgevlek het waarby topleiers van die EFF betrek word, sal korrupsie en ander wangedrag in die departement van waterwese en sanitasie ondersoek en oortreders aan die man bring.

Die Vaalrivier voorsien die helfte van Gauteng se water, maar raak toenemend gevaarlik weens besoedeling Foto: Facebook

Intussen is twee van die land se waterrade, naamlik die Amatola-waterraad in Oos-Londen en die Lepelle-waterraad in Sekhukhuneland suid van Polokwane in Limpopo, geplaas onder wat die minister as “bestuursfokus” beskryf.

Niemand het verduidelik wat die nuwe term “bestuursfokus” beteken nie.

Voorts het die departement begin om watertenks te installeer by byna 3 000 skole wat nie toegang tot water het nie. Dit is ’n uitvloeisel van die program om skole gereed te kry om teen Junie weer leerders in te neem.

Laastens het Sisulu nogmaals vermeld dat die besoedelingsprobleem met lekkende riool by 44 pompstasies in die Vaalrivier naby Vereeniging opgelos is. Die grootste watersuiweringswerke in die land gaan na verwagting nou daar gebou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Burgermeester ·

Daai tannie moet eers die balk uit haar eie oog gaan haal voordat sy die splinter uit ander se oog wil haal.

Kokerboom ·

Die Geagte lid van die Parlement lewe op haar eie planeet en is onaantasbaar. Laat die gereg sy gang gaan…in AL die staatsdepartemente insluitend ministers. “ITS TIME!!!!”

Boortor ·

Nee wat. Jy kan maar praat soos jy wil en se wat jy wil maar ek vertrou jou nie in die minste nie. As sy haar mond oopmaak is dit net lieg lieg lieg. Ek het groot geword met jakkalse maar hulle sal skaam kry as hulle haar hoor! Miskien moet sy eerder stilbly of dalk probeer sing. Dit sal beter klink as haar gekwetter!

Cherokee ·

Sy het Woensdagmiddag daarvan vertel tydens ‘n mediakonferensie ‘Sy het egter geen sprak gesprook (of geen woord gesprak) tydens die konferensie, oor die ‘pekel’ waarin sy haarself bevind. So sê die skrywer van die artikel. En die leser daarvan sê dat dit die eerste keer is wat gelees word dat sy in ‘n pekel is daaroor, wat daarop volgens die vraag ooplaat hoe sterk pekel in hierdie land is, waar Zuma vir jare verbete veg om tog ‘sy dag in die hof’ te kry, en selfs die staat kan geskaak word, want die pekel is te flou om byt te veroorsaak. Nie eens een joernalis (blyk dit) het haar uitgevra oor haar eie pekel nie. As net een dit sou gedoen het, kon dit vir die nuuswaarde van hierdie leesstuk baie beteken het.

Kanjynoumeer ·

Ek kan net weer vra, vir beter insig lees asseblief DIE PAD NA SELFBESTUUR Anderkant die mislukking van staatsbestuur wat geskryf is deur FLIP BUYS. Die boek kan bestel word by Kraal Uitgewers. Elke gedeelte van die boek pas soos n legkaart inmekaar.

PieterP ·

Haai werklik, wie sou kon raai. Ek is seker hulle sit die mense op net om aandag af te trek van ander kwessies

JM ·

Korrupsie, diefstal, leuens, noem maar op, is endemies in hierdie land en het in 26 jaar al meer skade aangerig as wat Covid-19 kan hoop om te doen.

Alida ·

Vervolg dan die korruptes en stop hulle in die tronk. Daar is mos nou 19000 plekke oop.

marius ·

Nooit ! Wat ‘n skok moet dit nie vir haar wees nie . Al die ander departemente is seker dood eerlik ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.