Talle appèlsake teen skoolplasings in Gauteng sloer nog

Argieffoto

Nagenoeg 2 020 amptelike besware is aangeteken teen plasings in Gautengse skole en die DA sê dié kwessie moet as ʼn saak van dringendheid afgehandel word.

Skole heropen Woensdag.

“Daar is honderde ouers van graad 1- en graad 8-leerders wat by die departement appèl aangeteken het teen hul kinders se plasings by skole in die 2020-skooljaar, maar hulle het tot dusver nog geen terugvoer van die departement gekry nie,” het Khuma Ramulifho, die DA se woordvoerder oor onderwys in Gauteng, gesê.

Volgens die DA het die LUR vir onderwys in die provinsie, Panyaza Lesufi, in Desember gesê die appèlsake sal binne 21 dae afgehandel word. Dit het nie gebeur nie en meer as 2 000 leerders wag nog vir uitsluitsel.

“Die stadige pas waarteen die departement die appèlsake hanteer, is uiters frustrerend vir ouers wat nog steeds nie weet of hul kinders vir die 2020- akademiese jaar ingeskryf gaan wees nie,” het Ramulifho gesê.

“Die meeste ouers wat geappelleer het, het nog nie eens begin om hul kinders voor te berei vir die heropening van skole op 15 Januarie nie. Hulle weet bloot nie waar hul kinders geplaas gaan word nie.”

Die DA het Lesufi gevra om onophoudelik te werk om te verseker die sake word afgehandel voor die skole heropen sodat ouers skoolklere kan aanskaf en hul begrotings vir skoolvervoer kan finaliseer.

“Ons kan nie ʼn situasie duld waar sommige leerders nie soos die res van hul maats op die eerste skooldag met die akademiese jaar begin omdat daar vertragings met die appèlproses was nie.”

Die DA het onderneem om die proses fyn dop te hou om te verseker alle leerders is in die klas wanneer die eerste skooldag aanbreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Judge Dredd ·

Lesufi sal binnekort laat weet watter Afrikaanse skole geteiken/geforseer sal word om anderstaliges in te neem.

Phil ·

Ek ek kan met my 20/20 visie sien hier kom n probleem in 2020 met die 2020 besware

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.