Talle babas reeds dié maand by Door of Hope gelaat

Minstens 11 babas is die afgelope maand by die organisasie Door of Hope gelaat. (Foto: Facebook)

Die organisasie Door of Hope in Johannesburg het sedert die begin van die maand reeds 11 babas ingekry wat wissel van pasgebore tot ʼn paar maande oud.

Nadene Grabham, bedryfsdirekteur van Door of Hope, sê talle ma’s is desperaat en wend hulle tot die organisasie om ʼn veilige hawe vir hul kinders te bied.

Augustus en September is tradisioneel besige maande vir Door of Hope, wanneer onbeplande swangerskappe oor Kersfees en Nuwejaar tot die geboorte van talle babas lei. Oor Kersfees en Nuwejaar is dit dikwels ook besiger as gewoonlik en die polisie bring gereeld babas wat in dié tyd verlate agtergelaat is na die sentrum.

“In hierdie stadium voel dit so ʼn bietjie asof dit babas reën,” sê Grabham.

Dit is nou ook dié tyd van die jaar wanneer aannemings nie sommer afgehandel word nie en die organisasie is altyd bekommerd daaroor of hy genoeg ruimte gaan hê om al die babas te hanteer.

Talle redes dra by tot ma’s se besluit om ʼn baba iewers te laat, sê Grabham. Dit sluit in werkloosheid, armoede, onbeplande swangerskappe en in talle gevalle verkragting.

“Die grootste oorsake is armoede en verkragting.”

Die organisasie het ook ʼn sogenaamde Baby Saver, ʼn stelsel wat gebruik word sodat ʼn baba veilig – maar anoniem – by ʼn sentrum gelaat kan word. Op hierdie manier is die ma glad nie by die res van die wetlike proses betrokke nie en die sentrum hanteer alles van die geboorteregistrasie tot ʼn moontlike aanneming.

Dit is egter onwettig vir ʼn ma om haar baba op dié manier op te gee – al is dit veilig – en Grabham sê hulle het reeds voorleggings hieroor aan die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling gedoen.

“Ons sê daar is ʼn veilige manier en ʼn onveilige manier – en dit is iets waarvoor ons baie hard baklei.”

Door of Hope vra onder meer dat die wetgewing verander sodat ʼn ma wat van ʼn Baby Saver gebruik maak nié van kinderverlating aangekla kan word nie. Ma’s wat hul babas egter op onveilige maniere verlaat, moet steeds aangekla kan word.

Nog twee babas wat die afgelope week by die organisasie ingeneem is. (Foto: Door of Hope/Facebook)

Grabham sê sedert die organisasie in April verlede jaar begin rekord hou het van mediaberigte oor babas wat verlate agtergelaat is, het hulle reeds 190 sulke berigte opgespoor. Uit dié babas is 114 dood aangetref.

“Dít is hoekom Baby Savers gewettig moet word.”

Grabham sê talle ma’s wat aanvanklik oorweeg het om net die Baby Saver te gebruik en weg te stap, het danksy die stelsel eerder die organisasie se deurklokkie gelui en ingekom vir hulp.

“As ma’s aan ons deur kom klop, neem ons nie net die baba weg nie. Ons gesels en probeer vasstel of dit hul finale besluit is en indien ons kan, help ons met items soos doeke, kos en klere.

“Dit is geweldig hartseer as ʼn ma haar kind moet opgee net omdat sy nie kos vir die baba het nie.

“Aanneming behoort die laaste opsie te wees – veral as dit is omdat jy nie ʼn kind kan kosgee of klere kan aantrek nie.”

Die meeste kinders kom van hospitale – omdat hul ma’s hulle daar agtergelaat of omdat die polisie of paramedici die babas daarheen geneem het – gevolg deur die polisie wat kinders daar plaas, die Baby Saver-stelsel en laastens ma’s wat self inkom om hul babas op te gee.

“Baie ma’s is geweldig desperaat,” sê Grabham.

Die Covid-19-pandemie en stygende werkloosheidkoerse dra boonop tot dié desperaatheid by.

Op Door of Hope se Kersfeeswenslysie:

  • lapdoeke, kombersies (receiving blankets), eenstukke vir babas (0 tot 2 jaar oud), en doeke in groottes 3, 4 en 5;
  • Nan Optipro 1 en 2, babapap, Purity, ProNutro, Jungle Oats, macaroni en geblikte tuna; en
  • outomatiese wasmasjienseep, asbliksakke, skottelgoedseep, veeldoelige skoonmaker en DisChem-koopbewyse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.