Talle bejaardes beseer tydens skietery by Pta-winkelsentrum

Argieffoto

Argieffoto

Talle mense, meestal bejaarde omstanders, is Woensdagoggend beseer nadat ʼn skietery by ʼn winkelsentrum noord van Pretoria uitgebreek het.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die omstanders was meestal bejaardes wat by die Soshanguve-winkelsentrum was om hul maandelikse pensioen te gaan haal.

ʼn Groep van nagenoeg 10 rowers het omstreeks 06:00 op veiligheidwagte van Fidelity losgebrand toe hulle geld na ʼn pensioenbetaalpunt by die winkelsentrum geneem het. “Die verdagtes het lukraak geskiet en kon daarin slaag om ʼn boks met ʼn onbekende hoeveelheid geld in te buit,” het Dlamini gesê.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is saam met die polisie na die winkelsentrum ontbied.

Hy het gesê die skietery het glo in die parkeergebied van die winkelsentrum uitgebreek.

“Nege bejaardes, twee mans en sewe vroue, en twee veiligheidswag het geringe tot matige beserings opgedoen,” het Meiring aan Maroela Media gesê. “Die meeste beserings was aan die slagoffers se bene en heupe weens opslagkoeëls wat hulle getref het.”

Die beseerdes is na omliggende hospitale geneem vir verdere behandeling.

Dlamini het gesê ʼn volskaalse soektog is van stapel gestuur na die verdagtes. “Hulle het ʼn swart BWM op die toneel agtergelaat en met onbekende voertuie en ʼn onbekende hoeveelheid kontant van die toneel gevlug.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dave ·

Phillip, miskien sou steel beter klink as die sagter woord ’buit’.

Peet Schabort ·

100% Dave maar dan eerder om menseregte nie aan te tas moet dit lees ” . . . geld in GLO te steel”. Onthou hul is nog onskuldig tot skuld eers bewys is.
Hoe lyk dit met “jy mag nie buit nie”. ? Aardig né.

Dave ·

Soos jy sê Peet, onskuldig tot skuldig bewys is. (waar pas vrygelaat asgv gebrek aan bewyse, in?) Die berigskrywers sorg gereeld vir ‘n glimlag wanneer hulle bv sê ‘die verdagte het hom geskiet’. Nie na bewering nie maar die verdagte het hom regtig geblaas, (maar is steeds ‘n verdagte).

Han ·

Dit lyk asof sommige van die kommentators net daarop uit is om venynig op die ander te wees! Liewe hemel mense, of dit nou ’buit’ of ‘stee’l is, dit gaan niks aan die voorval verander nie! Die opmerkings grens aan kinderagtigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.