Talle bejaardes voel ‘geboelie’ deur afsonderingsmaatreëls

Argieffoto: Pixabay

Talle bejaardes wat tydens die Covid-19-inperkingstyd nie toegelaat word om hul ouetehuise of aftreeoorde te verlaat nie, leef onder uiters moeilike omstandighede.

Om veiligheidsredes word bejaardes nie toegelaat om familie en vriende te besoek nie en in die meeste gevalle laat aftreeoorde ook geen besoekers van buite toe nie. Ongelukkig leen dié maatreëls hulle daartoe dat die miskenning van bejaardes se regte algemeen voorkom.

“My ma is in ’n ouetehuis in Stellenbosch en sedert die begin van die inperkingstyd word geen van die inwoners toegelaat om besoekers te ontvang nie. Sy het ’n klein mediese probleem ontwikkel en is deur die tehuis se bestuur gedwing om hospitaal toe te gaan vir behandeling. Haar aanvanklike Covid-toets was negatief.

“Toe sy egter ’n week later na die ouetehuis teruggekeer het, is sy vir twee weke in kwarantyn geplaas, sonder dat daar enigsins met ons as familie gekonsulteer is,” vertel ’n man van Somerset-Wes oor die omstandighede waarin sy ma tans in die ouetehuis versorg word.

“Sy kon vir twee weke nie haar kamer verlaat nie en is nie toegelaat om haar klere in die gemeenskaplike wasmasjien te was nie. Sy is in ’n verswakte toestand en sukkel om hieraan gewoond te raak – sonder enige bystand van die tehuis se bestuur.

“Daar is geen kommunikasie vanaf die tehuis na ons wat van buite na haar moet omsien nie. Een van die werkers by die ouetehuis het vertel dat baie van die bejaardes depressief is omdat hulle nie verstaan hoekom hul kinders hulle nie meer so gereeld besoek nie en sommige het selfs opgehou om te eet.

bejaarde-hande-kierrie

Foto: Stevepb/Pixabay.com

“Ons het herhaaldelik probeer om my ma te siene te kry, maar dit is weens die regering se Covid-regulasies geweier. Intussen kom en gaan die werknemers van die ouetehuis, kombuispersoneel, tuiniers en kokke elke dag soos hulle wil en het steeds gereelde interaksie met die bejaardes.”

’n Inwoner van ’n ouetehuis in Pretoria het vertel dat sy weens ’n tandabses dringend ’n mond- en kaakspesialis moes gaan spreek.

“Ek is 68 jaar oud, ontvang ’n staatspensioen en het geen ernstige chroniese siektes nie, het ’n redelike goeie gesondheid en bly fiks. Soos dit maar gaan by dokters, is dit moeilik om ’n afspraak by ’n spesialis te kry en ek het die bestuur ’n week voor die afspraak in kennis gestel dat ek die afspraak by ’n staatskliniek gekry het.

“Toe ek die dag die afspraak moes gaan nakom, het die bestuur geweier dat ek mag gaan. Hulle wou my vir twee dae lank nie toelaat om vir die dringende behandeling te gaan nie. Die bestuurder van ons huis (daar is twee op hierdie perseel) wou niks weet nie.

“Ek het my toe tot die hoofbestuurder gewend, wat ná ’n tyd ingestem het dat ek die tandspesialis kan gaan besoek. Ek voel ons word sonder rede deur hierdie bestuurder geboelie en die lewe vir ons nóg moeiliker gemaak. Hier is nog geen Covid-gevalle by ons nie.

“Die betrokke bestuurder het pas teruggekeer van verlof en is nie onder kwartyn of afsondering geplaas nie – hoekom mag ons dan nie eens dringende mediese behandeling buite die tehuis ontvang nie? Wat vir die een geld, moet vir almal geld,” het die vrou vertel.

Argieffoto

“Ek was baie siek en getraumatiseer teen daardie tyd. Die besef dat hulle ons toegang tot gespesialiseerde mediese hulp kan weier, maak my bang en angstig. Dit kan ons dood veroorsaak. Die ergste is dat daar ander inwoners hier is wat soortgelyke ervarings gehad het. Dis tyd dat hier ingegryp word om ons bejaardes teen sulke behandeling te beskerm.

“Hier is geen dokters of verpleegsters of mediese hulp in die ouetehuis waar ek woon nie. Ons is aan ons eie lot oorgelaat. Dit is onaanvaarbaar vir my en strydig met my regte in die Grondwet, asook met die Covid-regulasies wat uitgevaardig is. Maar my hande is afgekap – iemand moet ons nou help,” was die vrou se pleidooi.

Benette Welman, projekorganiseerder vir bejaardes van Solidariteit Helpende Hand het bevestig dat baie bejaardes tans swaarkry en soms nie reg hanteer word nie.

“Die emosionele stand van die bejaardes is kommerwekkend en die afsondering waarin hulle leef, maak dinge baie moeilik. Ons kry die laaste tyd meer klagtes van bejaardes wat veral kla oor personeel wat skynbaar kom en gaan soos hulle wil, maar hulle mag nie eens winkel toe gaan nie.

“Die bestuur van ouetehuise is baie moeilik en ons glo die besture doen so goed hulle kan, veral omdat riglyne soms wissel en almal nie presies weet hoe om op te tree nie. Maar dat daar gevalle is wat nie reg hanteer word nie, is gewis,” het sy gesê.

Christia Potgieter, hoof van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike dienste, het dit bevestig en gesê baie bestuurskomitees van ouetehuise volg verskillende reëls en regulasies, maar dat hulle besig is om die saak te ondersoek.

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

“Ons is tans besig met navorsing oor die klagtes van bejaardes in tehuise en aftreeoorde en sal daarvolgens riglyne probeer saamstel. Daar is klagtes, maar nie soveel dat dit as ’n algemene tendens beskryf kan word nie. Die welstand van die bejaardes is egter wel ’n groot bekommernis in hierdie tyd,” het sy gesê.

Volgens Annemarie Bezuidenhout, woordvoerder van Badisa, bestuur die organisasie 47 tehuise vir bejaardes landwyd met altesaam 4 800 inwoners wat daar geregistreer is. Meer as 50% van hierdie inwoners ontvang staatspensioene.

“Ons bestuurspan ontwikkel strategie, beleid, riglyne en prosedures vir tehuise en verskaf opleiding en bestuursadvies. Verder word monitering van standaarde gedoen om te verseker dat alle wetlike en versorgingsvereistes nagekom word.

“Met die uitbreek van die pandemie, is besluitneming in hierdie verband gesentraliseer as gevolg van die onbekende dinamika van die virus, sowel as om eenvormige en konsekwente toepassing van ons Covid-19-beleid te verseker. Uitgebreide protokolle en riglyne vir voorkoming en hantering in die geval van infeksies is uitgereik, personeel is toepaslik opgelei, en verfynde kommunikasieriglyne en -strukture is ingestel. Ons word daagliks ingelig oor sowel die stand van infeksies as uitdagende kwessies by elkeen van die fasiliteite. Dit stel ons, onder meer, in staat om tendense te identifiseer, hulp te verleen wat betref geïndividualiseerde response, en om ondersteunend te kan optree,” sê sy.

gesondheid-loopraam-bejaarde-siek

(Foto: Rawpixel/Unsplash.com)

By die 47 Badisa-geregistreerde ouetehuise, is daar tans 4 800 inwoners en 35 positiewe Covid-19-gevalle.

“Van die 35 is ses in die hospitaal, maar geen van hierdie persone is kritiek nie. Ons het sedert die uitbreek van die pandemie 13 sterftes weens Covid-19 gehad.

“Ons laat inwoners wel toe om na hospitale en eie dokters te gaan, onder gekontroleerde omstandighede. Met hul terugkeer word hulle vir 14 dae in isolasie geplaas. Slegs ’n versorgingsdiens word deur ons verpleegpersoneel aangebied, maar nie ’n volledige mediese diens nie.

“Badisa het ’n omvattende stel riglyne en protokolle ingestel om, so ver moontlik, infeksies te voorkom. Personeel is hierin opgelei en daar is ’n senior verpleegkundige wat deurlopend en onmiddellik beskikbaar is om onsekerhede en uitdagende situasies te hanteer. Die riglyne en protokolle word streng toegepas.

“Inwoners by ons tehuise mag nie die perseel verlaat nie, behalwe weens mediese redes en besoeke van familie en vriende binne die tehuise word nie toegelaat nie omdat dit teen die huidige inperkingsregulasies is en ook die infeksiemoontlikheid sal verhoog.

“Ons skep wel by van ons tehuise geleenthede vir familie en kinders om binne afstand van sig en gehoor hul geliefdes te sien en met hulle te praat om vereensaming te voorkom. Dit is nie orals moontlik nie en hang af van die opset by elke tehuis,” het Bezuidenhout gesê.

Argieffoto: Pixabay

Gerhard van der Merwe, bestuurder van die Oude Westhof-aftreeoord in Bellville in die Wes-Kaap, glo bejaardes is broos en deur almal in die wêreld van hulle weg te hou, help nie juis die geestesgesondheid van bejaardes nie.

“Ons raad van trustees het, ter wille van die inwoners se huishoudelike en ander noodsaaklike aspekte, nou vir die eerste keer toegelaat dat inwoners deur kinders (beperk tot twee) een besoek per week, mag ontvang. Hierdie besoeke is onderworpe aan streng maatreëls.

“Daar is 256 inwoners in die oord en 22 in die sorgsentrum. Tot op datum was daar 24 inwoners wat positief getoets het, en 14 werknemers met 14 sterfgevalle in die sorgsentrum. Die sorgsentrum is pas deur ’n eerste vlaag van infeksies, maar sedertdien is geen verdere infeksies gerapporteer nie.

“Ons bestuursrol is om op ’n professionele manier die inwoners vir die pandemie voor te berei. Inligtingsgeleenthede en skrywes is van die begin vir inwoners gereël en gesirkuleer. Die sorgsentrum se personeel het van die begin die nodige PPE’s volgens die departement van gesondheid gedra.

“Daar is wel ’n dokter wat bereid was om inwoners wat moontlik geïnfekteer was, te ondersoek en te laat toets. Inwoners kan ook steeds hul eie dokters sien. Ander dokters is ook welkom om pasiënte in die oord te besoek. Ons volg egter die protokol van die departement van gesondheid baie streng,” het Van der Merwe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

As alles “TE” gedoen word en oordrewe is kan dit fisies en psigies meer skade berokken. Dit skyn die geval te wees in baie van die versorgingsoorde. Kennis, empatie,realisme en simpatie ontbreek in baie gevalle.

Mieke ·

Ek bekommer my baie oor my 94 jarige moeder… ek weet nie of ek haar nog ooit weer gaan kan sien. Dis vir my baie hartseer. Ek moet maar aanvaar dat dit “goed” gaan wanneer ek bel. Ek dink die ouetehuise mag gerus die familie toelaat!! As die werkers mag inkom – dan is daar seersekerlik nog plek vir ‘n familielid?

Nici ·

As ‘n inwoner dokter toe gaan moet hul vir 14 dae in isolasie wees!?! Belaglik! Is die werkers konstant in isolasie of gaan hulle huistoe, winkel toe en dokter toe? Ek glo meeste ou mense sal eerder die risiko van Covid loop as om so te lewe soos prisoniers. Baie wreed en swak van hierdie ouetehuise.

Jacobus ·

Kokerboom die té pas so reg in die ANC kraal. Verneder, ontmenslik en vernietig is duidelik sentraal tot die beleid. Die toesluit mentaliteit van bestuur maak hulle werk maklik en word hulle deel van die statistiek dophouers.
Solidariteit moet maar saam met Afriforum met dringendheid sensus van die eenhede doen en optree – met dringendheid.

Andréas ·

Dankie aan almal betrokke met die versorging van geliefde familielede onder soms moeilike en onredelike omstandighede. Wat ek egter wil weet, waar kom dié infeksies vandaan? Meeste tehuise vir bejaardes is reeds voor die amptelike grendetyd gesluit vir alle beweging/besoeke. Kan daar met sekerheid aanvaar word dat hul vanaf staf en werkers aansteek of net as hul Dr’s of hospitale moet besoek? Word hierdie krities aangespreek en oor verslag gedoen? Ek stem dat hul gevolglik dus ook veilig besoekers moet ontvang en beweging/ oefening toegelaat word aangesien dit blyk die risiko dan nie groter
word…

Carina ·

My skoonpa van 82 is in die siekeboeg afdeling van ‘n groot aftreeoord in Brackenfell. Hulle is al van middel Maart op “lockdown”. Hy is die enigste een in die siekeboeg wat verstandelik niks makeer nie, so vir hom is dit bitter erg om geen familie te mag sien nie, en daar’s niemand om mee te gesels nie, want al die ander pasiënte is verswak en weet nie wat om hulle aangaan nie. Verlede week bel hy my in ‘n toestand. Hy kan nie slaap nie, lê al vir 4 nagte en dae wakker. Dokters het sommer besluit om sy slaappille weg te vat. Hy kan nie meer sien nie a.g.v. diabetes, en dit het die afgelope 3mnde so erg geraak dat hy nou gevoer moet word, want hy kan nie sien om te eet nie. Hy begin skielik goed vergeet, en dis nie my pa nie. Hy het n geheue soos ‘n olifant.
Hierdie onregmatige inperking is besig om ons ouers van hul verstand te dryf. Soos dit nou aangaan weet ek nie of hy nog gaan lewe teen die tyd wat hulle besoekers mag kry nie. Wanneer gaan dit ophou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.