Talle beseer ná swaar reënval in Durban

Paramedici op die toneel waar die vragmotor in ‘n ongeluk was. Foto: Rescue Care

Nooddienste van Durban moes Vrydag bontstaan nadat talle mense in verskeie ongelukke in nat weerstoestande beseer is.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care Paramedics, het gesê paramedici het Vrydag op verskeie ongelukke oor die hele stad reageer.

In een van die ernstige ongelukke het ʼn swaarvoertuig op die N3-snelweg naby die Mariannhill-tolhek teen ʼn wal af geploeg.

“Die ongeluk het in die baan wat na Durban lei, plaasgevind. Die vragmotor het die pad verlaat en teen ʼn wal af gery. Die bestuurder het matige beserings opgedoen en was in die vragmotor se kajuit vasgekeer,” het Jamieson gesê.

Paramedici het die man behandel terwyl die brandweer en polisie se soek-en-reddingseenheid hom uit die wrak gesny het.

“Die man is daarna deur reddingswerkers met ʼn touestelsel na die padoppervlak gebring waar hy in ʼn ambulans geplaas en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir opvolgbehandeling,” het Jamieson gesê.

Jamieson het ʼn beroep op motoriste gedoen om stadiger te ry in nat weerstoestande. “Laat ʼn veilige volgafstand en ry eerder vroeër om veilige snelhede te handhaaf,” het hy gesê.

Swaar reënval sedert Donderdag het ook chaos in Gauteng veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Na meer as 57 jaar sonder ‘n ongeluk het ek verlede Januarie BMW se gevorderde bestuurskursus gaan doen op Zwartkops. In my tydperk op die pad het ek met alle weerstoestande te doene gehad en ook geskaats deur waterpoele. Ek is met ‘n VWkewer ook deur die Tugelarivier in vloed maar dit met gesonde oordeel gedoen. Daar is ‘n tekort aan bestuursvaardigheid omdat daar nie blootstelling is aan bestuur op grondpaaie. Ons het ‘n ovaalvormige grondpadbaan gehad waarop ons met ons privaat voertuie gejaag het. Sodoende het jy jou voertuig leer ken. Dit is moeiliker om ‘n voorwielaangedrewe kar op die pad te hou as wat meeste mense dink.
Die BMWkursus was net ten goede om weereens te besef hoe maklik jy beheer op hulle waterglybaan kan verloor. Vergeet van jou K53 en gaan vir ‘n bestuurskursus by enige van die motovervaardigers wat dit aanbied. http://www.bmwdrivingexperience.co.za/

Cherokee ·

Peet Schabort, op laerskool het ek geleer van mense kort na (of selfs tydens) Oom Henry Ford se tyd toe 12mpu roekeloos jaag beteken het en die karre gery het met iemand wat met ‘n vlag vooruit geloop het om te waarsku, pasop ‘n kar op pad! Ek dink jou meer as 57 jaar was daardie tyd. My logboek(ke) vertel van motorfiets-ongelukke te veel om te onthou, karongelukke waarvan net die meer ernstiges onthou word (soos toe ek die Saab voor die huis gerol het en dit weer op die wiele beland het en ek toe in die agterste sitplek was en my vrou aan die deur hamer en ek weier om oop te maak want dit is veiliger binne ….. en die ene waar ek 3 weke later wakker geword het in ‘n hospitaal met 100% geheue verlies en nog ander maar die meeste is vergeet want dit was elke keer net ek wat seergekry het) en daar is ook twee vliegtuigongelukke in ‘n ander logboek. en jý Peet Schabort brêg met geen ongelukke in 57 jaar+!
*
*
Peet, ek trek jou been. Ek geniet keer op keer jou skrywes en my enigste kritiek is dat jy te min skryf. Jy moet die res van die naweek geniet en o’ja, voor ek vergeet, bestuur versigtig asseblief!

Peet Schabort ·

Ja Cherokee, ek geniet ook jou gekorswil en reghelp met jou kommentare (of is dit ‘common’-taar?) Daar was ‘n boekie, prys EEN pennie, uitgegee by name ‘Die Padkode van Suid-Afrika’. Dis nou die boekie waarmee ek leer bestuur het. Baie beter is vandag se K53. My 1958 VWkewer het armpies gehad vir regs- of links draai wat dan met ‘n liggie aangekom het. Sou die armpie vassteek vir rega draai dan het jy jou hand by die venster uitgesteek en die armpie ‘gehelp’. Dit het net agter die deurkosyn gesit. Wanneer die koppelaarkabel breek het jy doodeenvoudig op die regte toere (refs) ratte verwissel. Raak jy haastig dan hou jy die voet plat op die petrolpedaal en in een beweging trap jy koppelaar in en stamp die rathefboom oor na die volgende rat. Die ratwisseling was soos ‘n warm mes deur botter. Al flikkerligte daardie jare was vir gevaartekens, verbodtekens en spooroorwegtekens. Daarna kry ek die boekie ‘A Bigger Pig at the Wheel’, The advanced road-hogs guide, en daaruit leer ek toe presies wat om NIE te doen! Uit jou skrywe en ongelukke lei ek af dat jy seker in ‘n rystoel sit . . . ? Dalk ook ‘n weervoorspeller? Jy sukkel ook seker om by die sekuriteit se metaalverklikkers verby te kom? Hoor hier, die laaste sinne is ook sinneloos en ‘n grapmakery. Kom eendag kuier hier naby die wal vd Vaaldam (Vuildam). Bring jou 4×4 want die strate is onrybaar. Groetnis en hou links, regs verby.

Cherokee ·

Dankie Peet vir jou lekker skrywe en uitnodiging. Terloops, ek het nie oordryf maar eerder onderskryf oor ongelukke en behalwe vir ‘n linkerknieskyf wat êrens in die slag gebly het, is ek steeds loopvaardig en fiks:-) Jou beskrywing van jou bestuursgeskiedenis is tipies Peet Schabort skryf, ‘n heerlike lekker lees. Soos ek voorgestel het, skryf meer gereeld. Tot ons weer van jou hoor, groetnis vanuit Durbs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.