Minstens 53 mense is Woensdag in die vroeë oggendure beseer tydens ʼn ongeluk tussen twee busse op die N3 naby Ladysmith in KwaZulu-Natal.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die mense het tussen matige en kritieke beserings opgedoen nadat een bus die ander bus van agter getref het.
“Die snelweg moes vir ʼn geruime tyd vir verkeer gesluit word sodat paramedici in ʼn veilige omgewing die beseerdes kon behandel,” het Meiring gesê. “Twee mense het kritieke beserings opgedoen. Al die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale, waaronder die Ladysmith-hospitaal, geneem vir verdere behandeling en waarneming.”
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.