Talle beseer toe polisie, stakers bots

Sibanye-Stillwater sê etlike van sy werkers is beseer, van wie een kritiek, ná gewelddadige optrede deur groepe stakende Amcu-lede naby sy Beatrixmyn in die Noord-Vrystaat.

“Dit spyt Sibanye-Stillwater om te moet sê die gewelddadige optrede deur groepe Amcu-lede in die omgewing van die Beatrixmyn duur voort,” het die mynmaatskappy Dinsdagmiddag gesê.

Talle werkers ontvang mediese behandeling.

“In die vroeë oggendure van 11 Desember was daar talle botsings tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens en groot groepe Amcu-lede wat daartoe gelei het dat etlike werknemers beseer is. Talle werkers ontvang mediese behandeling, van wie een ongelukkig in ʼn kritieke toestand is.”

Die maatskappy sê die voorvalle het buite die afgebakende betooglinie plaasgevind, ʼn duidelike oortreding van die hofbevel wat die maatskappy by die arbeidshof gekry het asook die betogingsreëls wat verlede maand deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie neergelê is.

Drie weke gelede het sowat 15 000 werkers wat by Amcu geaffilieer is met ʼn staking by Sibanye se Suid-Afrikaanse goudbedrywighede begin nadat hulle ʼn loonooreenkoms oor drie jaar verwerp het waartoe drie ander vakbonde ingestem het. Hulle eis ʼn aanpassing van R1 000 per jaar oor drie jaar, terwyl die ander vakbonde R700 in die eerste twee en R825 in die derde jaar aanvaar het.

Die ooreenkoms met die ander vakbonde is ver bokant die inflasiekoers.

Maar die maatskappy sê die huidige ooreenkoms wat hulle met die Nasionale Unie van Mynwerkers, Solidariteit en UASA bereik het, is ver bokant die inflasiekoers en bring die maandelikse pakket van intreevlakwerknemers op meer as R16 500 in die derde jaar te staan.

Volgens Sibanye bly die situasie by veral die Beatrixmyn gespanne terwyl stakers steeds niestakende werkers intimideer, eiendom beskadig en toegang tot die maatskappy se mynpersele bemoeilik.

Die bestuur het ʼn beroep op Amcu-leiers gedoen om verantwoordelikheid vir hul lede se gedrag en veiligheid te aanvaar deur te verseker dat hulle betogingsreëls gehoorsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jacques ·

Dit spyt my om te se dat hulle nogsteeds nie kan sien dat hulle tweede kom nie .
Op die einde van die dag verllor hulle nog hulle werk ook want dan is daar nie meer geld om hulle te betaal nie .Die storie van die nuwe sa hool .

Al ·

Dis tyd dat die ANC regering ophou slaphandjies sit terwyl anargiste en kriminele mense se lewens in gevaar stel en eiendom beskadig.
Glo die regering werklik geld groei aan bome wanneer eiendom beskadig word?

Werner ·

Dit spyt my dat die mense van SA nie kan sien dat daar n Arab Spring situasie in SA besig is om te ontwikkel as na al die geweldadige betogings gekyk word nie hierdie gaan net erger word dink julle die ou van BLF maak verniet sulke mooi beloftes

Chris Ws ·

Die unies se “tande” sal getrek MOET word om die land se ekonomie te red.En stakers wat neergelegde reels oortree moet tronk toe en afgedank word.Hier is ‘n oor aanbod van arbeid in ons land.

Thinus Erasmus ·

So demonstreer hulle die SA demokrasie in aksie, met die knopkiere en assegaai (die AK bietjie weggesteek) bottel en vlam – die Marikana vastrap!
Pwiet pwiet yelly yelly yelly ons brand jou nou…………….

christa ·

die unies word ryk uit die arme werkers en is net moeilikheid makers. Kan die werkers nie vir hulle self dink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.