Nooddienswerkers is steeds op ʼn toneel in Meyersdal, Alberton in Gauteng waar ʼn gebou Maandagoggend ineengestort het.
Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het aan Maroela Media gesê dit is in die stadium nog nie bekend hoeveel mense beseer is nie. “Ons het reeds van die mense na nabygeleë hospitale geneem, en daar is mense met kritieke beserings wat nog op die toneel behandel word,” het Steinmann gesê.
Sy het gesê die moontlikheid bestaan ook dat daar mense in die puin vasgekeer is. Sy kan nog nie enige getalle bevestig nie.
Na wat verneem word, is die gebou ʼn huis waar daar konstruksiewerk gedoen word. Vier mense is dood en sewe is beseer.
Luyanda Majija, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê daar is mense dood, en hulle is vermoedelik konstruksiewerkers. “Die gebou het omstreeks 11:00 ineengestort. Ons kan in die stadium nie getalle bevestig nie, en sal later meer besonderhede bekend maak,” het Majija aan Maroela Media gesê.
Dit is nog nie duidelik wat die ineenstorting veroorsaak het nie.