Talle brandbestryders ontplooi toe stortingsterrein brand

Die brand het in ‘n stortingsterrein in Pietermaritzburg uitgebreek (Foto: Burkhard Schlosser, ANA)

Die minister van omgewing, bosbou en visserye, Barbara Creecy, het Woensdag die span brandbestryders geloof wat onvermoeid gewerk het om die brand te blus wat verlede Maandag (20 Julie) by ʼn stortingsterrein in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, uitgebreek het. Die terrein is op die New England-pad.

Altesaam 78 brandbestryders en bestuurslede van die departement se Working on Fire (WoF)-program in KwaZulu-Natal, asook tien brandbestrydingsvoertuie, is Dinsdag (21 Julie) ontplooi om die brand onder beheer te bring.

Die WoF-span het saam met die provinsiale sentrum vir brandbeskermingsverenigings en rampbestuur, die Msunduzi-brandweer, Umgungundlovu-distriksbrandbeheer en die eThekwini Metro-brandweer gespook om die brand onder beheer te bring.

“Ek wil graag die brandbestryders prys vir hul toewyding en harde werk om seker te maak die brand word geblus,” het Creecy Woensdag gesê.

Die Msunduzi-munisipaliteit se eenheid vir omgewingsgesondheid het verlede Dinsdag die mense wat naby aan die perseel woon en sukkel met hul gesondheid, gewaarsku om hul huise te ontruim. ‘n Deel van die N3-snelweg, digby die New England-pad, is Vrydag gesluit weens dik rookwolke wat toe nog oor die snelweg gehang het.

Dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie.

Volgens Creecy het die onlangse koue weer reg oor die provinsie saam met droë plantegroei en sterk winde die ideale toestande vir brandverspreiding geskep. Sy het ’n beroep op lede van die gemeenskap gedoen om waaksaam te wees wanneer hulle enige vure aansteek.

“Alhoewel ons spanne gereed is om brande te bestry, vertrou ons daarop dat lede van die gemeenskap verantwoordelik sal wees met die aansteek van vure en om so gou moontlik enige brande by die owerhede aan te meld,” sê Creecy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Miskruier

Regtig? ons stortingsterrein brand ten minste een keer n maand en steek niks af by die rookkolom op bygaande foto. Modimolle Limpopo