Talle bring hulde aan ‘die troepe se generaal’

Jannie Geldenhuys. Foto: Reint Dykema

“Genl. Jannie Geldenhuys was as generaal in die ou Suid-Afrikaanse weermag ʼn persoon wat respek afgedwing het, nie net by gewone troepe en manskappe nie, maar ook by sy teenstanders.”

Só bring dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, hulde aan die ontslape oudhoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, wat Maandagoggend vroeg in ʼn versorgingsoord in George sy stryd teen Alzheimer se siekte verloor het. Hy was 83 jaar oud.

Groenewald sê Geldenhuys was “ʼn uitsonderlike soldaat wat nie net die militêre aspek van oorlogvoering gesien het nie, maar ook die politieke en menslike aspek daarvan”.

Hy sê die boeke wat Geldenhuys oor oorlogvoering geskryf het, is ʼn nalatenskap wat altyd onthou sal word. Ook onder soldate van destyds sal sy nagedagtenis voortleef, sê Groenewald. “Hy was veral gelief onder sy troepe waar hy bekendheid verwerf het dat hy nie gehuiwer het om meermale in doodsgevaar van voor te lei nie. Vandaar ook sy bynaam, ‘Die Troepe se Generaal’.”

Op Facebook het huldeblyke ingestroom. Lynette Fourie Botes beskryf Geldenhuys as “ʼn ware gentleman”, terwyl Connie Breedt hom beskryf as “ʼn yster en mens-mens”. Madelyn Stoltz onthou hom as ʼn man met integriteit en Helga van der Merwe, wie se pa onder hom gewerk het, sê hy het altyd met lof van Geldenhuys gepraat.

“An officer and a gentleman,” is hoe Pieter M. Fouché vir Geldenhuys onthou. “ʼn Nederige en opregte mens-mens sonder fieterjasies.”

“Groot eer gewees om saam met die leier te kon baklei,” skryf Dawie Spohr, wat sê dat hy uitsien na hul herontmoeting. “Ons sal weer eendag saam in die veld middagete eet, Generaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

RIV, Generaal.

Daar sal seker baie liberaliste wees wat u na u dood verguis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.