Talle bring hulde ná SA ‘musieklegende’ sterf

Jabulani Tsambo, beter bekend as Hip Hop Pantsula of HHP, het gesterf. Foto: Twitter

Jabulani Tsambo, die Suid-Afrikaanse hip-hop-ster, beter bekend as Hip Hop Pantsula of HHP, het gesterf. Hy was 38 jaar oud.

Tsambo se vrou, Lerato Sengadi, het sy dood Woensdag aan TshisaLIVE bevestig. Ondanks talle mediaberigte oor die vermaaklikheidster se dood, is die oorsaak van sy dood nog nie bevestig nie. Dit is egter wyd bekend dat hy ʼn depressielyer was.

Solly Malatsi, nasionale woordvoerder van die DA, het in ʼn verklaring gesê Tsambo was ʼn Suid-Afrikaanse musieklegende. “Hy was een van die kragtigste pioniers van Mzansi‑hip-hop en ‑kletsrym in volkstaal,” het Malatsi gesê.

“Van treffers soos Harambe tot Bosso Ke Mang, was HHP ʼn kunstenaar wat sy stem gebruik het in die stryd teen ongeregtigheid, om ons diversiteit as ʼn nasie te vier en om ʼn klankbaan van hoop vir miljoene jongmense oor ons land te skep.”

Malatsi het gesê Tsambo se dood sal ʼn ewige leemte laat, maar sy musiek sal altyd sy nalatenskap bly.

Jabulani Tsambo, beter bekend as Hip Hop Pantsula of HHP, in aksie op die verhoog. Foto: Facebook

Ook op sosiale media het die huldeblyke ingestroom. Die ANC het gesê Tsambo het ʼn onmisbare bydrae tot die Suid-Afrikaanse kuns- en kultuurbedryf gelewer en die land is armer sonder hom.

Die radio-omroeper Rob Forbes het vertel hoe hy saam met Tsambo op skool was. “Die laaste keer wat ons gepraat het, het hy gelukkig en optimisties geklink. My hart is seer. ʼn Talent is weggeruk,” het hy op Twitter geskryf.

Die musikant AKA het na Tsambo as ʼn “ikoon” verwys, terwyl die televisie-aanbieder, Leanne Manas, ook haar hartseer uitgespreek het.

Verskeie radiostasies het hulde aan Tsambo gebring. Teen Woensdagmiddag was #RIPHHP een van die mees gebruikte hutsmerke op Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

DS ·

Ja Essie net soos Dirk vd Weshuizen vir al die hip hop liefhebbers onbekend is. SO eintlik moes jou kommentaar gewees het “het hom nie geken nie” Hy was baie gewild en bekend in die hip hop wereld so ja #RIPHHP.

Se maar net ·

Regtig sit vir hom n standbeeld op tussen die beroemdes in die land!

Gatvol ·

Julle weet, die ou het aan depressie gelei. Hy was iemand se man, kind, broer of pa. Hou op met julle snedige kommentaar! As julle nie van hom geweet het nie moet dood eenvoudig nie die berig lees nie. Dis eintlik BAIE MAKLIK

Adam ·

Baie dankie. Jy gee my weer hoop vir ons mede-Afrikaners. Die meeste het ongelukkig hulle medemenslikheid lankal verloor.

Geliefd ·

Ek stem saam. Van die kommentaar is eie aan mense met ‘n baie lae emosionele uitkyk op die lewe. Daar sal altyd ‘n berig geplaas word v iemand se afsterwe wat nie bekend is aan almal.
Dit bly iemand se man, seun, broer….die dood is finaal…bid vir sy familie en vriende.

Joanne ·

1. Hy het Dancing with the stars so n paar jaar terug gewen en
2. hyt saam met die Heuwrls Fantasties en Jack Parrow die braai dag song Our Heritage gesing.
Vir die wie nie hip hop liefhebers is nie. Dis sad hy was eintlik goed. En dit kom van n “rock chick” af

rock ou ·

sad dat rock ouens nie die eenvoud van rap ooit sal waardeer nie.
Dis ‘n sinnelose herhaling van dieselfde, oor en oor en oor.
boring…..!

Louwrens Coetzee ·

Joanne
vreeslik dankie dat jy met ons jou mening gedeel het.

L ·

Ek sou ook aan depresie ly as ek hy was…. Jy sien @Gatvol, ons almal is iemand van iemand, maar dit help ons nie en ons het nie die helfte velkleur geleenthede om talente te mag ontwikkel nie. Verskoon maar die feit dat daar min simpatie is. Naar, maar waar.

CN ·

RIPHHP… Vir almal wat so mooi kommentaar lewer oor ‘n man wat familie het wat hom WEL geken het.. skaam julle!!! Hy was een van my groot gunstelinge :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.