Talle by eerste openbare vergadering oor grondkwessie

Mense wat Dinsdag in Springbok in Namakwaland die eerste landwye openbare vergadering oor onteiening sonder vergoeding bygewoon het. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Meer as 500 mense het Dinsdag in Springbok in Namakwaland die eerste landwye openbare vergadering bygewoon oor die voorgestelde wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

’n Afvaardiging van AfriForum was ook daar om lede en ondersteuners se standpunte oor te dra en sowat honderd voorleggings teen onteiening sonder vergoeding is oorhandig wat Sondagaand op ’n vergadering ingesamel is.

Die verhore word deur die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee gelei. Daar sal 36 vergaderings oor die volgende ses weke in elke provinsie gehou word. Meer as 700 000 skriftelike voorleggings is reeds ontvang. Vincent Smith, voorsitter van die komitee, het vroeër aangedui dat geen anonieme voorleggings oorweeg sal word nie. Verskeie verteenwoordigers van politieke partye het ook die vergadering in Springbok bygewoon.

Die vergadering in die Concordia-saal in Springbok het sonder ontwrigting plaasgevind. Die algemene gevoel van die plaaslike gemeenskap was dat hulle nie ten gunste daarvan is dat die staat meer grond vat nie. Van hulle het aangedui dat hulle reeds op staatsgrond woon en dat hulle wil hê die titelaktes moet aan hulle oorgedra word sodat hulle dit privaat kan besit.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens ’n spreekbeurt daarop gewys dat AfriForum besware het oor die openbare proses omdat dit as ongeorganiseerd, uitsluitend en onbillik beskou word omdat dit veral werkende mense, en dus eienaars van privaat eiendom, uitsluit.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Hy het dit op rekord geplaas dat AfriForum die reg voorbehou om regsadvies in te win met betrekking tot die proses. AfriForum wil wel aan die proses deelneem omdat daar belangrike standpunte is wat die organisasie wil uitwys.

Roets het ook daarop gewys dat onteiening sonder vergoeding op ’n verdraaiing van die verlede geskoei is. Hy het gesê die aanname wat gemaak word dat alle swart mense deur wit mense van hul grond onteien is, is bedrieglik.

Hy het verwys na talle gevallestudies in die wêreld van lande wat welvarend geword het soos Hongkong, Singapoer en Suid-Korea en ander wat totaal in duie gestort het soos Zimbabwe, Venezuela en Noord-Korea. Die gemene deler in die suksesvolle lande is dat eiendomsreg beskerm is en dat die staat nie in alles probeer inmeng nie. Die gemene deler in al die mislukkings is dat daar ’n aanslag op eiendomsreg was en dat die staat probeer het om die mark te reguleer.

Mense wat Dinsdag in Springbok in Namakwaland die eerste landwye openbare vergadering oor onteiening sonder vergoeding bygewoon het. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Roets het afgesluit en gesê Suid-Afrika was lank voor die mense wat vandag die vergadering bygewoon het, hier en sal ook lank daarna nog hier wees. Hy het gesê die parlementêre komitee moet hul afvra wat hulle gaan sê as hul kleinkinders eendag gaan vra of hulle gehelp het om die land ’n beter plek te maak en of hulle aandadig was om Suid-Afrika se krisis te vererger.

Marne Taute, ’n inwoner wat die vergadering bygewoon het, het gesê hy maak beswaar teen onteiening sonder vergoeding omdat mense wat nie daarvoor gewerk het nie dit nie sommer kan kry nie. “Ons oupas en oumas het baie hard op die plase gewerk en ons het dit van hulle geërf. Ons gee vandag werk aan baie mense en as ons eiendom eenvoudig weggeneem word, gaan hulle ook sleg geraak word.”

Linda van Wyk van Cope het gesê sy is nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding nie. Sy meen die Grondwet bied voldoende riglyne vir grondhervorming. Die Grondwet is boonop nie net ten gunste van sekere mense nie. Dit is daar vir elke individu se sekerheid en veiligheid in die land. “Mense wat jare en jare op hul grond is, se grond kan nie net weggevat word nie.”

Mense wat Dinsdag in Springbok in Namakwaland die eerste landwye openbare vergadering oor onteiening sonder vergoeding bygewoon het. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Ilanushca van Neel, verteenwoordiger van ’n taakspan in Concordia, het haar ook teen onteiening sonder vergoeding uitgespreek en meen dis ’n ongrondwetlike manier om gemeenskappe te dryf en dat ontwikkeling beslis nie die oogmerk is nie. “Die regering gaan ons in ’n nuwe nagmerrie dompel wat gaan veroorsaak dat elkeen wat in die land woon, ontwortel gaan voel. Daar is niks verkeerd met die Grondwet wat ons tans uitleef nie. Dit gee vir ons alles wat ons nodig het om dinge op ’n ordelike manier te doen sodat elkeen se regte beskerm word. Onteiening sonder vergoeding gaan ons in ’n nuwe rigting dryf wat nie tot voordeel van ons gemeenskappe gaan wees nie.”

Hoofman Paul Swartbooi, verteenwoordiger van die inheemse inwoners van Namakwaland, het gesê in Namaland is die grond in die hande van wit mense en nie swart Afrikane nie. Hy is ten gunste van onteiening sonder vergoeding en meen die regering tree reg op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

GM ·

Dinge gaan nie oral so vreedsaam geskied nie. Die regering het klaar besluit hul gaan als vat, hul gee nie om wie, wat sê nie.

Werner ·

Hierdie is tydmors die regering het klaar besluit wat hulle gaan doen die verhore is net dat die paddas nie agterkom dat die water n paar grade verhit word nie

Dries ·

Hierdie “poging” van di ANC om stemme vir 2019 te werf, gaan di grootste rasse-polarisasie tot hede in di land veroorsaak.
Vir byna n kwart eeu is daar voete gesleep, veral rondom di kwessie van kaart en transport, wat bitter min nuwe grondeienaars te beurt geval het. Baie mense wil net n lappie grond hê waar hul kan maak soos hul goeddink en “my eie” kan noem.
Dit is ookhoogtyd dat “ek kry”, moet verander na “ek het daarvoor gewerk”.

Klaar te laat ·

Werner jy is heeltemal reg, eers is die kommado’s weg geneem, toe word die nuwe wapen wet ingestel en baie verloor hul wapens… toe ons taal in die Universiteite, ons skole, nou die grond. Dit gaan nie hier eindig nie, volgende is ons huise in die dorpe en stede, dan besighede (wat ook lankal in plek gestel is met BEE). Ja die water is warm, ons moet net besluit wanneer gaan ons uit klim. Ons is ‘n baie geduldige nasie, ons wil net vrede hê, maar daar is lankal volksmoord wat ook stil, baie stil gebeur sonder ‘n woord van die ANC want hul laat die water mos stadig kook.

Hennie ·

Dit is bestem dat die regering sal voortgaan met sy planne anders kan regstelling daarvan nie later plaasvind nie. Net soos in 1901/2 toe Smuts Duitswes van die Duitsers vervreem het ten gunste van die Engelse. Dit MOES gebeur sodat die Duitsers weer Duitswes kan kom terugneem.

Ou Aap ·

Almal in die land word met n slap riem gevang! Swart, wit, en al die kleure tussen in. Die doel van grond onteiening is NIE om grond te herverdeel nie. Die doel daarvan is om al die grond, myne, besighede, wel, ALLES die eiendom van die Staat te maak. Almal sal vir die Staat werk en die Staat sal jou n vergoeding (minimaal) betaal vir jou dienste of arbeid. Die Staat (sy top amptenare) sal soos gode leef en “regeer” Ooit gewonder waarom so baie “agter geblewenes” op Staatsgrond bly, maar kry nie titel aktes nie? en die Staat is in besit van hoeveel miljoen hektaar grond ? Die gewone Jan Alleman sal nooit weer grond kan besit nie, want die “gode ” het slawe nodig om hul lewenstyl te kan handhaaf. Dis die ou verhaal van Komunisme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.