Talle dalk vermis na boot by Oudekraal omslaan

Die NSRI is in dié stadium op soek na nege mense nadat die boot vermoedelik tussen Clifton en Oudekraal omgeslaan het.

ʼn Grootskaalse soektog is begin na oorlewendes nadat ʼn boot vermoedelik Donderdag in die vroeë oggendure tussen Oudekraal en Clifton in die Wes-Kaap omgeslaan het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die boot is sowat twee seemyl vanaf Mouillepunt gevind. Dit was gedeeltelik onder die water.

“ʼn Soektog is onderweg na vermoedelik minstens nege mense wat nog op see vermis word. Dit is onduidelik of al nege mense wel vermis is, maar die soektog na hulle word as voorsorgmaatreël gedoen.”

Volgens hom het ʼn aantal mense, wat glo op dieselfde boot was, dit intussen self tot op die strand gemaak. “Hulle word versorg,” het Lambinon gesê.

Daar word ook uit die lug na mense gesoek.

Lede van die NSRI op Houtbaai, Bakoven en Tafelbaai, asook paramedici, nooddienswerkers, ʼn reddingshelikopter, lede van die lugmag, wetstoepassingsagentskappe en die polisie neem deel aan die soektog.

Lambinon sê hulle konsentreer in dié stadium op die gebied tussen Oudekraal en Mouillepunt en soek tussen twee en drie seemyl van die strand na die mense.

Die boot is herwin en sal na die polisie se skut by die Kaapstadse hawe gesleep word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.