Talle damvlakke styg danksy reënval

Argieffoto: https://pixabay.com

Suid-Afrika se departement van water en sanitasie het Woensdag gesê die bestendige reënval oor die afgelope week het talle damme landwyd laat oorvloei.

ʼn Weeklikse verslag van die departement het aangedui dat die reën sag maar intens genoeg geval het om die grond te deurweek en grondwater vir basiese gebruik te herstel.

“Verbeteringe oor die afgelope twee weke is opgemerk in die meeste provinsies, naamlik Gauteng, Mpumalanga, Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal. Die verslag toon dat die nasionale gemiddeld van die damvlakke beduidend toegeneem het van 70,5% verlede week na 75,2% dié week,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Intussen het die stad Kaapstad ook die 0,3%-daling in die vlakke van die damme wat aan Kaapstad voorsien as goeie nuus bestempel.

Ian Neilson, die stad se adjunkburgemeester, het gesê tydens die laaste week het die damme wat vir Kaapstad water voorsien met 0,3% na 21,9% gedaal.

“Dié verlaging, wat minder is as in vorige weke, is ʼn welkome bevestiging van die uitwerking van die voortgesette pogings van Kapenaars om water te bespaar en dit sluit ʼn klein bydrae van die reënval in,” het Neilson gesê.

Damvlakke is volgens Neilson egter steeds laer as in vorige jare op dieselfde tydstip. “Ons moet aanhou met ons pogings om water te spaar om te verseker dat ons veilig deur die jaar kom. Ons gesamentlike verbruik oor die afgelope week was 521 miljoen liter per dag. Dit dui op ʼn stabilisering van verbruik op laer vlakke as in Januarie en Februarie. Hoewel dit ʼn merkwaardige prestasie is, moet ons as stad steeds harder werk om verbruik selfs nog verder te verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christa ·

Ons kan alleen ons Vader dank vir die reen. Hy ken Sy tyd en weet wat ons wanneer die nodigste het. Ons dien ‘n groot God.

Hannelie ·

AMEN ! So waar Christa. Sy tyd is nie altyd ons tyd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.