Talle dronkbestuurders in Gauteng aangekeer

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 125 motoriste is oor die naweek in Johannesburg in hegtenis geneem nadat hulle glo onder die invloed van alkohol bestuur het.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het Maandag gesê ʼn verpleegster het bloedmonsters van die motoriste geneem wat vir ontleding gestuur sal word.

“Die dronkbestuurders is na verskeie polisiestasies geneem en later op borgtog van tussen R1 000 en R1 500 vrygelaat.”

Die verdagtes sal vandeesweek in verskeie howe in die stad verskyn.

Maroela Media het vroeër berig talle motoriste is ook weens dronkbestuur in Pretoria deur vroueverkeersbeamptes in hegtenis geneem.

Lizzy Mabilane, hoof van die verkeerspolisie in Gauteng, het twee spanne vroue gelei wat motoriste in Garsfontein, in die ooste van die stad, voorgekeer het.

“Augustus is Vrouemaand en dit is die eerste van ons optredes teen dronkbestuur,” het sy gesê. “Ons is vroue van die Gauteng-verkeerspolisie, die Tshwane-metropolisie, nasionale verkeerspolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit is ʼn groot operasie en ons het ons in twee spanne gedeel om vanaand [Saterdagaand] in hierdie gebied te werk. Ons fokus op dronkbestuur, maar is ook gereed vir enige ander oortredings.”

Altesaam 34 vrouebeamptes het deelgeneem.

Teen 22:00 is 11 motoriste in hegtenis geneem en na die Garsfontein-polisiestasie geneem.

Motoriste het asemtoetse gedoen en is in hegtenis geneem indien hulle die perk oorskry het, waarna ʼn bloedmonster geneem is. Die mense wat in hegtenis geneem is, sal Maandag in die hof verskyn.

ʼn Aantal operasies sal volgens plan vandeesmaand in Gauteng plaasvind, gelei deur vrouewetstoepassers.

Augustus staan bekend as Vrouemaand en Vrouedag word jaarliks op 9 Augustus gevier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.