Talle droomvakansies, groot bedrae kwyt ná ‘slenter’

Argieffoto: Pixabay

Dosyne mense se drome oor ʼn reis oorsee of ʼn romantiese wittebrood op ʼn eiland in die Indiese Oseaan het die afgelope tyd skipbreuk gely toe hulle met die soveelste vakansieslenter op die internet gevang is.

Destiny Holidays se direkteur, Marelise de Bruyn, wat saam met haar man, Vincent, die reisagentskap bedryf het, skuld na beraming meer as R2,4 miljoen aan mense wat deposito’s vir reis- en verblyfkoste betaal het. Die onderneming het onlangs sy deure gesluit en volgens Leana Kotze, die prokureur wat die De Bruyns verteenwoordig, word Destiny Holidays tans gelikwideer.

Een van die eerste mense wat lont geruik het, is Melanie Harvey van Port Elizabeth wat sowat R50 000 verloor het. Die geld was die deposito wat Harvey betaal het vir ʼn gesinsvakansie op Mauritius in September 2019.

Sy het aan Maroela Media gesê dat sy in April ʼn swak resensie oor Destiny Holidays op Facebook gesien het en ná talle navrae is haar ergste vrese bewaarheid toe die maatskappy per e-pos laat weet het dat hulle in likwidasie is.

Harvey het daarna waarskuwings op verskeie webwerwe gelos en het binne ʼn dag van 11 mense gehoor wat ook geld by Destiny Holidays verloor het. Sowat 40 mense het intussen by ʼn WhatsApp-groep aangesluit waar inligting oor Destiny Holidays en die De Bruyn-egpaar gedeel word.

Daar is reeds 20 sake van bedrog oor die hele Suid-Afrika teen die maatskappy en die De Bruyns geopen. Harvey sê omdat die sake in verskillende dorpe aangemeld is, dra dit nie veel krag in die polisie-ondersoek nie. Die klaers is nou glo aangesê om ʼn klas-aksie in Kaapstad te bring waar die beweerde misdaad gepleeg is.

Destiny Holidays se webwerf is nie meer in werking nie.

Baie van die mense wat ingeloop is, het enkele dae voor hulle sou vertrek eers uitgevind dat daar geen vakansieverblyf vir hulle bespreek is nie.

Paul Peens het aan Maroela Media gesê sy wittebrood in die Maldives is by Destiny Holidays bespreek en hy moes inderhaas kort voor sy troue ander reëlings tref toe hy besef het daar is geen bespreking gemaak nie. Hy het meer as R63 000 verloor.

Ene Nicolaas skryf op die webwerf Hello Peter dat hy sowat R80 000 aan Destiny Holidays betaal het vir ʼn vakansie op Mauritius wat in Junie sou plaasvind. Sy gesin sou hulle dogter se verjaardag op die eiland vier. Die hotelbespreking is wel gemaak, maar die geld is nooit oorbetaal nie. Die lugdiens het ook geen kennis gedra van die gesin se beplande reis na Mauritius nie.

Charmaine Nicholson van Mookgopong sê sy en ʼn vriendin sou in Junie vir tien dae na Phuket in Thailand gereis het. Dit sou Nicholson se eerste keer oorsee wees. Sy het dringend ʼn vakansie nodig gehad nadat sy die afgelope tyd verskeie van haar gesinslede aan die dood afgestaan het. “Dis moeilik om te aanvaar dat ek R28 000 verloor het waarvoor ek so lank gespaar het,” sê sy.

Claudine Viljoen en haar verloofde het R45 000 verloor. Hulle sou in Augustus vir hulle wittebrood Mauritius toe gaan, maar Destiny Holidays het slegs die vlugte bespreek en betaal terwyl die hotel laat weet het hulle dra geen kennis van die paartjie se bespreking nie.

In ʼn verklaring wat onlangs uitgereik is, sê Vincent en Marelise de Bruyn dat hulle ʼn ouditeursfirma gaan aanstel om Destiny Holidays se boeke forensies te ondersoek omdat hulle nie seker is wat met die onderneming skeefgeloop het nie. Hulle sê dit was nooit hulle bedoeling om geld by kliënte te steel of hulle te bedrieg nie.

Die storie het nou ʼn verdere onaangename nadraai gehad toe ʼn vrou van Mosselbaai glo na bewering onskuldig by die bedrogspul betrek is. Isabel de Bruyn is met Vincent de Bruyn van Destiny Holidays se pa getroud, maar die twee gesinne het glo tot onlangs vir jare nie kontak gehad nie.

Perfect Travel se webwerf.

Isabel se man, Pieter, sê sy vrou het onafhanklik van Destiny Holidays haar eie reisagentskap, Perfect Travel, op die been gebring. Sy het na bewering nooit geld van haar kliënte ontvang nie, maar gevra dat betalings direk aan verskaffers van reispakette gemaak word.

Nogtans word Isabel de Bruyn nou op sosiale media daarvan beskuldig dat sy kop in een mus met Destiny Holidays was. “Mense kryt haar uit en snou haar lelike dinge toe en verskree haar selfs oor die foon,” sê De Bruyn sr. aan Maroela Media uit Mosselbaai waar hy en sy vrou woon.

Hy het nou ʼn privaat speurder aangestel om Isabel se naam skoon te kry en uit te vind waar die valse gerugte ontstaan het. Hy het ook reeds regstappe teen die mense gedoen wat sy vrou onder meer op Facebook belaster het.

De Bruyn sr. se prokureur, MJ Vermeulen Ingelyf van Riversdal in die Suid-Kaap, het skrywes aan ʼn ma en dogter van Louis Trichardt gestuur waarin hulle gevra word om op te hou om Isabel de Bruyn aanlyn te belaster. Inka Gilfillan en haar dogter, Xanthe Joubert, het aan Maroela Media bevestig dat hulle die prokureursbriewe ontvang het.

Gilfillan het R75 000 verloor ná sy ʼn bespreking by Destiny Holidays gemaak het vir ʼn vakansie vir ses mense in Zanzibar. Sy sê Perfect Travel het Destiny Holidays op hul webblad geadverteer en daarom is sy daarop geregtig om aan te neem dat die twee ondernemings aan mekaar verbind is. Sy sê sy is reg vir ʼn hofgeding.

Maroela Media se navraag op die WhatsApp-groep van mense wat geld by Destiny Holidays verloor het, het bevestig dat niemand op die groep met Isabel de Bruyn sake gedoen of geld by Perfect Travel verloor het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wie weet ·

Ek weet van iemand wat agter die tronk tralies gaan vakansie hou

Regardt van der Merwe ·

Jy weet. Ons spaar lank en werk hard genoeg om n vakansie soos dit te kan he. As jy hard genoeg werk sal jy ook kan gaan. Dan word dit net so weg gevat van ons.

Lizelda ·

Dit is baie wreed van mense om dit aan ander te doen. So jammer om te hoor van almal wat gescam is.

Gert van Wierdapark ·

Oos – Wes, Tuis Bes! Die Skelms verdien ‘n Vakansie agter Tralies! “

Johann cb ·

Die beste advies is om níé op die internet staat te maak nie, maar reisagentskappe se kredietwaardigheid eers persoonlik na te gaan!

Daan Erasmus ·

Nou hoe gaan en persoonlik enige besigheid se kredietwaardigheid nagaan. Dit is ‘n saak van onmoontlikheid.

Krap dieper ·

Die mense wat slagoffers is van die bedrogspul moet hulle prokureurs vra om te kyk waar die tweetjies nog “feature”. Die Marelise het nog besighede op haar naam.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.