Talle dwelmhandelaars die naweek vasgetrek

Dwelms wat die naweek in die Wes-Kaap gekonfiskeer is. (Foto: SAPS)

Sowat R6 miljoen se dwelms is die afgelope naweek tydens talle klopjagte reg oor die land deur die Suid-Afrikaanse Polisie gekonfiskeer en verdagtes vir die besit daarvan in hegtenis geneem.

Die dwelms wat gevind is, was meestal CAT of tik.

Luidens ʼn verklaring van die polisie in die Wes-Kaap, het die Laingsburgse SAPS en provinsiale verkeerspanne die naweek saamgespan om ʼn blokkade op die N1 buite die dorp te hou waartydens ʼn vragmotor vol dwelms afgetrek is.

Sowat 15 geseëlde sakke tik, ter waarde van R5,6 miljoen, is gevind. Die vragmotor was van Johannesburg onderweg na Kaapstad en een verdagte is tydens die ondersoek in hegtenis geneem. Die verdagte sal Maandag voor die landdroshof in Laingsburg verskyn op aanklagte van dwelmhandel.

In ʼn afsonderlike voorval in Katlehong, aan die Gautengse Oos-Rand, het die Ekurhuleni-metropolisie se dwelmhandhawingseenheid ʼn motor afgetrek, waartydens twee sakke dagga, 53 stukke CAT ter waarde van R4 000 en kontant wat vermoedelik uit die verkope van dwelms gemaak is, gekonfiskeer is. ʼn Vier-en-twintigjarige verdagte is in hegtenis geneem.

Die verdagte sal binnekort voor die Palmridge-landdroshof op aanklagte van dwelmhandel verskyn.

Intussen het die Johannesburgse blitspatrollie tydens ʼn roetinepatrollie Sondag op ʼn verdagte motor afgekom, wat weggejaag het toe die polisie probeer het om dit tot stilstand te bring. Polisielede kon eindelik die motor stop, waarna sowat 200 stukke CAT, met ʼn straatwaarde van sowat R30 000, gevind is. Een verdagte is in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert R@Midstream ·

Is James Dalton die ondersoek beampte na aanleiding van die publikasie in die naweek se Rapport met betrekmking tot Springbok rugby. Lewensvatbare bedryf. Hou dit net stil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.