Talle foute in Afrikaans-letterkunde, maar matrieks tevrede

Afgesien van ’n paar foute en ’n moeilike onvoorbereide gedig, is matrieks tevrede met Afrikaans se letterkundevraestel wat Woensdag landwyd geskryf is.

“Daar was geen vreemde vrae of vangplekke nie. Die vraestel was op dieselfde peil en het soms dieselfde gedigte bevat as vorige vraestelle,” sê Année van Staden, ’n matrikulant aan ’n hoërskool in Centurion.

Danielle Bezuidenhout, nog ’n matrikulant aan dieselfde hoërskool, sê veral die poësie-afdeling se vrae was eenvoudig. “Net die ongesiene gedig, ‘Bepeinsing’, was nogal moeilik gewees. Die gedig het ook baie stapelvrae bevat, sodat jy klomp punte verloor as jy die gedig aanvanklik verkeerd interpreteer,” sê Bezuidenhout.

Marié Gräbe, taalspesialis verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT), sê vraestel twee was ’n “goed afgeronde” vraestel en het kennis én insig getoets. Sy het wel etlike foute in die vraestel uitgelig.

“Die woordtelling vir die opstelvraag oor die gedig, ‘Besoekersboek’, verskil op die opdragblad (tussen 250 en 300 woorde) en op die vraestel self (tussen 200 en 250 woorde). Omdat leerders gepenaliseer word tydens die nasienproses indien hul opstelle die vereiste woordtelling oorskry, is kandidate se keuses beperk tot drie gedigte, eerder as vier.”

Sy wys ook daarop dat twee eenpuntvrae in die poësie-afdeling presies dieselfde antwoord gehad het. “So iets kan tot twyfel oor die korrektheid van antwoorde lei,” sê Gräbe. “’n Vraag in die drama-afdeling verwys ook na ‘teks i’, terwyl die betrokke tekste slegs van K tot L gemerk is.”

Verskeie Afrikaans-onderwysers het ook by die SOS gekla dat leerders in sommige gevalle nie die vrae kon beantwoord op grond van gedeeltes van die voorgeskrewe teks wat in die vraestel verskaf is nie.

Leerders moes dan staatmaak op hul geheue van die voorgeskrewe teks, om die antwoorde uit ander dele van die teks op te diep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

MJ ·

As dit dan oor taal gaan, maak een van die vrae in die vraestel .. om alle taal-foute in die vraestel uit te wys!

Nettie ·

Net een regstelling me. Grabe: leerlinge word nie gepenaliseer indien hulle die woordtelling oorskry nie.

Arno ·

Dit is nie net matriek vraestelle nie – Graad 6 departementele vraestelle ook. Onderwysers word gedwing om streng volgens die memorandum te merk, en moet antwoorde wat volgens die handboek korrek is, verkeerd merk, net omdat die opsteller self verkeerd is

Susan de Alckher ·

Uiters swak! Maar bygesê… Die Afrikaners moet ophou vingerwys as hulle eie Huistaal vraestel ook foute in het!

Hoe is dit moontlik. Het niemand die vraestel gemodereer nie? ‘n Nasionale vraestel het sekerlik ‘n prosedure wat gevolg moet word.

Daar is party onderwysers wat so deeglik hulle werk doen dat jy nie ‘n fout op ‘n vraestel sal kry nie, nog voor dit enigsins gemodereer is.

Anje ·

Daar is nie so iets soos ‘n perfekte vraestel nie. Die wonderonnies waarna jy verwys moet asseblief tog aansoek doen om eksaminatore te word sodat a) alles perfek kan wees en b) hulle jou kan vertrel dat daar uiters bekwame onnies agter elke matriekvraestel sit en wat die publiekdan so sonder insig uitmekaar trek. Mense, as jy nie weet hoe dit werk nie, gaan bied dan aan om dit beter te doen en hou op kla.

jaco ·

is Afrikaans dan nog ‘n skoolvak? Dis dan “die taal van die onderdrukker”.
dit bly my verbaas dat Engels nie dieselfde beskrywing kry nie: dwarsoor die Britse Empire, wat op sy hoogtepunt amper 1 derde van die wêreld beslaan het, was Engels die taal van onderdrukking.

Susan de Alckher ·

Ja daar bestaan wel vraestelle sonder foute en dis hoe dit moet wees. Die vrae in die vraestel is van ‘n goeie gehalte en ek stem saam bekwame onderwysers stel dit op. Ek wys egter uit dat die moderering swak gedoen is, aangesien hierdie foute van so ‘n aard is dat dit maklik raakgesien kan word. Ek het geensins die eksaminatore sleg gesê nie, ek spreek bloot die moderering aan. Ek het deur baie matriekvraestelle van 2018 gekyk. Sommige het nie ‘n enkele fout nie en ander is vol foute. Daar is nie ‘in between’ nie. Ek stem 100% saam almal maak foute. Maar hoeveel foute is dan nou aanvaarbaar. Êrens moet daar ‘n lyn getrek word as daar meer as 5 foute op die vraestel is, soos hierdie een.

Lees weer die berig hierbo en dan sal jy agterkom jy kan nie sê dis aanvaarbaar in ‘n nasionale eksamen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.