Talle Gauteng-skole glo sonder water

waterDie Emfuleni-munisipaliteit, wat onder andere Vereeniging en Vanderbijlpark in Gauteng beheer, is glo sedert Woensdag besig om watertoevoer by skole in die gebied af te sny omdat die skole glo agterstallig is met erfbelasting.

Dawie Cronje, provinsiale raadslid van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat ook op die beheerliggaam van Hoërskool Transvalia dien, het Woensdag aan Maroela Media gesê meer as 22 skole in die Vanderbijlpark-omgewing word hierdeur geraak. “Dit versteur onderrig, en dit terwyl leerlinge nog besig is met eksamen,” het Cronje gesê.

Hy het gesê die munisipaliteit tree onwettig op deur alle watertoevoer na skole af te sny, en dit skep ʼn higiëneprobleem en hou ʼn brandgevaar vir die skole in.

“Daar is ʼn laerskool met nagenoeg 700 leerlinge wat weens sanitasieprobleme hul deure sal moet toemaak totdat watertoevoer herstel is,” het hy gesê. “Laerskool Pinedene moet met twee werkende toilette oor die weg kom vir 75 leerlinge. Die skool het vandag ʼn sokkerbyeenkoms aangebied, en daar moes vinnig plan gemaak word om te sorg dat die kinders drinkwater het.”

Cronje het gesê Transvalia het gelukkig ʼn boorgat op die perseel en het dit inderhaas aan die rioolstelsel verbind sodat die toilette kan werk.

AfriForum en Fedsas het Donderdag gesê hulle het kragte saamgesnoer om dringend in te gryp na dit bekend geraak het dat die skole in groot ongemak verkeer.

“AfriForum se regspan steun Fedsas in hul proses om vir ʼn dringende hofbevel aansoek te doen, om sodoende die munisipaliteit te dwing om die watertoevoer by die skole te herstel,” het Carien Bloem, AfriForum se hoof van onderwysveldtogte, gesê. “Fedsas het eers probeer om met die munisipaliteit te onderhandel, maar hulle het net geweier om gehoor te gee.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof by Fedsas, verduidelik dat die skole self verantwoordelik is vir die koste van die verbruik van die water, maar dat die departement van openbare werke verantwoordelik is vir die betaling van belasting op die eiendom.  AfriForum het bewyse dat die skole se munisipale rekeninge wel betaal is en op datum is.

“Weens die departement se wanbestuur word hierdie skole in uiterse ongemak gelaat terwyl die Junie-eksamen aan die gang is en leerders nie net huis toe gestuur kan word nie,” meen Bloem.

“AfriForum en Fedsas kan nie toelaat dat leerlinge nou die slagoffers van burokratiese rompslomp word nie.  Ons gaan alles in ons vermoë doen om seker te maak dat leerders steeds hul eksamens kan aflê.”

Die organisasies het ʼn beroep op Angie Motshekga, die minister van onderwys, gedoen om dringend in te gryp.

Maroela Media het navraag by die munisipaliteit en departement van onderwys gedoen, en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.