Talle geboue op lugmagbasis gesloop weens sinkgate

Waterkloof-lugmagbasis. Foto: Wikimedia

ʼn Uitgebreide projek is begin om die probleem van sinkgate by die Waterkloof Lugmagbasis in Pretoria aan te pak nadat verskeie geboue op die basis weens grondverskuiwings gesloop moes word.

Nolitha Ntobongwana, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur, het vandeesweek die lugmagbasis saam met die res van die komitee en ander regeringsentiteite besoek.

Ntobongwana het na afloop van die besoek in ʼn verklaring gesê die Waterkloof-basis is as hoë-risiko geklassifiseer weens die dolomietiese grondtoestande. Sy sê talle geboue op die 640 ha‑basis moes al gesloop word omdat grondverskuiwings plaasgevind het weens waterindringing.

Ntobongwana het die lugmag, die Onafhanklike Ontwikkelingstrust en ʼn aangestelde diensverskaffer versoek om seker te maak dat sinkgate op die basis nie die funksionaliteit, doeltreffendheid en veiligheid van hierdie nasionale sleutelpunt in gedrang bring nie.

“Ons kan nie ʼn nasionale sleutelpunt hê, wat deur die president en ministers gebruik word, wat as hoë-risiko verklaar word weens die ontwikkeling van sinkgate nie,” het sy gesê. Sy het beklemtoon dat die lugmagbasis deurentyd veilig moet wees vir regeringsbeamptes se gebruik.

Tydens die komitee se besoek aan die basis, is hulle ingelig dat die departement die Onafhanklike Ontwikkelingstrust aangestel het as die implementeringsagent vir ʼn projek om die sinkgate by die basis te rehabiliteer.

Die komitee is gerusgestel dat die lugmagbasis wel veilig is om gebruik te word en dat dit voortdurend vir sinkgate gemonitor word.

In Julie is ʼn kontrakteur aangestel om onder meer sinkgate te rehabiliteer; water-, riool- en stormwaterpype aan te bring of te vervang; kanale en verwante kleppe, mangate en inlaatstrukture te seël; geboue wat verlate gelaat is weens sinkgate wat gevorm het, te sloop; en ʼn waterpompstasie en pompstelle aan te bring.

Die kontrak sal na verwagting oor 36 maande strek.

Ntobongwana sê die komitee sal gereeld vorderingsverslae oor die projek ontvang, en sal ʼn opvolgbesoek aan die lugmagbasis aflê om te verseker die basis is ten volle beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Skoolgeld ·

Ek dink persoonlik dat my en jou belasting geldjies hier al vir etlikke jare die drein afloop!

Strandloper ·

Ek hoop maar n kader of tien monitor dit want kan net posetiewe gevolge he vir ons almal.

MANIE ·

Wat is nou so belangrik aan die president en sy kaders. Is die veiligheid van die personeel wat daar werk nie belangrik

AndrewL ·

Seker ook lankal besluit die nuwe regering weet beter, los dit wat nog werk en geniet die lewe.

Gemaskerde Sopbeen ·

Maak reg, maak reg….dit sal darem baie sleg lyk as die volgende Boeing vol bruilofgaste in ‘n gat val?

Jeremia ·

Alles is al gerysmier in die land. Miljarde rand (-e) en ander bates is al weggekalwe.
Dit verdwyn sommer spoorloos in die Bermuda Driehoek.
Klink my dat pensioenfondsgeld en privaat mediese fondse se bates gaan ook binnekort daarin verdwyn.

GM ·

Aangesien ons nie regtig meer ‘n lugmag het nie, kan die regering net sowel die lughawe sluit

m ·

Moenie die sinkgate opvul nie, gee die grond net so vir Malema en sy buddies, onder grond sonder kompensasie!

JohanR ·

Weet iemand wie het die R200M tender gekry, en waar, en by wie loop al die draaitjie uit van die tender?

Gert van Wierdapark ·

Stem saam met JohanR. M/Media volg asb die tender-toekenning op, anders is dit geld in die dolomiet-drein af!!! ‘n Voorstel is om dalk van die gaterige-kwartiere vir die Zuptas in te rig! He-he-he!!

Peet ·

Logiese gevolg – as jy sinkgate vul, die grond gelyk maak en oormôre squat almal weer daar.
Baie lang, lang termyn kopseer.
Dit gaan gepaard met swak dreinering en onverskilligheid – inherente probleem met
Dolomiet. En die problerm gaan nie weg nie.
Kan ‘n diep put vir geldmaak vir een of ander kader word.

Tinus Coetzee ·

Ek wonder wie skep nou weer hier die miljoene. Waterkloof was buitendien ‘n wit idee, alles wat ‘n wit geur het word afgeskiet.
Verander die naam na Guptakloof en bou lae koste behuising. 640 ha is nogal baie, en dis teenaan Pretoria. Dan is hulle vervoer ook nie ‘n probleem nie, kan sommer werk toe loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.