Talle gered ná Harties-kabelkarre gaan staan

Kabelkarretjies by Hartbeespoort. Argieffoto: Via Harties Cableway

Meer as ʼn 100 mense is almal ongedeerd nadat die kabelkarretjiestelsel by Hartbeespoort in Noordwes Saterdag gaan staan het en ’n reusereddingspoging tot volg gehad het.

Iain Gunn, die algemene bestuurder van Harties Cableway, het Sondag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 12:30 plaasgevind.

“Ons het ʼn meganiese fout by die onderstasie gehad wat veroorsaak het dat die stelsel gaan stilstaan het. Drie karretjies met 15 mense in het in die lug stilgestaan en 125 gaste en 30 personeellede was bo-op die Magaliesberg gestrand,” het Gunn gesê.

Gunn het gesê hy het dadelik sy noodreddingspanne, wat bestaan uit Mountain Rescue en Rescue 4×4, ontbied en hulle het dadelik gereageer.

“Ons het die mense bo-op die berg laat weet dat ons staan en besig is om almal veilig van die berg af te bring.”

Hy het gesê die 15 gaste wat in die kabelkarretjies gestrand was, was hul eerste prioriteit.

“Ons reddingspanne is baie bekwaam en goed opgelei. Hulle het teen die torings uitgeklouter en is met spesiale veiligheidstoerusting teen die kabel op tot by die karretjies. Die reddingspersoneel het harnasse om die gaste gesit en hulle toe sowat 23 meter na die grond laat sak. Van daar is hulle na die voet van die berg geneem.”

Hy het gesê intussen is ʼn helikopter ontbied om kinders, bejaardes en siek mense te laat afvlieg.

Intussen is ʼn spul reddingsvoertuie agter teen die berg op om die res van die mense na onder te neem. “Almal, insluitend die personeel, was voor sononder veilig en ongedeerd onder gewees. Ons moes dit voor sononder maak wanneer dit te koud begin word.”

Volgens Gunn is niemand beseer nie. “Ons het ʼn volledige mediese span aan die onderkant gehad wat almal ondersoek het. Daar was selfs mense wat beïndruk was omdat hulle in ʼn helikopter kon ry! Dit is die eerste keer wat só ʼn voorval hier gebeur het sedert ons dit in Julie 2012 oorgeneem het. Ons het ʼn gebeurlikheidsplan in werking gehad en dit het soos clock work gewerk.”

Hy het gesê die veiligheid van hul gaste is hul eerste prioriteit en dus is hulle voorbereid vir enige noodgeval.

Alle bedrywighede by Harties Cableway is vir ʼn onbepaalde tydperk gestaak. “Môre [Maandag] kom ingenieurs uit om die probleem te vind en die hele stelsel en meganismes na te gaan. As alles weer 100% in werking is, sal ons weer oopmaak. Dit is nie nou moontlik om te sê hoe lank dit gaan vat nie.”

Gunn het gesê sodra alles weer in werking is gaan al die gaste wat geraak is weer genooi word om hul uitstappie gratis te voltooi. Hy het Sondagoggend van die mense gebel wat in die kabelkarretjies vasgesit het en hulle sê hulle sien uit na die volgende uitstappie.

“Kyk, ons belowe avontuur vir ons gaste, en dit is presies wat gister gebeur het. Niemand het gedink hulle kom op met ʼn kabelkaretjie en kry dan ook ʼn helikopterrit nie,” skerts hy, maar voeg by hulle is dankbaar dinge het nie skeef geloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Justice ·

Ongehoord om deesdae van `n effektiewe en professionele Plan B te lees – welgedaan Mnr. Gunn!

Johann ·

WOW! Sommer weer naief hoopvol oor iets wat werk…al werk dit nie?

andrea van vuren ·

Johann, jy kon dit nie beter stel nie. Ek was sowat ‘n jaar gelede op die kabelkar. Het gevrees vir my lewe!

Piet ·

Lol!….”na die grond laat saak”…seker baie stadig na die grond gesak!

Anell ·

Wow, ek wens ek was een van die vasgekeerdes. Maar kyk, ek moet se, knapgedaan, oor hoe dit hanteer is. Ek het nie besef SA het nog geoliede wiele en besighede wat omgee en beplan nie. Sien jul, sodra jul weer operasioneel is

Michael ·

As ek reg onthou het een van daai karretjies so n paar jaar gelede van die kabel af geval en mense het baie seergekry daarna was hulle gesluit vir n lang tyd.

Dink hieraan: ·

Dink hieraan: ‘n Drankkabinet in elke karretjie om die bangheid te troos en die tyd te verwyl terwyl jy sit en wag . . . Dan sal jy nie omgee.

Kosie ·

Klink vir my meer na swak instandhouding dat sulke dinge gebeur. Hulle moet by die Kaapse kabelkar mense kom leer. Hier word ritte gestaak vir periodes sodat behoorlike instandhouding deurgaans gedoen kan word.

JC ·

As jong kind het ek en een van my vriende met ons scrambler motorfietse vanaf die agtetkant van die berg to bo by die kabel karretjies gery. Ons het die berg daar vanaf Silkaatsnek se kant op gery. Die mense het ons verbasend aangekyk en gewonder hoe ons daar op gekom het. Eintlik baie maklik.Klim net af aan die agterkant van die berg.

Jeannette ·

Daar is nie ‘n MANIER, nie EEN ENKELE MANIER, wat jy mý sou oortuig om vanuit daardie hangende karretjie in ‘n harnas gesit te word en dan opgehys te word na ‘n helikopter nie. Daai helikopter se dak sou skielik ‘n bruinerige kleur ontwikkel het ……. soos ek hom bedinges het. Ek sou wraggies net daar in ‘n hoekie, onder ‘n bankie of watookal gaan inkruip het en gewag het tot die karretjie afgebring kon word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.