Talle honde dood ná brand by diereskuiling

PurrPaws-diereskuiling (Foto: Facebook)

Sowat 20 honde is Woensdagaand in ʼn brand by die PurrPaws-diereskuiling in die Viljoensdrift-omgewing in die Vrystaat dood.

“Dit is verskriklik. Ons het niks geslaap gisteraand nie,” het Clair Shand, woordvoerder van PurrPaws, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Volgens Shand het daar omstreeks 18:45 ʼn brand by die eienaar, Lindie van Rooyen, se huis uitgebreek. Van Rooyen se huis dien as die hoofgebou van haar diereskuiling.

Van Rooyen en haar man het gespook om al die diere na veiligheid te bring, maar sowat 20 van haar eie honde kon egter nié gered word nie.

Shand vertel dat die publiek se ondersteuning “oorweldigend” is. Talle gemeenskapslede het Woensdagaand hand bygesit en diere in hul sorg geneem. In dié stadium word al die diere deur iemand in die dorp versorg. “Al die diere is tans oukei.”

Volgens Shand is die skuiling se hoofprioriteit nou om genoeg hondekos, katkos asook komberse vir die diere in te samel aangesien al hul voorraad gedurende die brand vernietig is.

Skenkings kan by die PurrPaws Charity Shop in Vanderbijlpark, Gauteng, afgelewer word. Besoek gerus ook die skuiling se Facebookblad vir meer inligting.

Van Rooyen is Woensdagaand deur paramedici vir rookinaseming behandel. Dit is in dié stadium nog onduidelik hoe die brand ontstaan het. Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johnnie ·

Dit is enige diere liefhebber se nagmerrie, my hart is seer vir al die verlies van die honde hulle het n wrede dood gesterf wat ek hulle nie gun nie. STERKTE.

Leon pit ·

Dis verskriklik gee woorde kan beskryf waardeur daai diere moes gaan nie.
Hoop hulle gaan n brand plan he as so iets weer gebeur.

Ai dis so baie hartseer ·

Baie sterkte. Hulp sal daar wees in oorvloed om hierdie arme weerlose diere deur hierdie trauma te help.

Dankie aan julle en ook dankie aan al die ander mense wat mishandelde en verwaarloosde diere wat geen liefde ken nie help.

Help asb ·

Asb mense moenie net jammer voel vir die diere nie, doen iets om te help. Hulle is op FB, Purrpaws For Life in Viljoensdrift.

Dankbaar ·

Ons het verlede jaar Desember 2 hondjies daar aangeneem en hulle het oombliklik ons lewens verryk. Ek sidder om te dink een van hulle kon daar gewees het gisteraand en my hart gaan uit na al die ander honde en katte wat deur dit moes gaan en die wat dit nie gemaak het nie. Sterkte aan Lindie en al haar helpers wat hierdie diere versorg met onbaatsugtige liefde. Ons sal beslis ondersteun met kos en water!

Andries Visagie ·

Dankie vir die nuusdekking! Die gemeenskap se ondersteuning hiermee is wonderlik.

Corné ·

So verskriklik hartseer. So jammer om te hoor. Dis hartverskeurend. Baie liefde en sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.