Talle huise, duisende hektaar in Suid-Kaapse brande verwoes

Helikopters help om brande in die George-gebied te blus. Foto: Working on Fire (Twitter)

Altesaam 35 gesinne is ontwortel en minstens 19 huise is heeltemal verwoes in die brande wat die afgelope paar dae in die Tuinroete in die Suid-Kaap woed.

Die gesinne het almal in die omgewing van Beervlei en Fairleigh in die Knysna-distrik gewoon.

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê nóg 16 huise is gedeeltelik verwoes.

Die brande in die gebied was teen Donderdagmiddag meestal in bedwang, maar die situasie word steeds fyn dopgehou. Die Tuinroete-brandbestuursentrum monitor ook steeds alle brande, terwyl die publiek gewaarsku is dat brande plek-plek weer kan opvlam en rook sal veroorsaak.

Spanne brandbestryders ruim ook nog op ná die verwoestende brande die afgelope week groot dele van die streek lamgelê het. Minstens agt mense is dood en teen vanoggend het meer as 70 000 hektaar grond afgebrand, terwyl kragpale, kommunikasielyne, strukture soos die Ou Tolhuis naby George én tientalle diere weens die brande in die slag gebly het.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het vanoggend gesê die brand by George het homself uitgewoed. Brande in die omgewing van Knysna is egter nog nie heeltemal geblus nie.

Vroeër vandeesweek in die George-omgewing. Foto: Verskaf

Meer as 305 werkers van die organisasie Working on Fire het vanoggend ook nog gespook om brandlyne te beskerm. Spanne het deur die nag by De Vlugt gewerk om brande in bedwang te hou en infrastruktuur – waaronder ʼn saagmeule – en inwoners van die klein gemeenskappie te beskerm. Twee helikopters is deur die loop van die oggend na die gebied gestuur, nadat die brand daar weer opgevlam het.

Gebiede soos Karatara, Reenendal, De Vlugt en George was midde-in die verwoesting. Teen Woensdag het gunstiger weersomstandighede minstens gehelp met pogings om die brande in bedwang te bring. Die koeler weer wat vir die naweek voorspel word, is ook goeie nuus vir brandbestryders.

Lede van die Tuinroete-munisipaliteit en die gesamentlike operasionele komitee het vanoggend vergader, onder meer om die skade wat aangerig is, te bespreek. Dit is egter nog onseker of die streek tot rampgebied verklaar gaan word.

Die George-munisipaliteit het intussen die publiek bedank vir milde skenkings aan brandbestryders. Die munisipaliteit sê die reaksie op versoeke om onder meer water en versnaperinge vir brandweerlede, was oorweldigend. Die munisipaliteit het ook gevra dat mense nie meer voorraad na die Rosemoor-stadion of George-brandweerstasie neem nie, omdat daar nie meer plek beskikbaar is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ella ·

Binnekort kan ons maar vergeet om van die “Tuinroete” te praat. Met al die brande gaan dit nie meer bestaan.

Whatever ·

Sê eerder niks nie. MTO plantasies is meestal wat afgebrand het en sal vervang word met fynbos wat in sy plek sal groei en weer mooi sal wees.

legens ·

Toemaar , dit is alles deel van die natuurlike siklus . Moeder natuur sal sorg dat alles weer mooi teruggroei, soos sy gedoen het oor die millennia .

Jacques ·

Ek wil net graag weet hoekom het die rampbestuur/brandweer nie die twee helikopter maatskpye se hulp aanvaar in die begin van die brande nie . Ek voel die uitkoms kon soveel anders gewees het soos bv geen lewensverliese nie en baie minder skade aan die berg . Ja die mense moet nie dink ons weet nie daarvan nie , George is net so groot . Mnr Steyn moet seker maak van die oorsprong van die brand , want die plaaslike koerant wys n foto van waar die brand begin het , en dit was n klein veld brand wat heeltemal buit beheer geraak het . Dit bring my weer by die vraag , hoekom nie hulp aanvaar as dit aangebied word nie?????? Ek reken hier moet n paar mense groot vrae antwoord .

Monica ·

Baie dankie aan die brandbestryders vir die lewensgevaarlike werk wat julle verrig. Ek wil net graag vra, wie is die verantwoordelike partye wat hierdie mense moet ondersteun met items soos water, lipice, oogdruppels etc? Die munisipaliteit bedank die gemeenskap vir skenkings en noem lokale waar dit reeds vol staan. Sekerlik moet dit as deel van die “tools” gesien word wat noodsaaklik is om hulle met hulle werk te help? Wat gebeur indien daar nie skenkings van publiek is nie? Vra maar net…

Wiehan ·

Ek was in Knysna in die laerskool en het toe daar op Ouplaas en op The Heads gewoon. Later George toe getrek en daar gematrikuleer. Daardie tyd, in die 70’s en vroee 80’s het die Departement Bosbou brand bane om die plantasies en woude gemaak. Nooit sulke verwoestende brande gehad nie.
Wonder maar net, LOGIKA

Penellope Jones ·

Knysna het nog seker nie eerste totaal herstel na twee jaar gelede se verwoesting nie, en nou alweer.

Jeremia ·

Ek wou vra wat daar in George en Knysna aangaan, want dis nou die tweede keer waarvan ek weet dat daar sulke verwoesting is.
Wiehan se kommentaar het egter die antwoord verskaf.
Ons het van voorbrande gepraat en dit as noodsaaklike voorsorg beskou. Mens is natuurlik weerloos teen brandstigting. Snaaks darem hoe hierdie tipe verskroeide aarde beleid altyd toegepas word as die wind op sy ergste is.
Sigaretstompies en weerlig speel seker ‘n rol, maar die brande wat ek in die Wes-Transvaal gesien het, was dikwels ver van ‘n pad, gewoonlik as die gras kurkdroog is en daar nie ‘n beduidenis van ‘n reënwolkie is nie.
Voorbrande kan egter tog steeds dalk tog help.
Waarom tref hierdie munisipaliteite en ander strukture nie (meer) voorsorg nie?
Ek wil nou nie ‘n moan-gat wees nie, maar sowaar hierdie soort verwoesting moes darem al stof tot nadenke gewees het. Of kan /wil niemand op daardie vlak meer onthou hoe dit voorheen GEWERK het nie?

Karolis ·

Weens die oorweldigende skenkings van versnapperinge deur die publiek en die opeenhoping daarvan wat hierbo deur die munisipaliteit gemeld word, sal dit sag op die oor val indien die oorskot hiervan aan die brandslagoffers of minderbevoorregtes geskenk word.
Kom George munisipaliteit, sluit hierdie episode vir ons af met ‘n sprokieverhaal.

Willemien van der Walt ·

Korrekte spelling van plekname: Farleigh (nie Fairleigh), en Rheenendal (nie Reenendal).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.