Talle in hof ná N4-betoging

ʼn Betoging op die N4-snelweg buite Emalahleni (18 Augustus 2017). Foto: Verskaf

Altesaam 62 mense is in hegtenis geneem in verband met die openbare geweld wat twee weke gelede in Vosman buite Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga afgespeel het.

Van dié verdagtes het 32 Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes staan tereg op aanklagte van openbare geweld, inbraak, die besit van gesteelde goedere, aanhitsing om misdaad te pleeg en aanhitsing tot opsetlike saakbeskadiging.

Van dié verdagtes wat Donderdag in die hof verskyn het, is 29 op borgtog van R500 elk vrygelaat. “Net drie verdagtes is borgtog geweier. Een van die drie is ʼn buitelander sonder reisdokumente en twee het voorheen al aan die owerhede valse inligting verskaf,” het Hlathi gesê.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 28 September uitgestel wanneer al 32 verdagtes weer in die hof sal verskyn.

Volgens Hlathi sal die ander verdagtes wat vroeër op borgtog vrygelaat is ook op 22 September weer in die hof verskyn. Hul borgtogvoorwaardes sluit in dat hulle tussen 06:00 en 18:00 op Maandae en Vrydae by die Vosman-polisiestasie moet aanmeld. Hulle mag ook nie weer onwettig in Siyabonga betoog of in die gebied rondbeweeg nie.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn vergadering tussen die gemeenskap van Kwa-Guqa in Vosman en die plaaslike owerhede gewelddadig geraak het.

Die N4 in die gebied is op 18 Augustus ure lank gesluit nadat woedende lede van die gemeenskap die snelweg met ʼn groot hoeveelheid steenkool en klippe versper het. Hlathi het gesê die betogers het motors, vragmotors en busse wat in die gebied gery het met klippe bestook en eiendom beskadig.

Hulle het daarna ʼn bus en ʼn motor op die snelweg aan die brand gesteek en verskeie winkels, wat deur buitelanders besit word, geplunder. ʼn Busbestuurder is tydens die betoging beseer en moes na ʼn hospitaal geneem word.

Lt.genl. Mondli Zuma, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het vroeër die gewelddadige optrede van die gemeenskap veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jannie ·

Geld maak skema, die staat het agter gekom met al die kriminele in die land kan hulle n groot inkomste kry deur net borg te gee van n paar rand. Werk uit as hulle per staking net so 100 vang teen R500.00. Lekker 50K vir n lekker braai met die boer se skaap.

Chris Ws ·

Waarom word betogers toegelaat om paaie te blokkeer en e beskadig?Dit behoot gladnie geduld of toegelaat word nie.

Landie ·

Is dit nie teen die wet om iets te brand op openbare paaie nie? Ons belasting-geld, petrol-heffings ens word daarvoor gebruik. Hoekom word iets beskadig waaraan landsburgers swaar/hard betaal? En ek wil nog sien of iets ooit daarvan gaan kom. Gaan seker weer soos alle vorige gevalle net ‘n stille dood sterf, want waar moet die arme bloedjies nou die geld vandaan kry om die beskadigde goed reg te maak???

Irene ·

Mors howe se tyd daar kom niks van nie dis tyd dat die gemors nou end kry hulle wil alles met geweld probeer reg kry SA moet nou saam staan en dit stop

Jordaan ·

Om ‘n klip na ‘n motor te gooi is baie meer “poging tot moord” as ‘n paar jong manne wat mense in die KFC ry ‘n paar klappe gegee het, maar dit is ongelukkig die dubbele standaarde wat geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.