Talle in NW vas vir verkiesingsgeweld

Die weermag en polisie is na moontlike hoërisiko-gebiede in Noordwes ontplooi. Foto: ANA/Stringer

Minstens 21 mense is in Noordwes in hegtenis geneem in verband met verkiesingsverwante geweld.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is tussen 17 en 41 jaar oud.

“Die verdagtes is in Mmadinonyane naby Ganyesa in hegtenis geneem nadat twee voertuie, waaronder ʼn voertuig van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK), aan die brand gesteek is.”

Volgens Mokgwabone het twee OVK-beamptes in verskillende voertuie gery en het een van die voertuie OVK-verkiesingsmateriaal vervoer. “Hulle is glo deur gemeenskapslede voorgekeer en van hulle selfone beroof voor albei voertuie aan die brand gesteek is.”

Mokgwabone het gesê die OVK-verkiesingsmateriaal is ook in die proses beskadig. ʼn Polisievoertuig wat dié twee voertuie begelei het, is met klippe bestook.

Die verdagtes, 11 mans en 10 vroue, sal Donderdag in die Ganyesa-landdroshof verskyn op aanklagte dat hulle die Kieswet oortree het, kwaadwillige saakbeskadiging en roof.

Ganyesa is as een van die agt gebiede in Noordwes met die hoogste risiko vir burgerlike onrus tydens die verkiesing geïdentifiseer.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het gesê daar is nie ʼn spesiale hof vir verkiesingsverwante oortredings nie, maar dat daar met die howe reëlings getref is om sake in dié verband spoedig te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

Juis die wat op die grant is en byne niks bysrae maak tot n posetiewe toekom maar net demand

Bmw ·

Poliesie begeleiding en nogtans word hulle beroof voertuie aan die brand gesteek?????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.