Talle in Suid-Kaap vir varkgriep behandel

Argieffoto

Argieffoto

Meer as 20 mense in die George-area van die Suid-Kaap ontvang behandeling vir die H1N1-virus, oftewel varkgriep.

Marcelle Herbst, ʼn dokter en kliniekbestuurder van Walk in Doctor in George, het gesê haar praktyk het die afgelope week talle pasiënte vir varkgriep behandel. “Die meeste plaaslike apteke het ook nie meer voorraad van Tamiflu nie.”

Volgens Herbst is daar egter geen rede om paniekerig te raak nie. “Dokters weet nou hoe werk die virus anders as ʼn paar jaar gelede toe dit die eerste keer in Suid-Afrika uitgebreek het.”

Herbst het gesê hul pasiënte was meestal jong kinders of mense met ʼn swak immuniteitstelsel. “Die slegte ding van die H1N1-virus is dat mense eers ʼn dag of twee nadat hulle dit opgedoen het, simptome kry.”

Sy het mense aangeraai om dadelik dokter toe te gaan wanneer hulle ʼn hoë koors, seer lyf of rooi oë het. “Ons gee vir hulle medisyne en dan moet hulle net in die bed bly, kontak met ander mense vermy en baie vloeistof inneem.”

Mark van den Heever, ʼn woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het gesê dit is belangrik om daarop te let dat varkgriep sedert 2012 deel is van die seisoenale griepstam. Volgens hom is hy nie bewus van enige sterftes sover nie.

Volgens statistiek sterf gemiddeld 10 000 Suid-Afrikaners elke winter weens seisoenale griep-verwante siektes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lance ·

Hehe want hier is SO baie varke ne ….padvarke morsvarke en en

Wouter ·

10 000 mense? Klink nie vir my reg nie. Behalwe as die griep verwante siekte dalk Aids is of TB. Dit sal dan elke jaar n pandemie veroorsaak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.