Talle, insluitend vroue, vas oor transitorooftogte

Foto: SAPD

Die polisie het die afgelope naweek 23 verdagtes in hegtenis geneem wat met transitorooftogte verbind word.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn multidissiplinêre taakspan, bestaande uit lede van misdaadintelligensie, die nasionale ingrypingseenheid, gesoute ondersoekers en taktiese lede, het Vrydag ʼn 32-jarige man en sy vriendin in hegtenis geneem in verband met die transitorooftog in Boksburg in Mei vanjaar.

“Die vriendin is ’n Tshwane-metropolisiebeampte en het na bewering die vuurwapens wat tydens die transitorooftog gebruik is, gestoor. Haar kêrel, die 32-jarige man, word verbind aan verskeie transitorooftogte reg oor die land.”

Volgens Naidoo is daar tydens die inhegtenisneming op ʼn vuurwapen, ammunisie en ʼn voertuig beslag gelê.

Foto: SAPD

“Die span het hierna ʼn 42-jarige onwettige immigrant by ʼn huis in Wonderboom, Pretoria in hegtenis geneem. Die verdagte het ploftoestelle in sy besit gehad en word ook verbind aan die transitorooftog in Boksburg in Mei.”

Naidoo het gesê daar is tydens nog ʼn operasie twee vroue, 33 en 67 jaar oud, en ʼn 50-jarige man in Soshanguve in hegtenis geneem in verband met verlede week se transitrooftog in Atlasweg in Boksburg.

“Die span het op ʼn R5-aanvalsgeweer, ʼn LM5-geweer en ammunisie beslag gelê. Die 50-jarige man word ook aan verskeie transitorooftogte reg oor die land verbind.” ʼn Vermeende transitorower is verlede week doodgeskiet in ʼn gewaagde poging om ʼn geldwa in Boksburg te beroof. ʼn Onbekende aantal verdagtes het Donderdag omstreeks 06:00 in minstens drie voertuie op die geldwa in Atlasweg naby die N12-hoofweg toegeslaan.

Volgens Naidoo het die span ook ses verdagtes in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog by ʼn drankwinkel in Hammanskraal vroeër die maand. Die rowers het toegeslaan toe daar geld afgehaal is. Daar is op verskeie vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Foto: SAPD

“’n Totaal van agt verdagtes is intussen reeds in hegtenis geneem in verband met verlede week se mislukte rooftog in Dobsonville, Soweto. Vier gekaapte voertuie, ʼn Ford Ranger, ʼn  Volvo, ʼn Peugeot en ʼn Kia Picanto, is op beslag gelê. Terwyl die span in Soweto was, is ʼn verdere drie verdagtes in hegtenis geneem en is daar op vuurwapens, ammunisie en ʼn Mini Cooper beslag gelê.”

Naidoo het gesê die verdagtes sal dié week in verskeie howe reg oor Gauteng verskyn op aanklagte wat wissel van poging tot moord, gewapende roof, poging tot gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde voertuie.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die span geloof vir hul harde werk. “Om te verseker dat die polisie die gesag van die staat afdwing, moet ons voortgaan met die inhegtenisneming van individue wat misdade soos transitorooftogte en kapings pleeg en vrees inboesem by die inwoners van hierdie land. Ons sal na aanleiding van hierdie stabiliseringsaktiwiteite met ’n normaliseringsplan volg om te verseker dat die mense in Suid-Afrika veilig is en veilig voel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anoniem ·

Goeie werk!

Die vroulike metropolisiebeampte moet ekstra swaar gestraf word omdat sy haar vertrouensposisie so misbruik het!!

kas ·

Ek wonder of die normaliseringsprogram van toepasasing gaan wees op plaasaanvalle ook.Die ammunisie in die foto bo is R1 of .308 patrone of eil ek.Hierdie optrede gaan transitorooftogte ‘n goeie nekslag todien Geluk manne en vroue.

Lollie ·

Regering maak so bohaai oor geweld teen vroue en kinders. Eerstens wil ek weet wat die verskil is tussen geweld teen vroue of kinders of mans?! Geweld is geweld maak nie saak teen wie dit is nie daar kan nie onderskeid gemaak word nie! Hierdie artikel wys ook hoeveel geweld vroue kan hê, so waarom vroue uitsonder?
Hulle wil in elk geval oral in die mans wêreld in, tot in myne, nou waarom is hulle anders as mans?
Stop geweld teenoor enigeen!

Ben ·

Stem Saam – Geweld is geweld – Stop geweld teenoor enigeen! Behandel mense soos jy behandel wil word!

Pieter ·

n Transito rower is maar net n voorheen benadeelde landsburger wat hom self ekonomies bemagtig deur radikaal op te tree, soos beveel deur sy president. Help jou eie mense nou Mnr Rommelphosa.

Andre ·

Baie mooi en dankie nou kan julle ook asseblief so genadeloos optree teen plaas aanvalle en moorde

Lee ·

Dis great. Hoe meer kriminele gevang word hoe beter. Onskuldige mense kry seer en gaan dood as gevolg van hulle “greediness”. Mag hulle lank sit.

lee ·

Dis baie goeie nuus! Baie dankie SAP – dis ‘n goeie begin om die euwel hok te slaan.

Gys ·

Wonder waar die ” aanvals gewere ” vandaan kom. Wie was die oorspronklike eienaar.

Gestremde ·

Hallo Bernard. Die geroofte geld word gebruik om voertuie aan te koop en dit te gebruik as dekmantel om hul misdaad te verbloem.

Hoc est bellum ·

Die Israeliese Galil is beskikbaar in .308 kaliber. Dis verseker .308 (7,62 mm) ammunisie in die een foto. Die een wapen lyk soos die soort wat deur die Valskermbataljon gebruik word. Die wapens het seker baie van hande en eienaars verwissel. Die blou afwerking (“blueing”) is al plek-plek afgeskuur. Hopelik was die wapens baie swak in stand gehou sodat die werkende dele soms vasgehaak het. Sodoende kon moontlike slagoffers dalk oorleef het. Dit laat my aan ‘n Amerikaanse gesegde dink: “If guns are outlawed, only outlaws will have guns!”

Carl ·

Die een is R5 wat dan 5.56mm is SAPS of SANDF wapen en die ander is ‘n Dashprod of SAR M14 wat weer heel moontlik privaat sekuriteit mpy s’n was.

Swart Piet ·

Nou verstaan ek nie so mooi nie. Ek rowers word met aanvals wapens betrap en al wie aanvals wapens mag he is die staat. MAAR NOU PROBEER DIE STAAT DIE PRIVAAT WAPEN EIENAARS ONTWAPEN MET ALLERANDE WETTE. Hulle kan nie eens hulle eien mense en toerusting beheer nie.

Chrisjan ·

En hoe lank voor almal weer op vrye voet is agv een of ander slenter, swak papierwerk of slim (lees skelm) prokureur???

Speedguard ·

Indien die ondersoek swak gedoen word kan selfs ‘n “dom” prokureur die saak laat sneuwel, jou saak is so sterk soos jou swakste skakel dus, doen dit wat jy doen baie goed indien jy ‘n gesoute ondersoek beampte is !

Andre ·

Teen hierdie tyd is almal moontlik al uit op borgtog of die sake word opgefoeter deur swak opgeleide amptenare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.