Talle inwoners sê ‘nee’ vir voorgestelde biogasaanleg in Pretoria

biogasaanleg-in-australie

ʼn Biogasaanleg wat in 2015 in ʼn woonbuurt in Melbourne in Australië gebou sou word. Die biogasaanleg kan tot 1 megawatt se elektrisiteit lewer en benodig ‘n 100 ton se afval per jaar om dit te kan lewer. Inwoners van die woonbuurte rondom die WNNR is egter bekommerd oor die impak wat so ʼn aanleg op die omgewing kan hê. Foto: Weltec Biopower GmbH/Sunwindenergy.com

’n Groep beswaarde inwoners in die ooste van Pretoria sê hulle is ten gunste van groen tegnologie, maar nié as ’n biogasaanleg in die middel van hul woonbuurt opgerig gaan word nie. Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) wil die aanleg gebruik om organiese materiaal (soos afvalkos) te verbrand om só krag op te wek.

“Die projek het ’n edel motief, maar dit hoort nie hier nie. Dit sal ’n wen-wen-situasie wees as hulle dit elders – buite die metropool, en nie in ’n residensiële gebied nie – oprig,” sê Willi Schürmann, ’n lid van die inwoners-koördineringskomitee oor die bioverbrandingsaanleg.

Die WNNR het reeds begin met uitgebreide studies om die impak en lewensvatbaarheid van die voorgestelde aanleg in die omgewing van Lynnwood te bepaal. In ’n agtergronddokument sê Chand Environmental Consultants, wat die projek bestuur, die WNNR werk daaraan om al sy energiebehoeftes sélf te vervul.

Die WNNR se plan

Die WNNR sê daar is reeds grond beskikbaar waarop die aanleg gebou kan word en ruafval – wat by die aanleg verwerk sal word – is geredelik in die omgewing beskikbaar. Hoë kragpryse en toenemende kragverbruik, die stygende koste daarvan om vullis verantwoordelik te stort en elektrisiteitstoevoer wat al hoe minder gewaarborg kan word, vorm ook deel van die WNNR se motivering.

Hy wil dus die afvalenergiefasiliteit vestig wat sy afhanklikheid van die tradisionele kragnetwerk sal verminder en koste sal besnoei. Dit kan moontlik ook ekstra krag opwek wat later aan die Stad Tshwane verskaf kan word.

Die voorgestelde aanleg sal oor ’n gebied van nagenoeg 1,5 ha strek, dit moet ’n allemintige 3 megawatt krag opwek en sal ru-stof vir verwerking kry vanaf verskaffers binne ’n radius van 50 km van die aanleg. Slegs organiese materiaal sal aanvaar word en Chand sê geen afvalsortering gaan op die perseel gedoen word nie. Tot 45 000 ton organiese roumateriaal sal per jaar verwerk word.

Die fasiliteit sal 24 uur per dag, sewe dae per week en 350 dae van die jaar operasioneel wees. Afval sal gedurende werkure (tussen 08:00 en 17:00), ses dae per week ontvang word.

Voorgestelde ligging

Drie moontlike persele – al drie óp die kampus van die WNNR – word tans vir die beoogde projek oorweeg. Die eerste perseel is onbebou met ’n mengsel van inheemse en uitheemse plante en is geleë in ’n sogenaamde kritiese biodiversiteitsgebied. Dit word as die mees onwaarskynlike opsie beskou.

Die tweede voorgestelde perseel is ook onbebou en bestaan grootliks uit tuine. Dit is geleë naby die WNNR se ingang op Meiring Naudé-weg.

Die derde perseel huisves reeds ’n sonkragstelsel en grens aan die N4-hoofweg.

Inwoners omgekrap

Inwoners van die omgewing is egter allermins gretig oor die oprig van die biogasaanleg in hul midde en die koördineringskomitee het reeds begin om by skole, woonbuurte, sakeondernemings, kantoorblokke en kerke mense te mobiliseer om betrokke te raak.

Talle inwoners voer aan dié soort aanleg hoort eerder in ’n afgeleë of nywerheidsgebied, en nié in die hartjie van ’n area wat grootliks uit woonbuurte bestaan nie.

“Ons gee gelyk dat dit wonderlike tegnologie is, maar ons wil die WNNR ontmoedig om énige van die drie persele te gebruik,” sê Schürmann.

Hy sê inwoners is bekommerd oor die hoogs vlambare biogas wat vrygestel gaan word en tot ontploffings kan lei. Kwessies soos die luggehalte wat aangetas kan word, ’n slegte reuk in die omgewing, ’n daling in eiendomspryse én die voorkoms van plae soos rotte en vlieë, word ook as besware teen die aanleg aangevoer.

Verkeersopeenhopings weens vragmotors wat die rou materiaal moet aankarwei en moontlike geraas- en waterbesoedeling is ook vir inwoners ’n bekommernis. Schürmann sê waar só ’n aanleg wél vatbaar is, word dit naby die oorsprong van die ru-stof (in dié geval afvalkos) opgerig. Hy sê in dié geval gaan die organiese materiaal op groot skaal kilometers ver met vragmotors aangery word.

Hy sê die gebied is boonop die tuiste van kleinwild soos steenbokke, terwyl kolhase, nagapies, dassies en selfs enkele pare rooikatte nog hier opgemerk word. Daar is ook talle voëlspesies in die omgewing.

“Al daai diere gaan die skrik op die lyf gejaag word. Die tegnologie is in beginsel goed, maar dit hoort nie hier nie,” sê Schürmann.

“Luister, raak betrokke”

DA-wyksraadslid Siobhan Muller het inwoners aangemoedig om aktief by die konsultasieproses te raak. Muller sê daar moet so gou moontlik na hernieubare energiebronne oorgeskakel word en, hoewel sy nie ten gunste van óf gekant teen die WNNR se voorgestelde aanleg is nie, steun sy groen energie heelhartig.

Sy het mense gevra om die vergaderings oor die voorgestelde aanleg by te woon, vrae te vra en sélf navorsing oor biogas te doen.

“Ons is aan die begin van die proses. Mense moet betrokke raak. By die vergaderings gaan hulle ook insette van ander mense kry. Dís die sleutel: moenie paniekerig raak nie. Gaan luister en gee insette.

“Ons stortingsterreine is oorvol. Ons het nêrens om nog goed te stort nie. Ons moet kyk na die algehele impak (van die projek) en dan moet jy ’n ingeligte besluit daaroor maak. Ek dink inwoners raak soms dadelik paniekerig, sonder dat hulle geluister het. Hulle moet regtig betrokke raak, luister, kyk wat is die impak en ’n besluit maak wat berus op feite en nie emosie nie,” sê Muller.

Die WNNR het beloof om die jongste tegnologie in die projek te gebruik. ’n Omgewingsaktivis se raad was egter om die proses van die begin af fyn dop te hou. Hy sê hoewel die aanleg op papier dalk na ’n goeie plan lyk, dit nie altyd in die praktyk so uitwerk nie.

Schürmann sê die komitee is ook uiters besorg dat té min mense nog van die voorgestelde aanleg weet, óf by die konsultasieproses betrokke geraak het. Hy sê waar die sperdatum vir registrasie as belanghebbende aanvanklik al einde Junie verstryk het, het die komitee dit minstens reggekry om die proses met sowat twee maande te verleng.

Die WNNR het onderneem om so gou moontlik oor die kwessie kommentaar te lewer.

  • Mense word gevra om voor die spertyd van 31 Augustus 2018 as belanghebbendes te registreer.
  • Besoek https://www.no2biogas.org.za/ of stuur ’n e-pos met volledige kontakbesonderhede na [email protected] om as belanghebbende te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Koos1 ·

Ek bly in Pretoria en het nie ‘n probleem nie. As jy modern wil leef (elektrisieteit, vullis verwydering ens.) moet jy maar ‘n opoffering maak dat jy so kan voort leef. Maar nee, mense wil mos net die lekker in die lewe hê, en nie die skadu van hulle leefwyse sien nie.
Vleis kom mos van pakkies in supermarkte en melk kom mos in karton houers!

Juna ·

Nee!!! Soos dit is word al wat dier(tjie) uitgeroei soos wat gebou word.

Besorgd ·

Ek is self ‘n Pr. Ing. met 27 jaar ervaring in biogasprodusering. ‘n Biogasaanleg behoort in ‘n industriële gebied en NIE naby residensiële areas nie. Biogas bevat ‘n hoogs brandbare gas (Metaan, CH4) wat geproduseer word vir die gebruik as brandstof in moderne kragopwekkers (Gascor, Jenbacher, CAT, Shendong, ens.). Indien biogas nie korrek hanteer word nie, kan dit onwelriekende Waterstofsulfied (H2S) asook ‘n irriterende Ammoniakgas (NH3) in die lug loslaat wat nabygeleë inwoners se gesondheid verseker sal beïnvloed. Afhangende van die tipe verteringsproses van organiese afval, kan baie groot volumes water benodig word (wat ons as drinkwater benodig), ook vir die kompostering van verteerde uitvloeisel. Die hoeveelheid organiese materiaal moet ‘n paar dae se reserwe insluit in tye van onbeskikbaarheid daarvan. Dus ‘n groot organiese “vullishoop” wat vlieë lok, ondergrondse water en direkte omgewing nadelig kan beïnvloed (veral tydens reën), indien risiko’s nie afgedek is nie. Geraas van vragmotors wat organiese materiaal daagliks moet aflewer. Masjinerie wat 24/7 operasioneel is (geraas) en mannekrag wat skofte werk. Ook instandhouding, operasionele bestuur van aanleg en ander take word benodig. Dit gaan basies ‘n “mini industrie” wees. Google self en besluit of jy naby so aanleg sou wil bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.