Talle jaagduiwels op paaie aan Oos-Rand vasgetrek

Een van die motoriste wat in hegtenis geneem is. Foto: EMPD

Talle jaagduiwels wat gevang is dat hulle tot 210 km/h op openbare paaie ry, is Maandag aan die Gautengse Oos-Rand vasgetrek.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), sê ʼn 33-jarige motoris is om 07:45 op die N12-Wes vasgetrek waar hy teen ʼn allemintige 210 km/h in ʼn 120 km/h-sone gejaag het. “Die man het teenstrydige redes gegee hoekom hy teen so ʼn vreeslike spoed gery het. Eers het hy gesê hy is laat vir werk en later het hy skielik van plan verander en gesê ʼn verdagte wit Mercedes-Benz het hom agtervolg,” sê Kgasago.

Metropolisiebeamptes het hulle egter nie aan die man se verskonings gesteur nie en hy is in hegtenis geneem op aanklag van roekelose en nalatige bestuur.

Om 09:10 is nóg ʼn spoedvraat op dieselfde pad vasgetrek. ʼn 43-jarige motorfietsryer het teen 185 km/h op die nasionale pad gejaag voor hy deur beamptes voorgekeer is. Hy het aangevoer hy moet dringend by die Chris Hani-hospitaal kom om ʼn siek kind te besoek. Dié man is ook in hegtenis geneem.

Albei beskuldigdes is sedertdien op borgtog vrygelaat en moet binnekort weer in die Germiston-landdroshof verskyn.

Die twee is egter nie die enigstes wat blykbaar ʼn liefde vir spoed het nie. Volgens Kgasago het EMPD-beamptes Maandag nog 11 padgebruikers op verskillende plekke aan die Oos-Rand vasgetrek nadat hulle die spoedgrens oorskry het.

Twee van hulle is op die N3-Suid tussen die Linksfield-afrit en die Gillooly’s-wisselaar afgetrek toe hulle onderskeidelik 167 km/h en 165 km/h gery het. Een van die motoriste het aangevoer sy passasier het asma en moet dringend by die huis kom. Die ander het beamptes probeer oortuig hy is laat vir werk.

Nog nege jaagduiwels is op die R21 tussen die Pomonaweg-brug en die R23-brug vasgetrek. Die motoriste, almal mans tussen 21 en 45 jaar oud, is betrap waar hulle tussen 164 km/h en 194 km/h gejaag het.

Hulle is in die Kempton Park-polisiestasie se selle toegesluit voordat hulle later op borgtog van R1 000 elk vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johnnie ·

As pad verbruikers nie by die wetlike spoed wil bly nie moet hulle maar swaar gestraf word. Ek het geen simpatie met hulle nie want op daai spoed het jy geen beheer oor jou voertuig as iets gebeur nie,

GM ·

Ek sê nou glad nie mense moet jaag óf onverantwoordelik wees nie, maar ek ry eerder saam met ‘n persoon wat vinnig ry, en kan ry, as saam met een wat teen ‘n slakkepas ry en onseker is van hulself.
Dis dié wat teen 20km/uur voor ‘n voertuig, wat teen 120km/uur ry, wil inswaai, wat die groot probleem is.
‘Keep left, pass right’ sou vele probleme opgelos het.
Toegegee, 210km/uur is bietjie ‘TE braaf wees’.

Morrie ·

Ek stem, die probleem is net dat 99% van die wat so jaag dink hulle kan bestuur, maar hulle weet bokkerol van volg afstand nie. Dis eending om te kan jaag, dis n ander ding om n verantwoordelike en bedagsame bestuurder te wees. As jy wil jaag, gaan doen dit op n plek wat daarvoor gemaak is, anders, neem asb die ander mense om jou se lewens in ag.

Vra maar net ·

Hoekom borgtog. Sluit hulle toe tot in die nuwe jaar. Al die berigtr oor padsterftes is genoeg bewys om hulle aan te hou.

sus ·

ja wat, die ouens dink mos metro se voertuie is té stadig … slim vang gewoonlik sy baas

IK ·

Dis tyd vir nuwe verskonings soos die aansmeer van terpentyn . . .

anton ·

Hulle moet die mense wat so jaag se lisensies wegneem en nog n baie groot boete gee!!!
Ek is so moeg om elke dag te moet padgee op die paaie vir die mense wat hulle nie steur aan die spoedgrens nie.
En ek praat nie van iemand wat net so 10 tot 20 km/h oor die spoedgrens ry nie.

Petro ·

Kersfees in die tronk is wat hulle dalk volgende keer 2 keer sal laat dink… Idiote

Louis ·

Hoeveel mense is gevang wat op blind hoogtes voertuie verbygaan. Het ook nog nooit kamaras daar gesien nie. Maar as jy te vinnig ry word jy gevang. Ek ry vinnig veral deur die karoo. Dit hou my wakker, het al probeer om stadig te ry, dit maak my loomerig en my aandag op die pad neem af. Se ook 210 km per uur is n bietjie rof. Ry wat die pad jou toelaat om te ry, dit was die spoed toe ek my lisensie gekry het en neem anderpad gebruikers in ag. Lyk my daar is net 2 oortredings op die pad, spoed en dronk bestuur. Vir dronk bestuur stem ek sluit toe en gooi die sleutels weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.