
Die metropolisie in Gauteng het 11 spoedvrate oor die afgelope naweek in hegtenis geneem. (Argieffoto)
Elf spoedvrate moes rem aanslaan toe hulle oor die afgelope naweek deur die metropolisie in Gauteng afgetrek en in hegtenis geneem is. Dié jaagduiwels het almal tussen 160 km/h en 210 km/h op die snelweg gejaag.
Luidens ’n verklaring deur die metropolisie was die oortreder met die hoogste spoed ’n motorfietsryer (52) wat teen 209 km/h in ’n 120 km-sone op die R21-snelweg gery het. Dié bestuurder is amptelik van roekelose en nalatige bestuur aangekla. ’n Bykomende klag staar hom ook in die gesig omdat hy die spoedgrens van 120 km/h op ’n snelweg oorskry het.
Die oortreder met die laagste spoed was ’n 35-jarige man wat teen 160 km/h op die N14-snelweg gery het. Die spoedgrens hier is ook 120 km/h.
Die spoedvrate is onder meer by die Olifantsfontein, Wierdabrug en Bronkhorstspruit-polisiestasie in aanhouding en sal na verwagting vandag (Maandag) in die onderskeie landdroshowe verskyn.
“Oormatige spoed dra beduidend by tot die hoë getal sterftes op Gautengse paaie. Dis belangrik dat bestuurders spoedbeperkings gehoorsaam sodat lewens gespaar kan word,” het Sello Maremane, metropolisiewoordvoerder, gesê.
“Die Gautengse metropolisielede sal hulle daarop toespits om meer hoëspoed-operasies uit te voer in ’n poging om padveiligheid te bevorder.”
Maremane het ook ’n beroep op alle padgebruikers gedoen om aan voorgeskrewe padreëls gehoor te gee en binne die snelheidsperk te ry.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
MM, “en sal na verwagting vandag (Dinsdag) in die onderskeie landdroshowe verskyn.”, is ons nie nog op maandag nie
Die gereg moet besluit tussen die spoed of roekelose klagte. 1 misdryf kan nie albei klagtes gebruik nie.
ʼn Gebrek aan spoek kan ook soms fataal wees.
En tog kan die bloulig bendes ONGESTOORD teen die spoed van lig by die selfde spoed beheer punte deurjaag?
En met my stelling keer ek nie die optredes van die persone wat aangekla is goed nie.
Dit is net die standaard van wetstoepassing in SA wat vir my ONVERSTAANBAAR IS
Spoebeheptheid. ‘n Taxi deur ‘n rooi lig teen 80 km/h is gevaarliker. 45% van sterftes is dronk “community members” op ons hoof paaie.
Dronkbestuurders is vlg my die meeste aandadig en dan spoedvrate. Hou padblokkades en gee dan die ware statistiek van hoeveel dronkbestuurders oor die naweek afgetrek is.