Talle Kaapse ‘verkragters’ nie vervolg

(Argieffoto: SA Polisie)

Daar is nog nie uitspraak gelewer in één van die sake van vermeende verkragters wat tussen Maart en Desember verlede jaar in dele van die Wes-Kaap in hegtenis geneem en strafregtelik aangekla is nie.

Dit is ook nie alle vermeende verkragters wat in hegtenis geneem word nie. In slegs 63% van die sake is verdagtes in hegtenis geneem.

Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, beoog nou om ’n skrywe aan die provinsiale polisie-ombudsman te rig waarin hy ’n sisteemondersoek sal versoek na die manier waarop verkragtingsake by die polisie aangemeld en hanteer word.

Dít volg nadat die Wes-Kaapse wetgewer die onlangs bekendgemaakte misdaadstatistieke in dié provinsie vir die tydperk 1 Maart tot 31 Desember 2020 nagegaan het. Hiervolgens is 131 verkragtings gedurende dié tydperk by die Mitchells Plain- en Lentegeur-polisiestasie aangemeld.

Uit die 131 gevalle wat aangemeld is, is slegs 83 (63%) verdagtes in hegtenis geneem en klagte teen hulle aanhangig gemaak. Dit is steeds nie duidelik wat met die oorblywende 48 sake gebeur het nie.

Hoewel oortreders in 83 sake in hegtenis geneem is, is net 59 verdagtes in dié stadium verhoorafwagtend. Uit die oorspronklike 131 aangemelde sake is nog net een saak in die verhoorstadium. Uitspraak is nog nie gelewer nie.

Fritz bestempel dit as “skokkend”.

“Ons faal ons vroue. Ons faal kwesbare lede van ons samelewing. Stel jou voor om deur die absolute trauma van verkragting te gaan, om genoeg moed bymekaar te skraap en ’n saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig te maak net sodat die saak op niks uitloop nie.”

Fritz dring daarop aan dat die Wes-Kaap ’n funksionele strafregstelsel nodig het wat werklik slagoffers van geweld en misdaad dien. “Dit is onaanvaarbaar dat slagoffers van verkragting en geslagsgeweld aan hierdie soort sekondêre trauma blootgestel word weens ’n strafregstelsel wat nie daarin slaag om te verseker dat oortreders aangekla word nie en skuldig bevind word op grond van betroubare getuienis wat geloofwaardig ondersoek is.”

Die provinsiale wetgewer wil met die polisie beraadslaag oor hoe die provinsiale regering formeel kan help om dienste aan slagoffers van geslagsgeweld en spesifiek verkragting te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Hoe lyk die stats vir die res van die land?

Stofdonkie

Hulle is nog te besig om mense te probeer vervolg wat gedurende lockdown op die strand gestap het. Verkragters is nou nie so belangrik om te vervolg soos strandstappers nie.

absoluutgatvol

Mens kan redeneer die vervolgers wat nie hulle werk doen nie net so skuldig aan die wandaad is. En dis die provinsie waar die DA regeer?

akkedismis

Dit is ABSOLUUT n skande.Die OUERS van die wat Dames VERKRAG het nie hul WERK as OPVOEDERS gedoen nie.