Talle kiesstasies gesluit weens betogings

Argieffoto

Argieffoto

Personeel van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moes Saterdag uit sekere gebiede ontruim uit vrees vir hul veiligheid nadat betogings uitgebreek het.

Mosotho Moepya, hoofverkiesingsbeampte, het gesê die verkiesingskommissie het verwag dat daar “gemeenskapsaktivisme” in sekere gebiede sal plaasvind, maar is teleurgesteld dat sekere verkiesingstasies geteiken en OVK-personeel gedreig is. “In sommige geïsoleerde gevalle het OVK-personeel onttrek op aanbeveling van polisiebeamptes. Hulle sal terugkeer sodra die situasie in die gebiede deur veiligheidsbeamptes onder beheer gebring is,” het Moepya gesê.

Hy het gesê betogings het verkiesingstasies in verskeie gebiede geaffekteer, insluitend Mahikeng en Marikana in Noordwes; Malamulelele, Musina, Mogalakwena en Northhampton in Limpopo; Bosbokrand in Mpumalanga; Khayelitsha in die Wes-Kaap; Denver, George Koch en Orange Farm in Gauteng; Ethekwini en Jozini in KwaZulu-Natal; Nelson Mandelabaai, Butterworth en OR Tambo in die Oos-Kaap; Pampierstad in die Noord-Kaap en Maluti-a-Phofung in die Vrystaat.

“Die verkiesingskommissie doen ʼn beroep op alle gemeenskappe om ons beamptes toe te laat om ongestoord met hul werk voort te gaan en om die regte van alle burgers om as kiesers te registreer, te respekteer. Om kieserregistrasie te verhoed om voort te gaan, ondermyn die wese van ons demokrasie,” het Moepya gesê.

“Terselfdertyd is daar duidelik ʼn groot openbare bewustheid van die naweek se registrasiegeleentheid en het ons al groot hoeveelhede kiesers by ons verskillende verkiesingstasies ontvang.”

Moepya het gesê die OVK se webtuiste het Saterdagoggend tegniese probleme ondervind weens die groot aantal besoeke op die webwerf. “Die probleme is uitgestryk en die webtuiste werk nou weer ten volle. Die SMS-lyn het ook vroeër probleme ondervind en meer as 130 000 kiesers het hul ID-nommers gestuur om hul registrasie na te gaan. Hierdie probleme is ook intussen uitsorteer,” het hy gesê.

Teen 13:00 Saterdagmiddag het die OVK-inbelsentrum 10 500 oproepe hanteer, meer as 1500 e-posse ontvang en meer as 1300 navrae op sosiale media beantwoord. Meer as 85 000 persone het ook die OVK-webtuiste besoek.

“Kiesers word daarin herinner dat hulle hul groen ID, slimkaart-ID of ʼn geldige tydelike ID moet saambring om te registreer. Hulle moet ook hul adres by hul verkiesingstasie aanteken, maar ʼn bewys van adres word nie benodig om te kan registreer nie,” het Moepya gesê.

Hy het beklemtoon dat enige poging deur ʼn kieser om buite sy of haar normale woongebied te stem in ʼn poging om die uitslag van die verkiesing te beïnvloed, is ʼn kriminele oortreding en kan tot strafregtelike vervolging lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

StopTheMadness ·

Verkiesing, net soos demokrasie is n westerse konsep wat die vastrap plek in Afrika kry nie.

Oupa ·

En op stemdag brand hulle weer die stem-lokale af omdat hulle name nie op die kieserslyste is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.