Talle kinders in afsonderlike ongelukke beseer

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Tientalle kinders se week is al vroegoggend ontwrig nadat hulle op pad skool toe in afsonderlike ongelukke beseer is.

Altesame 31 kinders is in Noordwes vir geringe tot matige beserings behandel, terwyl agt kinders ook betreklik lig van ʼn ongeluk in Limpopo afgekom het.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, is 31 kinders en twee volwassenes in Potchefstroom beseer toe twee minibustaxi’s teen mekaar gebots het. Een van dié taxi’s het glo teen die ander se agterkant vasgery.

ER24 en lede van Mooirivier Beskerming het om 07:40 die taxi’s langs die kant van ʼn pad aangetref met die kinders wat op die ongelukstoneel rondgedwaal het.

“Paramedici het die kinders ondersoek en bevind dat al die kinders, almal tussen die ouderdomme van drie en 11 jaar, geringe tot matige beserings opgedoen het,” sê Meiring.

“Albei taxi-bestuurders is ook beseer, maar geen ernstige of noodlottige beserings is aangeteken nie.”

Die kinders is saam met die bestuurders na die Potchefstroom‑ provinsiale hospitaal vir verdere behandeling geneem.

In ʼn afsonderlike ongeluk buite Polokwane is agt kinders beseer toe ʼn skoolbus en ʼn minibustaxi op die R71 by Orange Grove Farms gebots het.

Die skoolbus en omgekeerde taxi is om 07:30 deur nooddienste aangetref. Talle kinders het ook op hierdie ongelukstoneel gesit.

“Agt kinders tussen die ouderdomme van vier en 19 jaar oud, het matige beserings opgedoen. Hulle is dadelik na ʼn plaaslike hospitaal vir behandeling geneem,” sê hy.

Die bestuurders van die skoolbus en taxi is nie beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shakespeare ·

Kinders verdien nie hierdie wettelose drek wat in ons land chaos saai nie. Geen beheer oor niks. Bestuurders wat kinders aan boord het behoort aan deeglike vereistes te voldoen. Lekker droom ek in Piesang land.

JohanR ·

Toe ek die berig se hooflyn sien toe se ek sommer taxi’s. Wat anders kan dit in die land wees? Selfs met skoolkinders in jaag hulle asof die duiwel agter hulle aan is. Hoe kry taxi bestuurders selfs ‘n liksensie of is dit maar alles vervals en gekoop?

Cherokee ·

Daar word niks gesê van optrede oor taxis wat oorlaai is.

ES ·

Normale padreels tel mos nie vir hulle nie… en die arrogansie loop mos oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.