Talle klagtes oor uitbetalings van WVF

(Foto: Frantisek_Krejci/pixabay)

Dít wat die departement van arbeid sê met die uitbetaling van eise uit die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) gebeur en dít wat werklik op grondvlak gebeur, is oënskynlik wêrelde uitmekaar.

Heloïse Denner, die VF Plus se woordvoerder oor arbeid, sê die party is die afgelope ruk oorval met klagtes van diegene wat maandeliks gewone voordele uit die fonds ontvang.

Denner sê die fonds verkeer onder geweldige druk weens die toename in eise vir die Temporary Employer-Employee Relief Scheme-voordeel (Covid-19 TERS), die regering se tydelike verligtingsfonds wat in reaksie op die staat van landwye afsondering ingestel is.

Miljoene Suid-Afrikaners sukkel om te midde van die Covid-19-pandemie en die staat van algehele afsondering kop bo water te hou en maak staat op uitbetalings van die WVF.

Volgens die departement van arbeid het die WVF van 16 April tot Woensdag net minder as R1,8 miljard aan begunstigdes uitbetaal. Teboho Thejane, woordvoerder van die departement van arbeid, het gesê die WVF het nét Woensdag betalings van R92 miljoen aan 790 150 werkers gedoen.

“In sommige gevalle is die eise binne 24 uur uitbetaal,” het hy gesê.

Die departement sê hy het sy uitbetalings ingevolge Covid-19 TERS, asook gewone betalings drasties bespoedig sodat werkers nie tydens die afsonderingstydperk verontrief word nie. Uitbetalings vir gewone WVF-voordele soos swangerskap en aflegging het volgens die departement sedert die begin van April R804 miljoen beloop.

Denner sê dit word nie in die werklikheid weerspieël nie.

(Foto: Facebook)

“Die departement het aangedui dat begunstigdes nie soos gewoonlik by arbeidsentrums hoef te gaan teken vir voortgesette betalings nie. Aanvanklik sou gewone begunstigdes SMS-boodskappe ontvang wat in die plek van die handtekening sou dien, maar dit wil voorkom of hiervan ook afgesien is en dat betalings bloot gemaak word,” het Denner gesê.

Sy het gesê vele begunstigdes het egter nie ʼn SMS of hul gewone betaling ontvang nie. Die riglyn van die departement van arbeid is dat ʼn navraag in so ʼn geval gerig moet word.

“Volgens verskeie begunstigdes word e-posse of oproepe egter nie beantwoord nie.”

Die vakverbond Cosatu het ook vroeër sy kommer oor die uitbetaling van eise te kenne gegee.

Ingevolge die regering se hulppakket is R40 miljard geoormerk om werkers te help wat afgelê of met onbetaalde verlof is. Cosatu voer egter aan slegs 2% van geld wat reeds beskikbaar gestel is, het werkers al bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacobus ·

Jip, dis weer ‘n probleem. Al ons goed is reg, geregistreer en ingedien by die nodig instansies en ons is “complaint”, maar daar is weer soveel probleme, want dan kort daar iets en iets is weg ens. Met die departement van arbeid se nuwe eis sisteem, Compeasy< skuld die departement ons alreeds R400k vir dienste gelewer aan pasiënte vanaf November af. As ons daardie geld gehad het sou ons al die werknemers vir 'n paar maande kon betaal, maar nou moet hul egter afgelê word. BAIE DANKIE die uwe meneer Thembelani Thulas Nxesi dat julle as ANC julle mense in die steek laat. Ek hoop hulle klop by julle aan eendag, want tans is hulle werkloos..!!

Nie Verbaas ·

Nog n “pluimpie” in die hoed vir die department vol bevoegde mense. Net 2% van uitbetalings die gunstigtes bereik? Waar is die res van die geld?

Wondermaarnet ·

Natuurlik in die kaders se sakke! Elke situasie sal hulle uitbuit en hul eie mense ly daaronder.

Wondermaarnet ·

En so trek mense wat nog nooit ‘n sent vir UIF bygedra het nie ook voordeel.

Fedup ·

And here comes the covetous anc, trooping in a extremely straight lines, hands waiting to grasp the loot, once again. thejane, really got lost with this one. That money went missing. This is not the da’s problem.
How generous and proud ramaphosa must feel now.

Ben ·

Kan mens nie klaring kry oor. Biljoene en miljarde nie.
Ai!!!!!!!!!!!

Jacqueline ·

Ek sal liewer nie in plein afrikaans sê hoe ek voel oor hierdie TERS aansoeke nie. Het vir die meeste van my kliënte aansoek gedoen waarvan 1 afgekeer is sonder enige rede. Bel jy die sogenaamde call centre dan vat hulle net jou besonderhed en sal jou of terugbel of epos wat ek sterk twyfel gaan gebeur. Dis net tydmors en vals hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.