Talle koalisies dalk SA se voorland

Stemme word tydens die verkiesing in 2019 getel. (Argieffoto: Rajesh Jantilal/AFP)

Talle mense is bekommerd dat die party agter wie hulle op 1 November hul kruisie trek, na afloop van die verkiesing noodgedwonge ʼn koalisie met ʼn ander party moet aangaan weens gebrek aan ʼn volstrekte meerderheid. En dit is hierdie dikwels wankelrige samewerkingsooreenkomste wat mense moeilike vrae oor hul stemkeuse laat vra.

Kenners sê hoewel koalisieregerings tot chaos kan lei, moet dit nie sommer uit die staanspoor afgeskryf word nie.

Die grondwetkenner Pierre de Vos skryf vandeesweek op Constitutionally Speaking koalisies kan tot onbestendigheid en chaos in die regering lei – en dat dit tot nadeel van kiesers is.

“Op papier is dit nie noodwendig ʼn slegte ding (veral in ʼn demokrasie waar een party oorheers) wanneer geen party ʼn volstrekte meerderheid in ʼn nasionale, provinsiale of plaaslike regeringsverkiesing wen nie […] omdat politieke partye moet saamwerk en ʼn middeweg vind om ʼn stabiele regering te vorm en doeltreffend te regeer,” sê prof. De Vos.

“In praktyk was dit egter nie die ervaring op plaaslike regeringsvlak in Suid-Afrika nie,” sê De Vos en voeg by dat redes hiervoor onder meer toegeskryf word aan die politieke onvolwassenheid van partye, die huiwering van kiesers om partye te straf wanneer onbestendigheid heers en die finansiële selfbelang van sommige verkose verteenwoordigers.

Hy sê met uitsondering van die seweparty-koalisieregering wat in 2006 na die verkiesing in Kaapstad gevorm is, was koalisie- of minderheidsregerings op plaaslike vlak tot dusver nie ʼn rasende sukses nie en kon dit byvoorbeeld gesien word in die chaos in die Nelson Mandelabaai- en Tshwane-metro ná die 2016-verkiesing.

Dr. Craig Moffat, verbonde aan Good Governance Africa, sê koalisiepolitiek kan ʼn nuttige manier wees om ʼn regering te versterk omdat meer belanghebbendes ʼn stem kry. Daar word aanvaar dat partye ʼn koalisie versigtig oorweeg voor hulle daarby aansluit en besluite soos of samewerking met die koalisie die beste manier is om politieke of maatskaplike probleme op te los, is noodsaaklik.

Die Stad Kaapstad se raadsaal. (Argieffoto: Helen Zille/Twitter)

“Die belangrikste is dat politieke partye moet besluit of hulle waardes genoeg ooreenstem met moontlike vennote omdat dit die fondament en sement gaan wees waarop die koalisie gebou gaan word.”

Hy waarsku egter dat wanneer ʼn koalisie skeefloop – en in Suid-Afrika het dit al telkens – dit tot nadeel van goeie regering en dienslewering is.

Prof. Dirk Kotzé, ʼn politieke ontleder aan Unisa, sê egter die koalisie wat destyds in Kaapstad aangegaan is, is ʼn bewys dat samewerkingsooreenkomste nie uit die staanspoor afgeskryf moet word nie. Hy sê daar is ook verskeie voorbeelde wêreldwyd van koalisieregerings wat suksesvol saam regeer – onder andere Duitsland, Nederland en Israel.

“Dit hang af van die leierskap wat betrokke is, asook van die wyse waarop mag gedeel word,” sê Kotzé.

Op plaaslike regeringsvlak kan dié magsdeling onder meer behels dat verskillende partye ingevolge die ooreenkoms byvoorbeeld die speaker of hoofsweep in die raad kan aanwys.

“Hierdie is nie ʼn nasionale of provinsiale verkiesing nie. Mense kyk steeds deur een prisma daarna, maar jy moet na elke dorp of stad se omstandighede kyk en hoe dit na afloop van die verkiesing kan verander,” sê Kotzé.

Wie skaar hul by wie?

Die politieke ontleder JP Landman sê meningspeilings plaas die ANC se steun tydens die verkiesing in hierdie stadium op tussen 49% en 50%, met 18% tot 21% vir die DA en 13% tot 15% vir die EFF.

“Dit kan baie moontlik teen verkiesingsdag verander; opnames is ʼn weerspieëling van ʼn spesifieke tydstip, nie ʼn voorspelling van wat in die toekoms gaan gebeur nie,” sê hy.

“Selfs as die groot verskille in stemme op kiesdag ʼn werklikheid word, gaan die uitslae in individuele metro’s en dorpe veel nader wees en koalisies gaan nodig wees om ʼn regerende meerderheid te vorm.

“Dit lyk of koalisies die kern van die saak gaan wees. Die kuns gaan egter wees wie presies hulle by wie gaan skaar.”

Gebruik stem vir verandering

Plaaslike regerings is die regeringsfeer naaste aan mense wanneer werklike dienste gelewer word en dit het ʼn uitwerking op hul alledaagse bestaan. (Argieffoto: ANA)

Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by die burgerregtegroep AfriForum, sê ʼn munisipale raad se primêre funksie is om oorsig en rigting te verskaf sodat inwoners hul basiese dienste kan ontvang. Wanneer hierdie rol behoorlik vervul word, gaan dit op voetsoolvlak gewoonlik betreklik goed met ʼn plaaslike owerheid.

“Ons het egter gesien dat munisipale strukture gebruik word om guns vir die groot politieke party te kry,” sê Mostert en waarsku dat die fokus op dienslewering dan in die slag kan bly.

Boonop het ʼn beleid van kaderontplooiing beteken mense is op elke sfeer van die regering aangestel om die ANC se doelwitte na te streef, sê hy.

“Die swak dienste wat die ANC gelewer het, het hulle begin inhaal. Die meeste mense wil graag dienste hê en die leë beloftes van die ANC is nie meer genoeg om stemme te wen nie.”

Mostert meen om hierdie rede fokus byna alle opposisiepartye in hul verkiesingsveldtogte op die lewering van dienste. “Die ANC kan nie op grondvlak dienste lewer nie en waar hulle dit lewer, is dit swak,” sê Mostert.

Hy meen opposisiepartye gebruik die fokus op dienslewering – of die gebrek daaraan – om ANC-ondersteuners weg te rokkel.

“Ek dink dit sal goed wees as daar verandering in munisipale rade is en tot so ʼn mate dat die samestelling van rade verander en daar ʼn ander benadering tot dienslewering kan kom.”

Of ʼn koalisieregering noodwendig altyd die oplossing gaan wees, is hoogs onseker.

Mostert meen om ʼn opposisielid in ʼn munisipale raad te wees, maak dit noodwendig moeiliker om dinge gedoen te kry, maar ʼn “mens moet steeds verstaan dat die raad se eerste verpligting altyd is om dienste te lewer”.

Plaaslike regerings is boonop die regeringsfeer naaste aan mense wanneer werklike dienste gelewer word en dit het ʼn uitwerking op hul alledaagse bestaan.

“As jy weet jou raadslid het nie verseker dat dienste gelewer word nie, moet jy jou stemreg gebruik om te kyk of jy die samestelling van die raad kan help verander.

“Dienste is die fokus van hierdie verkiesing en een manier om ʼn uitwerking op die magsbalans te hê, is om jou stemreg te gebruik.”

Geen kitsoplossings

(Foto: Twitter via @IECSouthAfrica)

Kotzé sê ʼn verkiesing kan egter nie oornag oplossings vir diepgewortelde probleme bied nie.

“Sake kan op die lang duur verander, maar daar is nie kitsverandering nie. Dít is wat mense moet verstaan.”

Kotzé waarsku dat hoewel ʼn verkiesing die magsverhouding binne ʼn regering kan verander, veral in koalisies, die regering ook doeltreffend ondersteun moet word deur die amptenary. Dit is nie altyd so maklik nie, aangesien raadslede en hul amptenare nie altyd om dieselfde vuur sit nie.

“Wat betref kwessies soos die begroting of finansiële bestuur … dít is waar die mees direkte verandering kan plaasvind.”

Kotzé meen die professionalisering van die staatsdiens, ook op plaaslike vlak, is onontbeerlik en dit is ʼn kwessie waarop pres. Cyril Ramaphosa al geruime tyd hamer. Kotzé sê die amptenary moet losgemaak word van politieke invloed en bekwame amptenare moet aangestel word om die werk gedoen te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Harley Davidson ·

Totale mors van tyd ek lees gister omtrent 500 partye het geregistreer vir die komende verkiesing is dit nou belaglik of nie?

Frik ·

Ek glo VF Plus gaan goed doen in die verkiesing en betrokke wees by verskeie koalisies.
Dr. Pieter Groenewald het dit ook duidelik gestel dat VF Plus nie in koalisies sal gaan met ANC en EFF nie
Koalisies is n goeie ding want ons kan nie
meer toelaat dat ANC aan bewind bly en ons munisipalitete verder verval nie.
Kiesers moet dus sorg dat hul gaan stem op 1 November en die verval stop.

AmY ·

Is dit enigsins nog die moeite werd om te gaan stem?
Die partye kom nie eens hul beloftes na nie.
Ek wil nie weer vir twee ure in ‘n ry gaan staan en niks gebeur nie.

Jannie van Niekerk ·

Dit is absoluut noodsaaklik dat jy moet gaan stem. Elke enkele stem tel wat teen die ANC, EFF en Ocosa (wat ook maar net ANC is), uitgebring word. Bv. as die ANC in een wyk 10 stemme het en die DA ook tien, kan jou stem veroorsaak dat die die DA 11 stemme het. (Simpel voorbeeld maar dis net om te bewys dat jou stem tel.) Elke wegblystem versterk net die ANC en EFF.

Frik ·

Ek glo VF Plus gaan goed doen in die verkiesing en betrokke wees by verskeie koalisies.
Dr. Pieter Groenewald het dit ook duidelik gestel dat VF Plus nie in koalisies sal gaan met die ANC en EFF nie.
Koalisies is n goeie ding en ons kan nie meer toelaat dat ANC aan bewind bly en ons munisipalitete verder verval nie.
Kiesers moet dus gaan stem op 1 November sodat die verval in ons munisipaliteite gestop kan word.

AW ·

Sulke dinge in sigself is volgens my nie goed nie,

Julle is welkom om te verskil,

Maar tyd sal leer.

gatgogga ·

Jy is 100% korrek, AW.
In SA kan ons eenvoudig nie saamwerk nie, en koalisies lei daartoe dat geen besluite deurgevoer kan word nie.

JohanR ·

Lekker geld maak besigheid ‘n verkiesing. Moet jy nie R200000 deposito neerle om jou party te registreer nie? 500 teen R200000 = R100 000 000.

annie ·

Frik kry sommer 2 kanse en ons ander is weg. As dit darem nie eensydige voortrek is nie… Verander Maroela nou in ‘n voorsê-party?

Frik ·

Het gesukkel om eerste slag my kommentaar deur te kry en toe stuur ek weer kommentaar.
Ongelukkig is altwee toe geplaas.
Sulke dinge gebeur en daar is dus geen voortrekkery hier te sprake nie!

gatgogga ·

Hier in die Kaap moet ons maar eerder vir die DA stem.
Al is ons kwaad vir hulle, kry ons tog oorwegend goeie dienslewering. Dit is wel jammer dat die DA hulself in die voet geskiet het met die Phoenix plakkaat-debakel. Die Sweizer Renecke situasie het die DA tog reggestel.
Maar as die DA nie volstrekte meerderhede in die Kaap kan kry nie, en geforseer word om in koalisies betrokke te raak, dan is dit glad nie ‘n uitgemaakte saak dat die DA die VF+ sal kies vir ‘n koalisievennoot nie.

lodewyk ·

Vir die mense wat nie wil gaan stem nie,julle maak die ANC/EFF sterker en julle moet dan ook nie meer kla nie,julle bring dit oor julle self en ons wat stem….

annie ·

Jy is so reg. Ek stem vir die Nuwe VF Plus wat vir ons die Kaap gaan annekseer en ‘n nuwe Suid-Afrika gaan skep met die hulp van die Goodies as vennoot en dalk ook die dagga-kwekers van die wynlande. Die ou Kaap soos ons dit aanvanklik geken het kan weer herleef met die hulp van Harry se nasate as ons voorste linie van denkers en doeners. Hoera vir ‘n plan wat sal werk!

Jaco ·

Ek vra die DA mooi, as julle in koalisies aangaan, maak dan ASSEBLIEF julle burgemeesters swart. ONTHOU wat het in Nelson Mandelabaai gebeur: julle koalisie het uiteengespat hoofsaaklik oor julle ‘n wit burgemeester gehad het. Gee ander ook ‘n kans. Dan wys julle sommer ook dat die DA ook swart lede het.

Sarel ·

Koaludies werk nie in SA nie.
Mense moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle keuse.
Mense besef nog nie dat ” Regering van die dag” deur hulle keuse bepaal worf

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.