Talle krane in Tshwane steeds kurkdroog

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Talle inwoners van Pretoria, veral die ooste van die stad, sit nou al dae lank met kurkdroë krane ná ʼn kragonderbreking verlede week by Randwater se Mapleton-pompstasie. Die onderbreking het ʼn reuse-uitwerking op die Vlakfontein-reservoir, wat water aan die Tshwane-metro lewer, gehad.

Hoewel kragtoevoer na Mapleton sedertdien weer ten volle herstel is, waarsku Rand Water dat dit nie dadelik verligting gaan inhou nie.

“Die [watertoevoer]stelsel benodig ʼn hersteltyd van ongeveer ʼn week om weer ten volle te stabiliseer,” het Makenosi Maroo, Rand Water se woordvoerder, Sondag gesê.

Gebiede wat deur die watertekort geraak word, sluit onder meer in Mamelodi, Eersterust, Mooikloof, Grootfontein, Waterkloofrif, Garsfontein, Moreletapark, Elarduspark, Wingatepark, Menlyn, Newlands, Constantiapark, Faerie Glen, Waverley, Villeria en verskeie ander woonbuurte.

Die Tshwane-metro het Sondag gesê die Mapleton-pompstasie word deur ʼn substasie in Ekurhuleni van krag voorsien. ʼn Ondersoek na die onderbreking het gewys dat vandalisme by dié substasie tot die kragonderbreking by Mapleton en die uiteindelike watertekort in die metro gelei het.

Talle reservoirs in die metro was teen Maandag steeds leeg, terwyl watertenks in sommige gebiede ontplooi is. Die instelling van fase 6-beurtkrag vertraag die herstel van watertoevoer nog verder aangesien pompstasies gedurende hierdie tye nie water kan pomp nie.

Volgens die jongste inligting van DA-raadslede in Pretoria is die Garsfontein-reservoir tans 29% vol. Sommige huishoudings wat in laagliggende strate geleë is, het al ʼn bietjie water ontvang.

Die Elarduspark-reservoir, wat water aan Elarduspark, Moreletapark en Wingatepark voorsien, staan egter op 1,5% omdat dit nie genoeg water van die Garsfontein-reservoir ontvang nie.

Die Waverley LL-reservoir is weer 87% vol, die reservoirs in Villeria staan op 18%, Parkmore LL-reservoir op 36%, Parkmore HL-resevoir op 18%, Waverley HL-reservoir op 50%, Monumentpark-resevoir op 70%, en die Carinastraat-reservoir (Waterkloofrif) op 36%.

Teen Maandagoggend was die Eersterust-, Mamelodi R1 en R3-, Mooikloof- en Grootfontein-reservoir nog leeg.

Inwoners help mekaar

Pretorianers wat wel water het, het intussen hul huise (en krane) oopgestel sodat inwoners sonder water daar kan kom stort, klere was en selfs kan eet. Kerke, skole, lodges en selfs ondernemings met boorgate stel ook water aan inwoners beskikbaar.

Op die Facebook-groep Ek’s van die Ooste het verskeie inwoners hul misnoeë oor die watersituasie te kenne gegee. Kinders – en hul skoolklere – bly vuil.

“Ek verstaan almal is gefrustreerd, ons is self in ʼn gebied waar ons niks water het nie. Dit is vir my nou al amper erger as beurtkrag. Maar wat so ongelooflik is, is om te sien hoeveel mense wat wél water het, hul huise oopstel vir vreemdelinge om daar te kom stort, bad en wasgoed was. Dit is wat ons in Suid-Afrika uniek maak. Swaarkry en donker tye ten spyt, ons staan saam! Dankie, julle,” het een gebruiker gesê.

“Dit was wonderlik om ʼn gesin van vyf by ons te hê vir stort en ʼn lekker bord kos. Eendrag maak mag. Ons moet saamstaan en help waar ons kan. Dit is so lekker,” het nog ʼn inwoner gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Om te dink die BRICS-lid, naamlik Suid-Afrika, se kwaliteit dienslewering aan sy bevolking is só pateties. Tyd dat SA uit BRICS gesmyt word!

Pieter ·

Pretoria was eens ‘n stad waar dinge meestal goed gefunksioneer het. Ek is nou dankbaar ek bly nie meer daar nie

Anel ·

Lyk my die is ‘n teken van ons ou nasie. Ons baklei soos kat en hond met mekaar maar as daar nood is kan almal saam staan en ‘n hand van vriendskap uitsteek. Wat ‘n mooi eienskap. En dít maak ons nadie so uniek!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit mag so wees, maar ons kan ook nie opstaan en ons stemme dik maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.