Talle Mango-vlugte weens staking gekanselleer

Argieffoto (Foto: Bluesnap, Pixabay)

Mango moes Maandag bontstaan om al hul passasiers, te midde van ʼn staking deur die lugredery se vlieëniers, wel by hul bestemmings te kry.

Die staking het Maandagoggend begin nadat salarisonderhandelinge tussen die lugredery en die vlieëniers vasgeval het. Mango het vanoggend op sy amptelike Facebook-blad lyste van vlugnommers geplaas van vlugte wat gekanselleer of herskeduleer is. Volgens die lugredery is sommige kliënte na ander lugrederye se vlugte oorgeplaas. Verskeie Mango-vlugte is Maandag met ongeveer twee uur vertraag.

“Mango wil al ons passasiers verseker dat ons daaraan werk om seker te maak dat hulle vandag by hul bestemmings uitkom. Alle passasiers is gehuisves en ons sal via SMS, e-pos of by die Mango-toonbanke inligting gee oor vertragings of kansellasies. Gaan asseblief soos gewoonweg na die inboek-toonbank indien jy geen kommunikasie vooraf ontvang nie,” het die lugredery op sy webwerf versoek.

Maroela Media het vroeër berig die vakbond Solidariteit het Sondagaand bevestig dat sy lede, wat 95% van die vlieëniers by Mango uitmaak, vanaf vanoggend om 05:00 begin staak het nadat onderhandelinge “in duie gestort het”.

“Die vakbond het Sondag met die bestuur van Mango byeengekom om tot ʼn moontlike skikking te kom rakende salarisonderhandelinge vir sy lede wat onder andere kapteins en eerste offisiere by die lugredery insluit,” het Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, gesê.

“Ongeag die werklikheid dat Mango se vlieëniers aansienlik minder verdien as die bedryfsnorm, het bestuur geensins daarin belanggestel om met sy werknemers te onderhandel nie. Mango-bestuur het bloot voet by stuk gehou dat hy nie sy aanvanklike aanbod van 6% sal hersien nie, terwyl die vakbond sy mandaat sou aanpas in ʼn poging om die onderhandelinge te laat slaag,” het Reyneke verduidelik.

Hy het gesê hoewel Solidariteit die nodige kennis oor die beoogde staking gegee het, was Mango se bestuur nie geneë om met die vakbond te vergader nie en is hulle ook nie bereid om werknemers tegemoet te kom met salarisverhogings nie. “Mango het Solidariteit-lede dus met geen ander keuse gelaat as om die ongewenste stap van ʼn staking te volg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Loeis ·

Besighede het dikwels ‘n “gaan bars” houding, totdat dit hulle begin geld kos. Dit is een taal wat hulle verstaan. Kom ons kyk hoe lank die staking anahou voordat Mango se direkteure hulle houding verander.

Terloops, SAA besit Mango. Dit lyk dus of Mango help om die Dudu soustrein by SAA te finansier. Praag het verlede week nogal ‘n giftige artikel oor parasiette wie SAA fondse suig (en dus ook die reddingsbooie wat uit ons belasting geld kom), geplaas.

Banana ·

Ja wat, as die ander kan brand en klipgooi en breek en staak en vernietig, die ouens staak ordentlik en steeds is die wereld in rep en roer. Steeds is die kultuur nie dat die vliegtuie uitgebrand word nie, dit is ‘n verantwoordelike staking waar mense te kenne gee dat hulle ontevrede is. As iets nie ontwrigting veroorsaak nie wil die regering en bestuur NIE LUISTER NIE!! Hoop hulle los gou julle probleem op.

E.K. ·

Die grap van die saak is Mango klop glo by SAL aan vir hulp – maar hulle is self so diep in die rooi! Volgens ‘n nuusbrief vandag is uitgewerk dat as AL die geld wat die regering die afgelope jare in SAL gepomp het om di tin die lug te hou bymekaargesit is kon hul ‘n goeie redery so Emirates kontant koop! Of hul kon ek weet nie hoeveel jongmense deur universiteit kry wat sou veroorsaak dat daar groei is omdat die jonges besighede sou begin, werk kon veskaf en ons internasionale beleggingsinspuitings sou kry! Ek weet nie hoeveel huise kon gebou word en…en..en! Mango was nog alty d’n vrot vrug en moes nooit eers begin vlieg het nie – net nog een aan die droë spene van die guskoei SAL

Koos1 ·

Is hierdie dan nou nie die perfekte geleendheid vir die SAL om ontslae te raak van Mango nie. Mango was nog winsgewend en daarom kom SAL nie van hulle ontslae raak nie, nou kan Mango se wins knak en dit kan die geleendheid skep dat SAL van hulle onslae kan raak en heel moontlik vir ‘n verminderde prys aan iemand (lees moontlik Guptas) verkoop.
Niks kan my meer verbaas nie!

Johanna Botha ·

Vlieg gladnie saa of mango nie presies agv die rede !

Jones ·

Hulle beter baie vinnig hulle dienste hervat
My seuntjie het sy pa 10 maande laas gesien en word die naweek ses
Sy pa het n mango kaartjie om te kom vir sy verjaarsdag

Wil nie die een wees wat aan hom moet verduidelik sy pa kom nie meer nie

Josua Keys ·

Ek kan nie glo dat in vandag se lewe enige groot vliegtuig van SA nog in die lug kan bly nie, as n mens bv die koste vat van een Boeing/ Airbus om dit in die lug te hou, bande, petrol, onderhoud, elektronica, admin ens en om nie eens die koste van die aankoop van die vliegtuig te noem nie kan ek geensins sien hoe dit winsgewend kan wees nie, vlieniers vlieg daagliks dubbel skofte net om die kostes en uitgawes te delg, dan is van die vliegtuie nie eens vol bespreek nie. Met die swak Rand en alles wat ingevoer moet word om die vliegtuie aan die gang te hou en die koste daaraan verbonde omdat die fabrieke wat eens parte vervaardig het in SA vir die vliegtuie hul deure moes sluit agv die omstandighede in die land, BEE, regstellende aksies ens kan ek nie eens sien hoe die manne se salarisse aangepas kan word nie en hulle verdien dit beslis, maar weereens is dit net n bewys van die swak bestuur wat tans in SA van die regering se kant af kom. Sterkte aan die manne en ek hoop julle gaan slaag anders sal julle ook maar die land moet verlaat en oorsee gaan vlieg.

christa ·

gaan Solidariteit nou die mensdom voort om te staak. Hoe laag kan mens daal

Lance ·

Mense, ek mag dalk met klippe gegooi word oor die opmerking, maar ek steun die mense se keuse. Hulle doen hulle werk, daag vroeg op, vlieëniers kry passasiers veilig waar hulle moet wees, kajuit bemanning bedien jou tydens die vlug maar moet tevrede wees met ten minste 30% minder as die standaard industrie betaling ? Nie reg nie ! SAA en al sy onderafdelings moet oorgeneem word deur Emirate of BA/Comair en aanbeweeg. Om hulle die hele tyd uit te bail is sommer tjol ! Ek is jammer v almal wat ongerief ervaar, maar ja as die werkgewer nie wil luister nie….so be it.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.