Talle mense in Durban taxi-betoging beseer

Argieffoto

Argieffoto

Een persoon is Woensdag in die gesig geskiet en verskeie ander beseer tydens ʼn gewelddadige betoging deur taxi-eienaars in Warwick, Durban.

Senior supt. Sbonelo Mchunu, woordvoerder van die Durbanse metropolisie, het aan Maroela Media gesê die betoging het vroegoggend begin en vinnig gewelddadig geraak. Volgens Mchunu het betogers voertuie en geboue met klippe bestook en ook klippe en voorwerpe na polisiebeamptes geslinger. Traangas en rubberkoeëls moes deur die polisie afgevuur word om die situasie in bedwang te bring.

“Die taxi-eienaars is oor verskeie kwessies ongelukkig, insluitend optrede teen hulle deur wetstoepassers,” het Mchunu gesê. Hy het gesê verskeie persone is deur die dag in hegtenis geneem, maar kon nie die presiese getal bevestig nie omdat die inhegtenisnemings nog aan die gang is.

Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het intussen gesê paramedici is twee keer na die toneel geroep, een keer toe iemand in die gesig geskiet is en ʼn tweede keer toe ʼn persoon by ʼn brug af gespring het om weg te kom van die betogers. “Die man het in die Warwick-begraafplaas te lande gekom en het verskeie beserings opgedoen insluitende beenbreuke. Hy is deur ʼn ander ambulansdiens na ʼn hospitaal geneem,” het Rossouw gesê.

Die persoon wat geskiet is, is deur ER24 na die Addington-hospitaal gehaas.

Mchunu kon nie die twee spesifieke voorvalle bevestig nie, maar het gesê daar is verskeie mense tydens die betoging beseer. Hy het gesê lede van die polisie se eenheid vir openbare orde is steeds op die toneel en motoriste word aangeraai om die gebied te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Toe een van my skoonmakers instap het sy vertel dat sy aan een van die taxi-drywers gevra het waarom hulle staak en hy het gesê hy weet nie maar is aangesê om te staak. Iemand anders wat in die middestad was sê dit gaan rof want daar is gevegte. Hulle klagte oor optrede teen hulle deur wetstoepassers is omdat hulle nie vervolg wil word wanneer hulle die pad vir hulself toe-eien en in die middel van die pad en selfs tussen rooi ligte stop vir passasiers. Voorts word vir elke telefoonpaal en straatlig getoet en hulle wil nie daarvoor vervolg word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.