Talle noodgevalle, sterftes op Nuwejaarsdag

Argieffoto

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê Nuwejaarsdag is ontsier deur verskeie noodgevalle en sterftes.

By Muizenberg-strand in Kaapstad is ʼn man en ʼn tien week oue babadogtertjie in twee verskillende voorvalle dood verklaar.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê die man is glo uit die water gered ná ʼn vermoedelike verdrinking. “Ander paramedici was reeds besig om kardiopulmonêre resussitasie op die man uit te voer,” het Lambinon gesê.

Hy het gesê in ʼn onverwante voorval is ʼn baba van net tien weke oud deur haar ma na owerhede op die strand gebring nadat die ma die baba glo in sand op die strand aangetref het. “Ten spyte van die onverpoosde hartmasseringspogings om die pasiënte by te bring, is beide die man en baba op die toneel dood verklaar.”

Die polisie het geregtelike doodsondersoeke geopen.

In Richardsbaai in KwaZulu-Natal is een van die NSRI se reddingsbote na Naval-eiland ontplooi ná berigte van ʼn 15-jarige seun wat in die moeilikheid geraak het en besig was om te verdrink.

Volgens Lambinon het ʼn helikopter van die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNHO) ook gehelp soek na die seun. “Die NSRI se reddingswemmers het die seun uit die water gebring.”

Lambinon het gesê paramedici kon daarin slaag om die tienerseun weer by te bring en hy is per ambulans na ʼn hospitaal geneem. Die seun het egter later in die hospitaal gesterf.

ʼn Soektog is ook steeds aan die gang by die Monwabisi-strand in Kaapstad nadat ʼn 25-jarige man Maandagoggend daar in die see verdwyn het.

In nog ʼn voorval moes die NSRI se Mykonos-bemanning ʼn private boot met vier volwassenes en drie kinders, tussen 9 en 16 jaar oud, na die plaaslike hawe sleep nadat die boot se enjin in Shark Bay in Langebaan onklaar geraak het.

Die NSRI se paramedici het ook ʼn 50-jarige man omstreeks 16:54 in ʼn hotel in Keurbooms behandel nadat hy vermoedelik ʼn hartaanval gehad het. “Die man is in ʼn stabiele toestand na die hospitaal vervoer.”

ʼn 25-jarige man, glo van Heidelberg afkomstig, is ook op Nuwejaarsdag uit die see by Witsand gered nadat hy in die moeilikheid beland het. Volgens Lambinon kon lewensredders daarin slaag om die man weer by te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lena ·

Dis erg hartseer. My pa het my vroeg in my lewe geleer dat die see niemand se speelmaat is nie. Ja, ons lief die see oneindig, maar hê respek vir die groot waters, wees realisties en baie wakker, veral wat kinders en jongmense betref. Die see is lieflik, maar gevaarlik. Hou kop, binnelanders!

Denise ·

Ai dit is hartseer vir my baie erg van die 10 weke oue baba !!!!!!!

Anke ·

Dis waar wat jy sê. My pa het daai presiese woorde vir ons gesê van kleins af.

E.K. die eerste ·

Die NSRI (geheel en al gratis en beman deur “volunteers”)doen wonderlike werk en ek wonder hoeveel mense wat gered/gehelp word doen ooit enige skeninkgs aan hierdie organisasie na die tyd. Hulle sukkel met befondsing en tog is hul altyd daar en op hul poste om te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.