Talle nuwe kankergevalle met drankgebruik verbind

ʼn Standaarddrankie, soos ʼn bier, bevat sowat 10 gram alkohol. (Foto: pixabay)

Wêreldwyd word sowat 741 000 – oftewel 4,1% – van alle nuwe kankergevalle wat verlede jaar bevestig is, aan drankgebruik toegeskryf.

ʼn Navorsingsartikel wat pas in The Lancet gepubliseer is, wys dat tot ʼn driekwart van alle alkoholtoeskryfbare kankergevalle onder mans voorkom, met kanker van die esofagus en lewer – en borskanker by vroue – wat die meeste voorkom.

Suid-Afrika het sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie reeds vier verbodsbepalings op drank agter die rug. In talle gevalle het mense hulle tot tuisgemaakte brousels gewend of nagemaakte produkte in die sluikhandel gekoop.

Daar was die afgelope paar jaar ʼn werklike afname in alkholgebruik in verskeie wêrelddele, waaronder die suide, sentrale en ooste van Europa. Navorsers sê drankgebruik in talle lande suid van die Sahara, Asiese lande soos China, Indië en Viëtnam, neem egter toe.

Gevaarlike en swaar drankgebruik dra die meeste by tot alkoholtoeskryfbare kankersoorte, maar dit is nie net kwaai drinkers wat die gevaar loop om kanker te kry nie. (Foto: Unsplash)

Gevaarlike en swaar drankgebruik dra die meeste by tot alkoholtoeskryfbare kankersoorte, maar dit is nie net kwaai drinkers wat die gevaar loop om kanker te kry nie.

Die navorsers het bevind wanneer drankgebruik in verdere kategorieë opgedeel word, dra matige drankgebruik (minder as 20g per dag) by tot 103 100 alkoholtoeskryfbare kankergevalle. Riskante drinkgewoontes (20-60g per dag) het 291 800 van gevalle bygedra en swaar drinkery (meer as 60g per dag) het luidens die studie 346 400 gevalle veroorsaak.

ʼn Standaarddrankie, soos ʼn bier, bevat sowat 10 gram alkohol.

Die hoeveelheid kankergevalle onder mans wat kwaai drink was die hoogste in suidelike Afrika en Sentraal- en Oos-Europa, terwyl dit onder vroue die hoogste in suidelike en westelike Afrika was.

“Daar is lae bewustheid onder die algemene publiek oor die verband tussen alkohol en die gevaar van kanker. Deur kankerwaarskuwings op dranketikette te plaas, soortgelyk aan dié wat op tabak gebruik word, kan mense ontmoedig word om drankprodukte te koop en bewustheid verhoog word van die kousale verband met kanker,” lui die verslag.

Die navorsers het bevind alkohol veroorsaak ʼn noemenswaardige getal kankergevalle wat moontlik verhoed word deur kostedoeltreffende beleid en ingrypings om mense bewus te maak van die gevare verbonde aan drankgebruik.

Verminderde beskikbaarheid van drank, verhoogde belasting om die prys op te stoot en ʼn verbod op bemarking is volgens die navorsers van die doeltreffendste maniere om gevare te beperk.

“Met alkoholgebruik wat na verwagting in verskeie wêreldstreke tot 2030 gaan toeneem, moet stappe gedoen word om die vermybare las van kanker wat aan alkohol toegeskryf word, te verminder,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

En hoeveel gevalle van voedsel wat bespuit word?

JohanR

Ek kon nog nooit verstaan hoekom jy moet suip tot jy om val. Geniet ‘n drankie of twee, maar moenie elke keur dat jy in geselskap is nie ‘n gat van jouself maak nie. Ek het nou al twee kollegas aan sirrose van die lewer afgestaan. As jou lewer gaar is dan is hy gaar!

Jannie van Niekerk

Ag ja. as drank nie COVID veroorsaak nie, veroorsaak dit KANKER. Wat ek wel weet uit eie ondervinding is dat dit beslis HOOFPYN veroorsaak….Of wil die slim navorsers dalk met my stry?

H.A.

Eers was dit sigarette nou is dit drank. Wat is nou eindelik die storie agter alles ? Dalk die nuwe kommunistiese wereld orde?

Rudolph

Die studie bevestig talle vorige studies se bevindinge. Gewoonte drinkers en drank misbruikers sal die bevindinge soos gewoonlik aflag.