‘Talle ongerymdhede’, maar matriekuitslae goedgekeur

(Argieffoto: pixabay)

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, sê ten spyte van die talle ongerymdhede wat in die afgelope matriekeksamen aangemeld is, is hy tevrede dat geen sistemiese ongerymdhede plaasgevind het wat die geloofwaardigheid van die eksamen in die gedrang kon bring nie.

Die raad het dus die bekendmaking van die uitslae goedgekeur. Die uitslae vir die nasionale senior sertifikaat word op 22 Februarie aangekondig en matrikulante sal hul individuele resultate die volgende dag ontvang.

Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, sê 2020 was weens die Covid-19-pandemie waarskynlik die moeilikste akademiese jaar sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika.

Ongerymdhede

Dit terwyl prof. John Volmink, voorsitter van die raad, sê tegnologie het nog ʼn uitdaging tot die bestuur van ongerymdhede gevoeg. Umalusi het ʼn beroep op alle assesseringsliggame gedoen om hul stelsels te verbeter en te verseker geen vraestelle lek in die toekoms uit nie.

Oor wat presies ongerymdhede behels, het Rakometsi verduidelik dit sluit enigiets in van die uitlek van ʼn vraestel, tot ʼn leerder wat ʼn eksamenvraestel op die verkeerde vlak aflê, leerders wat vergeet om hul selfone in te gee of selfs sonder ʼn ID by die eksamenlokaal aankom.

“Die lys van ongerymdhede is lank en wissel geweldig,” het hy gesê.

Rakometsi sê een van die meer ernstige oortredings is wanneer iemand anders namens ʼn kandidaat by ʼn eksamenlokaal opdaag om die eksamen af te lê.

Volmink het onder meer verwys na die “ongekende” uitlek van die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskappevraestel. Ten spyte van die uitlek van dié vraestelle, was Umalusi tevrede dat die algehele integriteit van die eksamen behoue gebly het.

Diegene wat betrek word by die ongerymdhede, se uitslae mag egter nie bekend gemaak word tot die ondersoek daarna afgehandel is nie. Volmink het ook gewaarsku dat selfs leerders wie se uitslae bekend gemaak word, hul sertifikate kan verbeur as hulle later by ongerymdhede betrek word.

Umalusi vereis ook van die departement van basiese onderwys om sentrums waar ongerymdhede aangemeld is, se uitslae terug te hou.

Volmink het benadruk dat hoewel Umalusi teleurgesteld was met ʼn hofbeslissing dat die twee vraestelle nie oorgeskryf moet word nie, die raad die hof se besluit daaroor respekteer. Die ondersoek na die uitlek van die vraestelle duur intussen voort.

Assesseringsentrums moet teen Maart vanjaar planne aan Umalusi voorlê oor hoe ongerymdhede in die toekoms voorkom gaan word.

Dié vakke is aangepas

Volmink sê meer as ʼn miljoen kandidate het die departement van basiese onderwys se nasionale senior sertifikaat-eksamen afgelê en altesame 65 vakke is vir standaardisering aan Umalusi voorgelê.

Hiervan is die rou punte van 48 vakke (74%) aanvaar. Dit sluit in die punte vir die twee vraestelle wat uitgelek het.

Altesaam nege vakke is opwaarts (14% van vakke) en agt vakke afwaarts (12%) aangepas.

Umalusi sê ʼn gemiddelde punt word oor ʼn vyfjaartydperk bepaal en indien die jaarlikse gemiddeld wesenlik van hierdie syfer verskil, word die punt aangepas. Daar moet egter ʼn verduideliking gegee kan word oor hoekom punte in ʼn spesifieke jaar beduidend meer of minder as die historiese prestasiesyfer is.

Punte mag nooit met meer as 10% aangepas word nie.

Onafhanklike skole

Meer as 12 000 voltydse kandidate en net meer as 1 100 deeltydse kandidate het die onafhanklike eksamenraad (IEB) se eksamen afgelê. Uit die 66 vakke wat vir standaardisering voorgelê is, is die rou punte vir 46 vakke (70% van vakke) aanvaar; die punte van agt vakke is opwaarts aangepas en die punte van 12 vakke is afwaarts aangepas.

Ook hier het Umalusi geen wydverspreide ongerymdhede gevind wat die geloofwaardigheid van die eksamen in die gedrang kon bring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Kan ek maar in Engels se…..”go forth and multiply 30 percenters!” All the best to the 20 70 percenters!

Alet ·

Hoekom enigsins die punte aanpas? Jy kry wat jy kry. En die ministers is mos nie gepla oor die 30%’s nie en met al die BEE gaan hulle almal werk kry so hoekom hulle punte aanpas? Dis hoekom die spulle so sukkel om reg te kom op universiteit.

Karen ·

Jammer, kan iemand asb verduidelik, ek is nie ssker of ek reg verstaan nie. Word die slaagvereiste van die vakke aangepas, of word die leerder se punt volgens’n formule aangepas?

Alet ·

Die leerders se punte word aangepas. Hulle doen dit met blokverskuiwings. Die wat te hoog is se punte word minder en die wat te laag is se punte word meer om ‘n beter normaal distribusie van punte te kry

Karen ·

Dankie Alet. Dis mos dan eintlik bitter onregverdig. Maw “jy het te hard geleer, hier is vir jou ‘n laer punt, en jy is te ver agter rie ander, hier is vir jou ‘n hoër punt.

Johann ·

E e e e e…up…down….eeekwil…betta…supa betta….eish….wehel dun fellouw souwf africins!

Pandora1 ·

IEB is presies wat dit sê… ‘n ONAFHANKLIKE EKSAMENRAAD. Hoekom enigsins peuter aan die kandidate se punte?? Maak nie saak opwaarts of afwaarts nie. Jy sal nooit daarvan hoor dat Cambridge hulle punte op- of afwaarts aanpas nie.
Asof Umalusi nie genoeg gespeel het met matriekuitslae nie. Die staat se vraestelle is al meer as ‘n maand terug klaar gemerk, IEB sin al middel Desember. Hoekom eers die uitslae die 22ste Februarie vrystel?
Matrikulante wil aansoek doen by universiteite, kolleges en ander tersiêre leerinstellings om verder te studeer, maar het vir alles hulle matrieksertifikaat nodig. Selfs om aansoek te doen vir werk het jy in baie gevalle ‘n matrieksertitifaat nodig.
Liewe Umalusi en die Departement van Onderwys. Julle FAAL die matrieks van 2020!! En nie net deur die klug wat julle matrieksertifikate noem nie.

Hennie J ·

En die kripvretende amalusi kaders is dolgelukkig. Hulle kon weer daarin slaag om piesangland se inwoners te kul en kinders wat presteer te na te kom en volgende jaar het hulle nog steeds hulle lekker jobs.(Daar is baie ander meer toepaslike woorde wat in plaas van ‘kul’ gebruik kon word.)

Tanniepetoors ·

So, ‘n kandidaat wat vir een of meer van die nege vakke wat opwaarts gemerk is net minder as 30% verwerf het en dus eintlik gedruip het, slaag nou Graad 12. My nek is sommer seer soos ek my kop in ongeloof skud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.