Talle ontsnapte krokodille in Breërivier van kant gemaak

(Argieffoto)

Nadat 27 krokodille van ʼn plaas buite Bonnievale in die Wes-Kaap reeds gevang is, is sewe van die gesoekte krokodille Donderdagaand noodgedwonge van kant gemaak.

Nog ses krokodille is opgemerk, maar kon tot dusver nog nie gevang word nie.

Die diere het Woensdagoggend ontsnap.

Petro van Rhyn, woordvoerder van CapeNature, sê die polisie het vier bote en agt van sy duikers beskikbaar gestel om op die nagtelike patrollies na die krokodille te help soek.

“Hoewel ʼn aantal vanghokke met aas aanvanklik neergesit is in ʼn poging om die diere te vang, was die poging nie baie doeltreffend nie omdat die diere oorgenoeg toegang tot kos in die rivier het,” sê sy.

“Die toegegroeide rivier en digte plantegroei op die oewer bemoeilik ook die pogings om die krokodille te vang. Hulle is nagdiere en die beste tyd om na hulle te soek is dus snags. Dit veroorsaak weer ander uitdagings met sigbaarheid.”

CapeNature sê omdat hulle blitsig moet werk, was daar geen ander keuse as om sewe van die krokodille wat opgemerk is, van kant te maak nie. Die krokodille is inheems aan Suid-Afrika, maar kom nie natuurlik in die Wes-Kaap voor nie.

Dr. Razeena Omar, uitvoerende hoof van CapeNature, sê dit is jammer dat sulke ingrypende stappe nou gedoen moet word. CapeNature beskou die veiligheid van die omliggende gemeenskap egter as die grootste prioriteit, wat die dringendheid om die res van die krokodille op te spoor, selfs meer benadruk.

Sy sê die situasie verander deurlopend en pogings om die diere te vang móét in die belang van openbare veiligheid doeltreffend wees.

“Die verantwoordelikheid rus steeds op wildlewe-eienaars om streng aan permitvoorwaardes te voldoen. ʼn Deeglike ondersoek, gelei deur CapeNature, moet vasstel of daar enige oortreding in die voldoening aan regulasies was wat tot die ontsnapping van die jong krokodille kon gelei het,” sê Omar.

Intussen duur die soektog deur die krokodille se eienaar met die hulp van die polisie en omliggende grondeienaars voort en daar sal deur die nag gepatrolleer word.

In hierdie stadium word die gebied sowat 5 km stroomop van Robertson en sowat 5 km stroomaf vanaf Swellendam steeds beskou as die sleutelgebied vir waarneming en die moontlike vang van die krokodille.

Mense is versoek om weg te bly van die diere en die Bonnievale-polisie dadelik by 023 616 8060 te bel as hulle enige krokodille opmerk.

Die krokodille is elk tussen 1,2 m en 1,5 m lank en is oënskynlik “medium-gevaarlik” vir mense omdat hulle gereeld kos gekry het, op ʼn plaas grootgeword het en gewoond is om gevoer te word eerder as om vir hul kos te jag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Flip ·

Hoe ontsnap n krokodil? Het hulle n sleutel gereël by een van die wagte en in die nag uit geglip terwyl almal slaap? Is die krokodille bewus dat hulle ontsnap het?

Johnny ·

Jy vang mý nie – met óf sonder ‘n duikpak – in daai water nie . . .

Keith ·

No need to do costly investigations, the owners or their staff were negligent and should rectify the situation and make sure that every crocodile is accounted for. Crocodiles in a previously crocodile-free river (?), that’s a chilling thought. Ag nee man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.