Talle pienkvoete vir plaaslike, internasionale bekendes in 2020

Die ooievaar het vanjaar ʼn draai gemaak by ʼn hele paar plaaslike en internasionale bekendes. Ons kyk terug op die babas wat reeds hul opwagting gemaak het, asook wie se babas op pad is.

Swangerskappe

Eugenie (30) het die nuus op haar Instagram-rekening met ʼn foto van die oulikste Jack Lewis-beertjiepantoffels gedeel. (Foto: Instagram.)

Prinses Eugenie en Jack Brooksband verwag hulle eerste kind en die baba sal sy of haar opwagting waarskynlik vroeg in 2021 maak.

Die Britse koningshuis het die nuus bevestig met ʼn amptelike verklaring. Eugenie (30) het die nuus op haar Instagram-rekening met ʼn foto van die oulikste Jack Lewis-beertjiepantoffels en nog ʼn stralende foto van die paartjie saam gedeel. In ʼn onderskrif by die foto’s het Eugenie geskryf sy en Jack is opgewonde oor die komende jaar.

Die baba sal die eerste kleinkind vir Eugenie se ouers, prins Andrew en Sarah Ferguson, wees, terwyl dit die koningin en hertog van Edinburgh se negende agterkleinkind is. Hulle kind sal ook die elfde opvolger vir die Britse troon wees, wat beteken Eugenie se oom, prins Edward wat die koningin se jongste seun is, het nou in die twaalfde plek agter die prinses en haar kind ingeskuif.

Simoné Pretorius en haar man, Andries, het Maandag die goeie nuus van haar swangerskap gedeel. (Foto: Reece van der Merwe/Dis Reece)

Die aktrise Simoné Pretorius en haar man, Andries, het in Oktober aangekondig dat sy swanger is met hulle eersteling.

Simoné het dié nuus op sosiale media gedeel met ʼn reeks foto’s van haar en Andries wat spog met sonarfoto’s van hulle pienkvoet. Sy het ook ʼn grappige video op Instagram gedeel waarin Andries te sien is waar hy ʼn speelpakkie vashou en sonarfoto’s teen die yskas geplak is.

“Woorde is nie genoeg om ons euforie te beskryf nie. Dit is die grootste droom wat vir ons bewaarheid is,” het sy by die foto’s geskryf.

Simoné en Andries, ʼn eiendomsontwikkelaar en sakeman, is in Februarie verlede jaar by die Lunikhy-wildplaas buite Bela-Bela getroud.

Geboortes

Alette-Johanni Winckler met haar en Heinz se dogtertjie, Alannah, in November vanjaar. (Foto: Instagram)

Heinz en Alette-Johanni Winckler se eerste babadogtertjie, Alannah Elize Winckler, is in Januarie gebore. Die paartjie het reeds drie seuns, Lian (9), Simeon (7) en Reuben (5).

“Dit was vinnig. Dit was seer. Dit was bonatuurlik. Ons het ʼn dogter!” het Alette op haar Instagram geskryf.

Heinz en Alette het in Junie verlede jaar aangekondig dat hulle ʼn baba verwag. Alette het vroeër vertel dat sy nog altyd vier kinders wou hê, maar dat hulle ná die drie seuns nie gedink het hulle sal nog ʼn kind kry nie.

Voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss (27) se tweede seuntjie is in Februarie gebore. Rolene en haar man, D’Niel, het reeds ʼn driejarige seuntjie. Hulle nuwe baba het sy opwagting gemaak slegs ʼn paar dae ná die egpaar se vierde huweliksherdenking.

“Welkom, klein liefde. Ons is so dankbaar om jou in ons gesin van vier te verwelkom. Jou ouboet is gereed om jou hand vas te hou deur die reis van die lewe,” het Rolene op Instagram geskryf by ʼn foto van die nuweling wie se handjie om haar oudste se vinger gevou is.

Donnalee Roberts en Ivan Botha se eerste baba is op 4 Maart gebore en die akteurspaar het ʼn paar dae later opgewonde die nuus op Instagram gedeel.

“My liefste pragtige babaseun, jy het in die wêreld ingekom met soveel kalm vasberadenheid en jy het dit vir altyd kom verander,” het Donnalee op Instagram geskryf.

Ivan het nog twee foto’s gedeel, een van sy dogter, Amelié, toe sy nog ʼn baba was in 2009, en een van hom en sy pasgebore seun. Die ouers het aangekondig dat die baba se naam Cameron Ivan Botha is.

Karlien van Jaarsveld en haar seuntjie, Johannes Samuel, in Oktober vanjaar. (Foto: Instagram)

Die sangeres Karlien van Jaarsveld het in April geboorte aan haar en haar man, Joe Breytenbach, se gesonde babaseuntjie gegee. Johannes Samuel is op 1 April op 37 weke gebore.

“Dit is nie ʼn april fools nie [sic],” het die sangeres op haar Instagram-blad by ʼn skattige foto van die pienkvoet saam met haar in die bed geskryf.

Van Jaarsveld het ʼn tweeling, Daniël en Eliah (5) en ʼn tweejarige dogtertjie, Elah.

Die Lions se woelige blondekop-flank, Marnus Schoeman, en sy vrou, Riana, het in April ouers geword van ʼn babaseuntjie wat Muller heet.

“Daar is geen liefde soos wat ʼn ouer vir sy kind het nie. En toe ek my seuntjie vir die eerste keer vasgehou het, het ek dit besef,” het Marnus aan Maroela Media gesê.

Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla en SpaceX, en die Kanadese sangeres, Claire Elise Boucher (professioneel bekend as Grimes), se seuntjie is op 4 Mei vanjaar gebore. Hulle het bekendgemaak die seuntjie se naam is X Æ A-12.

Die foto wat Katy Perry en Orlando Bloom gedeel het om die geboorte van hulle babadogtertjie, Daisy, aan te kondig. (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse popsangeres Katy Perry en die akteur Orlando Bloom se eersteling is in Augustus gebore. Die paartjie se babadogtertjie heet Daisy Dove Bloom.

Perry en Bloom het Donderdag ʼn skattige swart-en-wit foto van ʼn babahandjie saam met ʼn verklaring deur Unicef, die VN se agentskap vir ontwikkelingshulp vir kinders, op Instagram gedeel. Die paartjie is albei ambassadeurs van Unicef.

“Ons sweef van liefde en verwondering ná die veilige en gesonde aankoms van ons dogter,” lui die inskrywing.

Francois van Coke en sy vrou, Lauren Badenhorst, het in Oktober hulle eerste seuntjie in die lewe verwelkom. Van Coke het dié goeie nuus op Instagram bekend gemaak.

“Max Badenhorst is hier!” het hy geskryf. “In dié mal jaar het die beautiful boy die lewe kom verbeter. Baie lief vir my amazing vrou en dogtertjie.”

AB de Villiers, een van die wêreld se bekendste krieketkolwers, het in November vir die derde keer pa geword van ʼn dogtertjie wat Yente de Villiers heet.

“Op 11-11-20 het ons ʼn pragtige babadogter in die wêreld verwelkom. Yente de Villiers, jy is die perfekte toevoeging tot die gesin en ons is ongelooflik geseënd. Genade onbeskryflik groot – dankie, Here!” het De Villiers onderaan ʼn foto van hulle twee saam met sy vrou, Danielle, op sosiale media geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.