Talle SA woorde nou ook in Oxford-woordeboek opgeneem

Argieffoto (Foto; PDPics/Pixabay)

Yebo, dof, BEE en hensopper.

Dis ván die Suid-Afrikaanse woorde wat in die jongste uitgawe van die Oxford English Dictionary (OED) opgeneem is.

Oxford University Press sê Suid-Afrikaanse Engels – net soos enige ander Engels – reageer op die geografiese, botaniese, dierkundige, maatskaplike én politieke landskap waarin dit gepraat word. Deur dinge of begrippe ʼn naam te gee, help dit Suid-Afrikaners om sin te maak van hulle gedeelde omgewing en geskiedenis en woorde wat in dié uitgawe opgeneem is, is ʼn weerspieëling hiervan.

“Black Economic Empowerment”, “Black Empowerment” en “BEE” – alles woorde wat gebruik word om ʼn regeringsprogram te beskryf wat die gee van werks- en sakegeleenthede aan swart mense aanmoedig – verskyn ook in die jongste uitgawe.

Daar is ook heelwat woorde wat spasies of ontmoetingsplekke aandui. Dit sluit in die woorde “hok” en “lapa”. “Lekgotla” – ʼn spasie waar gemeenskapsvergaderings gehou word, ʼn samekoms van mense om ʼn belangrike kwessie te bespreek en ʼn tradisionele hof – is ook ingesluit.

“Waar jy ook al in Suid-Afrika is, is dit onwaarskynlik dat jy dof genoeg is om nie te weet dat Joburg en Jozi byname vir die stad Johannesburg is nie,” het Oxford University Press in ʼn verklaring gesê.

“Dof”, “Joburg” en “Jozi” is al drie in die nuwe weergawe opgeneem.

Die woord “hensopper” – die uitdrukking wat tydens die Anglo-Boere-oorlog onstaan het vir ʼn Boer wat aan Brittanje oorgegee het – verskyn ook.

Dr. Phillip Louw, ontwikkelingsbestuurder van woordeboekinhoud by Oxford University Press, het gesê dis opwindend om betrokke te wees in die OED se pogings om Suid-Afrikaanse Engels meer omvattend te dokumenteer.

“As ʼn geskiedkundige woordeboek weerspieël die OED nie net die ontwikkeling van ons unieke verskeidenheid Engels nie, maar ook die geskiedenis van ons land soos dit deurskemer in die taal wat ons gebruik om ons realiteit te definieer.

“Dis egter nie altyd ʼn eenvoudige prentjie nie en die jongste bywerking is geen uitsondering nie: die woorde wat ingesluit is, is getuienis van ʼn pynlike verlede en pogings om dit te herstel, terwyl dit ook lig werp op die ryk, kulturele verskeidenheid van ons land,” het Louw bygevoeg.

ʼn Woord word in die Oxford English Dictionary opgeneem wanneer daar genoeg onafhanklike voorbeelde van ʼn verskeidenheid bronne daaroor ingesamel is en genoeg bewyse bestaan dat die woord al vir ʼn billike tydperk gebruik word.

“Om leenwoorde te gebruik uit ʼn ander taal is ʼn normale proses. Dit beteken nie noodwendig dat iemand in Engeland byvoorbeeld die woord ‘gramadoelas’ gaan gebruik nie, maar in Suid-Afrikaanse Engels word dit wél gebruik,” het Louw gesê.

Die lys van Suid-Afrikaanse woorde in die jongste OED is onder andere: yebo, Black Economic Empowerment (BEE), hok, hokkie, lapa, lekgotla, makgotla, imbizo, isicathamiya, dof, Joburg, Jozi, bok, hensopper, gramadoelas, kannas en Koevoet (die verwysing na die destydse paramilitêre mag).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andreas ·

OK, so dit is ‘Suid-Afrikaanse Engels’ waarvan hulle praat wat nou Ge-BEE is. (Wat mens dit ook al noem.) Dis nogal Cool, net solank hulle nie anders wil voorgee en Afrikaans kaap nie, of voorgee dat dit nou die algemene Afrikaanse taal in die land is nie. Baie van ons praat mos maar ‘ge-mix’.

Andreas ·

Hulle het Afrikaans ‘ge-Brexit’. Kan jy dit glo en ons dag hulle is klaar met ons. Ek weier om verder gekoloniseer te word.

Cherokee ·

Dit ìs soos gesê word, opwindend en interessant en dit verduidelik ook waarom dialekte afkomstig uit dieselfde taal nie altyd verstaan word nie. Nederlanders byvoorbeeld kan makliker ‘n Afrikaanssprekende persoon verstaan as iemand van Friesland.

Hans Richardt ·

Koevoet is ‘n gwala of gereedskap stuk wat gebruik word vir gate grawe! Dit was waarna die eenheid verwys het, om ook klip mee te breek.
Ek dink nie daar is raak Engelse woord vir dit nie, as breekyster nie.

Hans Richardt ·

Koevoet was taktiese polisiërings eenheid. Dit was nie militêre eenheid nie. Weens ‘n gebrek aan “body bags” kon hul nooit lyke vir doel van identifikasie en post mortem bv binne voertuie, afvoer na bv Oshakati of Rundu lykshuise nie en is hul oor rubber modderskerms vasgemaak. SA was nog nie bekend met gevare van bv HIV en Hepatitis A tot E in daardie tye nie, maar dit was wydverspreid onder invallers.
Caspir het nie spasie vir meer as sitplek binne gehad nie. Na elke operasie binnelands, was daar geregtelike doodsondersoek dossier aangelê. Daar was nie bundu operasies nie! Onthou dat dieselfde wetgewing en SO vir hantering van misdaad tonele was, as in SA.
Ja, oor die jare was daar baie “cowboy” tipe stories, maar BAIE nie feitlik nie.
Na onafhanklikheid, was daar nog lykshuise vol lyke uit operasies, wat nooit opgeëis was en vrot geword het, omdat SWAPO bevelvoerder wat daar was na onafhanklikheid, die yskaste nie instand gehou het nie en toe moes lyke noodwendig in massa grafte begrawe word deur Namibiese polisie. Dit net terloops. Daar was ook regstel aksie in Namibiese staatsdiens, met rampspoedige gevolge soos in SA.
Moenie dink dis net in SA waar dinge so gaan nie met % raskwotas.

Annie Webb ·

Ai Hans, ontstellend van die onopgeëiste lyke. Ek raai die ouers of ander familie was nie gesofistikeerd genoeg nie en/of het nie die middele gehad om die kanale te volg om die lyke huis toe te bring nie. ‘n Aangetroude familielid van my is “op die grens” dood en sy familie het die grootste bystand en simpatie van die Weermag ervaar. Daardie besoek van die Weermagkapelaan wat die tyding persoonlik oordra, was elke ma se grootste vrees maar ook grootste troos. Ek word woedend as elke Jan Rap nou stories skryf wat daardie oorlog afkraak. Daar wás ‘n Rooi Gevaar wat eers met die val van die Berlynse Muur en pres. Reagan se sterk teenstand teen Kommunisme tot ‘n einde gekom het. En min van ons het nie iemand geken wat daar vir sy land gesterf het nie. Al is patriotisme deesdae ‘n vloekwoord vir mense wat nie so iets ken nie. Gewoonlik omdat net die eie ek vir hulle van enige belang is. Só vlak. En eensaam.

Andreas ·

Annie, dankie ook aan Hans, dis nou sulke kommentare wat mens verder laat naslaan. Sit en grinnik ek toe ek sien jy praat van Jan Rap. Toe wonder ek of dit nie dalk Jan van Rap moet wees nie, toe besef ek, ek raak nou oud, JvR staan mos nou vir Jan van Riebeeck en daar is nie ‘n Jan van Rap nie.

marous ·

Eish ! – Woord wat ge uiter word waneer persoon uitgevang word . Gewoonlik van toepassing op regerings amptenare wat minute voor dit intelligent voorgekom het en dan vir ‘n onverklaarbare rede waserig word oor die verlede…

Gert van Wierdapark ·

‘n Paar woorde wat Oxford kan byvoeg is “Regstelende Aksie” , Kakistokrasie (regering deur die swakstes/hopeloses), Soustrein, Kripvreters, Stemvee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.