Talle se trouplanne daarmee heen ná man hulle glo inloop

(Argieffoto: Pixabay)

Sowat 50 bruidspare wat derduisende rande aan ʼn troukoördineerder betaal het, is woedend ná Blue Lilies Wedding & Events in Mosselbaai die afgelope week sy deure gesluit het.

Die eienaar, Werner Gilroy, het Woensdag op Facebook aangekondig die Covid-19-pandemie het geweldige druk op sy finansiële en sielkundige welstand geplaas en hy kan dus emosioneel nie meer die mas opkom nie.

Al die paartjies wil nou weet wat van die nagenoeg R2 miljoen geword het wat hulle gesamentlik aan Gilroy betaal het om hul onderskeie troues te organiseer. Die droewige waarheid wat hulle in die gesig staar, is om nog duisende rande op te dok, want dit blyk dat Gilroy ook nie die trouvenues of die spyseniers vooruit betaal het nie.

Eugene Fouché en sy verloofde, Monique Cloete, het laas Maandag toevallig gehoor dat Blue Lilies gevou het. Dit was skaars ses dae voor hul troudag die naweek en drie dae later is hul nagmerrie bevestig toe Gilroy op Facebook aangekondig het dat sy onderneming nie verder sake gaan doen nie. Hy het sedertdien op geen boodskappe en navrae reageer nie.

Fouché en Cloete het Gilroy R80 000 betaal om hul troue te koördineer en moes noodgedwonge die afgelope week nog sowat R53 000 opdok sodat die geleentheid steeds die naweek kon plaasvind.

“En dit sluit nie die kos en drank in nie,” sê Fouché, ʼn siviele ingenieur van Mosselbaai. “Die minste wat Werner kon doen, was om ons te laat weet dat sy onderneming ondergaan. Ons weet ons gaan nie die geld terugkry nie, maar kan nie toelaat dat ons troue deur sy oneerlikheid en onetiese gedrag afgestel word nie. Van die gaste kom selfs van Bloemfontein af en hulle het ook lankal vir hul verblyf bespreek en betaal.”

‘n Skermskoot van die inskrywing op Facebook.

Dié een troue is egter net die puntjie van die ysberg. Maroela Media is die afgelope week oorval deur bruidspare wat ook deur Gilroy ingeloop is. Almal sit met die spreekwoordelike hande in die hare en in baie gevalle ook met leë beursies voor hul groot dag.

Donné Robinson en Frederik Visser het beplan om op 25 September te trou en het ook reeds R80 000 aan Gilroy betaal. Robinson se ma, Ronel, het in Pretoria aan Maroela Media gesê haar dogter is te ontsteld om te praat, want sy het sedert verlede jaar saam met Gilroy aan haar droomtroue beplan.

Die Robinsons het reeds ʼn prokureur genader wat hulle aangeraai het om ʼn strafregtelike klag teen Gilroy in te dien omdat hy na bewering ook twee vorige veroordelings het en reeds sedert September verlede jaar besig is om sy maatskappy, Weddings by CW, wat as Blue Lilies sake doen, te deregistreer.

Linique Olivier en haar verloofde, Marthinus Barnard, wat in die Mosselbaai-omgewing woon se troue is vir 12 Junie beplan en hulle het reeds R41 000 van die beraamde R91 000 wat hul troue sou kos aan Gilroy betaal.

“Daar is ongelukkig nie geld beskikbaar om weer so ʼn bedrag te betaal nie en ons kyk nou uit vir ʼn goedkoper alternatief,” sê Linique wat sowat 50 gaste wou nooi. “Ons soek nou na ʼn goedkoper plek – selfs ná die afslagprys wat die venue ons aanbied, kan ons dit nie nou bekostig nie, want ons het pas ook huis gekoop.”

Zandre Vos en Micaela Best van George sou op 27 November trou en het reeds R25 000 van die R100 000 betaal. Hulle het beplan om 80 gaste te nooi en het besluit om ook ʼn strafregtelike klag teen Gilroy in te dien.

Nog ʼn paartjie, wat verkies om anoniem te bly, beoog om ook regstappe teen Gilroy te doen nadat hy hul troudatum met ʼn maand na aanstaande Saterdag aangeskuif het en dit nou duidelik is dat dit nooit gaan plaasvind nie. Hulle het reeds bykans R70 000 betaal, maar het intussen voor hul priester getrou.

Gilroy se prokureur, Dawie Bezuidenhout van DP Bezuidenhout-prokureurs, het intussen aan die George Herald gesê daar was nog nie genoeg tyd om Blue Lilies se finansiële state na te gaan nie, hoewel hy egter kan bevestig die maatskappy het geen bates of geld nie.

Gilroy het nie op Maroela Media se boodskappe reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Miskruier ·

So kom ons almal terug aarde toe. Die tye van uitspattige troues en begrafnisse, die skole sport, die karavaan in die agterplaas, spa,s en skoonheidsbehandelings, nuwe voertuie is vir altyd verby.

Karlahari ·

Bedrog het bestaan voor Covid. Hy het die mense se geld geneem. Is nie die voornemende paartjies wat skuldig is nie.

E ·

Ek het nie ‘n uitspattige troue gehad nie. Het alles omtrent self gemaak en gedoen (tot my trourok), dit blyk toe ek moes maar liewer glad nie getrou het nie. ‘n Uitspattige begrafnis, nog nooit so iets gesien nie. Maar ek moet se die zoom begrafnisse kan maar bly. Begrafnisse is net vir lewendes om op te vang of te skinder. Sport glo ek is belangrik vir almal, dit hou die brein ‘n bietjie positief. ‘n Karavaan, nou wel nie regtig ‘n status simbool vir my nie. Skoonheids behandelings en nuwe voertuie het ek ook nie in 10 jaar gehad nie. So nie veel van my lewe gaan verander nie.

Hennie ·

Regtig? Onthou om vir hongerloon, SASSA, aansoek te doen… Ons bly in ‘n vry land – laat ander mense doen wat hulle wil.

Andries ·

Ek het ‘n karavaan in my agter erf maar is beslis nie ryk nie. L.W ek het ‘n erfie en nie ‘n agterPlaas nie.

Dries ·

Miskruier jy is reg. Ek klou maar aan die karavaan in my agterplaas. Maar raak ontslae van die uitspattighede

Hennie J ·

Indien jy in hierdie tye van swaarkry soveel duisende kan vooruitbetaal vir n troue, dan behoort jy nie te huil as jy ingedoen word nie.

Gert ·

Nee dis nonsens jy betaal vir ‘n diens wat gelewer moet word

Gogga ·

Dis regtig baie hartseer want tog is dit vir ‘n bruidspaar veronderstel om die mooiste dag te wees. Aan die ander kant, het die Covid tydperk mens geleer om buite die boks te dink, en ek hoop dat die mense wat so skandelik ingeloop is, ‘n fantastiese alternatief sal kry. Ek is ‘n groot voorstaander vir oggend troues, en ek glo dat mens defnitief baie kreatief kan raak wat kos, venue ens insluit. Baie sterkte vir elkeen van julle en ek hoop dat julle steeds julle droomdag op die mooiste manier moontlik sal ondervind!

Eclectus ·

Troues, begrafnisse en matriekafskeide, die drie goed waarop heeltemal veel bestee word. Niks fout met bring en braai as jy wil partytjie.

Sandra ·

Belaglik dat soveel geld op troues spandeer word. Dit is net vir vertoon. ‘n Pragtige geleentheid kan vir ‘n fraksie van die bedrag gereël word. Spaar liewer die geld vir ‘n huis of toekomstige kinders se studies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.