Talle skole kla oor aanlyn aansoeke

klaskamer

Foto ter illustrasie. (Feliphe Schiarolli/Unsplash.com)

Menige ouers en skole in Gauteng het oor die afgelope paar weke aangedui dat hulle probleme met die departement van onderwys se aanlyn skoleplasingstelsel ervaar het.

Boonop lyk dit in dié stadium asof baie leerders met die aanvang van die nuwe skooljaar nog nie in ʼn skool geplaas sal wees nie. Kenners meen dít kan die probleem van ongeletterdheid in die land vererger aangesien hierdie leerders letterlik nie sal kan skoolgaan nie.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het verlede week ʼn brief in dié verband aan die departement gerig nadat die instansie ʼn opname onder 64 ledeskole gedoen het. 84% van dié skole het die aanlyn stelsel bestempel as “bogemiddeld moeilik om te gebruik”. Die SOS vra in die brief dat die klagtes ondersoek word.

Maroela Media het vroeër berig die aanlyn aansoekproses het vir die eerste keer vanjaar in twee fases geskied.

Ouers of voogde wie se kinders tans in gr. 7 in openbare skole in Gauteng is, het tydens die eerste fase in Augustus voorkeur gekry om aansoek te doen. Voornemende gr. 1-leerders, asook diegene wie se kinders tans in ʼn skool in ʼn ander provinsie is en wil aansoek doen vir ʼn skool in Gauteng, kon eers tydens fase twee, wat op 13 September begin het, aansoek doen. Dieselfde reëling geld vir leerders wat nou in private skole is, maar volgende jaar na ʼn openbare skool wil skuif.

Dié reëling het veral kritiek ontlok, aangesien baie van die skole reeds vol was toe dié leerders kon begin aansoek doen.

Die tweeledige proses het op 8 Oktober gesluit en leerders sal tussen 15 Oktober en 30 November geplaas word.

Talle probleme met stelsel ondervind

Skole wat aan SOS se opname deelgeneem het, het onder meer aangedui dat verskeie ouers nie suksesvol kon registreer nie omdat die stelsel hul aansoeke weens tegniese probleme verwerp het.

Daar was ook klagtes dat sekere adresse binne die voedingsone op die stelsel verkeerde afstande getoon het en dat ouers se persoonlike besonderhede foutief was.

Nóg ʼn knelpunt is dat aansoekers nie aan die taalbeleid van ʼn betrokke skool moes voldoen nie, wat beteken dat Engelse leerders in Afrikaanse skole geplaas kan word en andersom.

Daar was ook talle klagtes dat die stelsel “oorlaai en stadig” is, en dat skole reeds tydens die eerste fase blitsvinnig volle kapasiteit bereik het. Dit beteken dat leerders wat eers tydens die tweede fase kon aansoek doen, benadeel is.

Verder sukkel ouers en voogde wat op plase of kleinhoewes woon glo elke jaar om hul kinders in skole naby hul huise geplaas te kry aangesien hul adresse nie binne die voedingsone op die stelsel val nie.

Daar is ook aangemeld dat kinderhuise gesukkel het om meer as een kind te registreer.

Boonop kla skole en ouers dat hulle weinig ondersteuning van die departement ontvang om dié soort probleme uit te stryk.

Leerders kry dalk nie betyds plek

aanlynregistrasie-2019

Panyaza Lesufi, (middel) Gautengse LUR vir onderwys, tydens ‘n mediakonferensie in 2019. Foto: ANA.

Duisende leerders sukkel jaarliks om plek in ʼn Gautengse skool te kry, weke nadat die skooljaar begin het. Die onderwysgemeenskap vrees dat dieselfde probleem hom volgende jaar sal herhaal.

Gaylin Bowles, uitvoerende beampte van die onderwysvakbond Naptosa, sê leerders wat nie betyds geplaas word nie, behoort egter binne ʼn paar weke nadat die skooljaar begin het wel plek te kry – hoewel dit dalk nie by die skool van hul keuse sal wees nie.

“Daar was vantevore nog altyd druk om leerders te plaas, aangesien Gauteng ʼn groot toename van aansoeke ondervind en ouers nie altyd besef dat hulle as’t ware in ʼn virtuele tou staan ​​nie.

“Daar kan verwag word dat alle leerders nie aan die begin van die skooljaar geplaas sal word nie, maar binne ʼn paar weke sal dinge regkom en dié leerders geplaas word. Die meerderheid van die leerders is wel vantevore geplaas, maar kry nie altyd by die skool van hul keuse plek nie.”

Bowles sê ouers sal dit met die verskillende skooldistrikte moet opvolg indien hulle uitdagings ondervind.

Sy meen die vakbond sal egter beter in staat wees om kommentaar op vanjaar se proses te lewer wanneer plasings afgehandel is en die vakbond verslae van die departement ontvang het.

“Ons sal voor die einde van die jaar op die hoogte wees van waar die departement met die plasing van leerders staan.”

Te min skole, tegnologie ʼn probleem

Bailey sê die burgerregte-organisasie het ook enkele klagtes ontvang sedert die indiening van aansoeke vanjaar kon begin.

Sy meen die probleem lê egter hoofsaaklik by die departement se “volslae onvermoë om voldoende skole te bou om in die groeiende behoefte in Gauteng te voorsien”, en nie noodwendig by die stelsel, skole of ouers nie.

Bailey meen die verskuiwing na ʼn aanlyn stelsel is in ooreenstemming met die “internasionale tegnologiese ontwikkeling van ons tyd”, maar dat dit om verskeie redes nie in Gauteng se geval werk nie.

“Een van die redes is dat die tegnologie die aansoekers dikwels in die steek laat en dan hang die stelsel, of aansoeke gaan verlore.”

Nóg ʼn probleem is dat alle ouers nie toegang tot die nodige apparate en data het nie, en ook nie geletterd genoeg is om aanlyn stelsels te gebruik nie.

“Al is daar hulp wat by skole aangebied word, moet ouers dikwels werk en kan hulle nie by die skool uitkom om dit te benut nie. Die stelsel se homogene aanbod werk nie in ons heterogene skole- en ouergemeenskap nie.”

Bailey stem saam dat werknemers van die departement ook moeilik bereikbaar is wanneer probleme met die stelsel opduik, of dat hulle self nie oplossings het nie – moontlik weens ʼn gebrek aan behoorlike opleiding.

Die SOS het in sy brief aan die departement voorgestel dat skole toegelaat moet word om hul eie waglyste te bepaal, asook om broers en susters van bestaande leerders in die skool én gr. R-leerders op dié lyste by te voeg.

Skole moet ook toegelaat word om die onderrigtaal van die skool by te voeg en aansoeke te aanvaar wat nie deur die departement se stelsel na die skool verwys is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

“Kenners meen dít kan die probleem van ongeletterdheid in die land vererger aangesien hierdie leerders letterlik nie sal kan skoolgaan nie”. Maak dit saak aangesien die standaard van onderwys deur ANC in die grond in gedwing is? Om dinge nog verder te vererger kan n Engelssprekende kind in n Afrikaanse skool eindig en andersom. En Lesufi rassis stoom voort.

SomeOne ·

aanlynaansoeke vir 2019 se gr.1 en 8-leerders in skole in die provinsie sal amptelik op Maandag 16 April om 08:00 open

dis sekerlik ‘n groot fout, 2019 sal ons nooit ooit weer sien nie

Samuel ·

Waar die ANC ookal betrokke is, is standaarde ‘n vloekwoord. Ons kinders ly daaronder. Skop Lesufi uit.

Joe Olivier ·

Lepoefi is ‘n rassehaat aanstoker en onbevoeg om sy werk te doen. Hy het dit oor die jare al bewys. Raak ontslae van hom.

Jacobus ·

Sodra “ek” Orania uitgesort het en Sol-Tech reggesien het sal ek wat Panyaza is, aandag aan die probleempie gee! Moenie julle asems inhou nie!

Corrie ·

Waar is die nuwe skool per maand wat gebou sou word volgens Lesufi? Net ‘n gewone ANC pipedream?? Fire die Fool.

Frank John ·

Daar is ‘n tekort aan onderwysers, 26000. Daar is baie wat gekwalifiseer is maar om een of ander on-nodige redes nie aangestel word nie en daarom kan studente nie ge-akomideer word nie. Hulle wil mos liewer Cubane invoer in plaas van plaaslik aanstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.