Talle skole kón Maandag heropen … en sommiges hét

Deur Elaine Krige en Anja van der Merwe

Personeel se temperatuur word gemeet by Grey College in Bloemfontein (Foto: Verskaf)

Honderde skole landwyd, wat gereed was om Maandag hul deure vir gr. 7 -en gr. 12-leerders te heropen, se harde werk en beplanning is nou tot niet. Dit nadat die departement van basiese onderwys Sondagaand op die laaste minuut teruggegaan het op sy besluit dat skole op 1 Junie vir dié grade sal heropen. Tog is daar skole wat wél Maandag met groot sukses heropen het en regskenners sê dit staan skole vry om dié stap te doen.

Kenners meen ook die besluit om die heropening van skole uit te stel benadeel skole wat self ingespring en uitgawes aangegaan het om te verseker alles is gereed om Maandag veilig te heropen. Die vakbond Solidariteit het intussen gesê hy sal ouers, kinders, onderwysers en skole in ʼn regsaksie ondersteun indien skole wat voldoen aan alle gesondheidsvereistes nie toegelaat word om te heropen nie.

Die onderwysdepartement het Sondagaand in ʼn verklaring gesê dit het onder sy aandag gekom dat talle skole nie betyds beskermende kleredrag en water ontvang het om te verseker dit is veilig vir skole om Maandag te heropen te midde van die Covid-19-pandemie nie. Daarom is die openingsdatum vir skole na Maandag 8 Junie verskuif. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag tydens ʼn perskonferensie self erken daar was skole wat sou kon open.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het intussen aangedui dat skole in dié provinsie wel Maandag heropen het, omdat dié skole al die nodige reëlings getref het.

Volgens Solidariteit sal dit onregmatig wees om nou te besluit dat skole wat gereed is en voldoen aan die beleidsriglyn, nie kan open nie.

Carien Bloem, koördineerder van onderwys by AfriForum, sê dié burgerregte-organisasie is bewus van ten minste 200 skole landwyd wat gereed was om Maandag te heropen. “Baie skole het self duisende rande bestee om gereed te maak. Een skool aan die Oos-Rand het R600 000 bestee om self al die nodige beskermende toerusting aan te skaf en die skool te ontsmet. Dit terwyl die skool R300 000 aan skoolgeld verloor het weens ouers wat dit nie meer kan bekostig nie,” sê Bloem. Dié skool het nie Maandag heropen nie. Bloem sê dit was uiters onprofessioneel van die departement om tot Sondagaand te wag om aan te kondig dat skole ʼn week later sal heropen.

Plakkate wat sosiale afstand tussen leerders aandui is regoor die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria opgerig (Foto: Verskaf)

Maar Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, sê regsadvies wat hulle ingewin het bepaal dat skole inderdaad vandag (Maandag) kon oopmaak. “Luidens regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, mag skole op 1 Junie vir gr. 7’s en gr. 12’s heropen. Die minister kan nie dié regulasies met ʼn blote mediaverklaring ongedaan maak nie,” sê Buys. Die regsmening is hier beskikbaar.

Buys sê sy weet van verskeie skole in die ooste van Pretoria wat Maandag met groot sukses heropen het. “Dié skole se besluit is baie positief deur ouers ontvang en leerders was voltallig. Almal se temperatuur is ook binne ʼn halfuur by die skool se hekke geneem,” sê Buys.

Ander skole het Maandag met groot teleurstelling die departement se bevel om nié te heropen nie gehoorsaam. Die Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit (Mookgopong), Limpopo, se koshuisleerders het Sondagaand reeds van oral in die provinsie by die skool aangekom. Dié leerders moes, tot groot ontsteltenis van die ouers, weer Maandag terugkeer huis toe. “Ons is bekommerd oor die leerders se emosionele welstand. Die afsonderingstydperk het baie emosionele stres by hulle veroorsaak, meer as wat ons besef,” sê Rudolf de Vos, die skool se bemarker.

Colleen Naude, woordvoerder van die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria, sê daar was ʼn verwagting by leerders en onderwysers geskep dat hulle Maandag sou terugkeer skool toe. “Die skool het reeds duisende rande bestee om te saniteer en betyds gereed te wees.” Naude sê onderwysers moes nou plan maak om met aanlynklasse vir die week voort te gaan.

Leerders in die koshuis is aangeraai om Maandagoggend eers in te kom, aangesien daar reeds oor die naweek onsekerheid ontstaan het of die skole wel nog Maandag gaan heropen. Dié leerders het dus nie onnodig gereis nie.

Twee leerders demonstreer sosiale afstand by Laerskool Tygerpoort (Foto: Verskaf)

Naude sê hulle moes al die gebeure wat vanjaar ter viering van die skool se 100-jarige bestaansjaar sou plaasvind, kanselleer weens die pandemie. “Ons is baie hartseer en teleurgesteld daaroor, want hierdie sou ʼn groot jaar vir die skool wees,” sê Naude.

Herman van der Merwe, skoolhoof van Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, sê die bestuurspan en personeel het die afgelope twee weke ure lank voorberei vir Maandag.

“Vrydag het honderde leerders ook reeds na ons klerewinkel gestroom om klere en maskers te kry. Die leerders, ouers en gemeenskap was gereed dat skole nou moet heropen,” vertel Van der Merwe. “My grootste bekommernis is dat die onsekerheid leerders nou begin negatief maak en dat dit hul akademie kan beïnvloed.”

Jacques Bartlett, waarnemende hoof van Laerskool Pietersburg in Limpopo, sê hoe langer die heropening van skole uitgestel word, hoe meer gaan skole finansieel begin swaar trek. Bartlett sê van die ouers kan reeds nie meer skoolfonds betaal nie en in ander skole in die dorp het ouers reeds hulle kinders uit skole gehaal en begin met tuisonderrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

Indien enige iemand getwyfel het dit is nou amptelik: Die regering is nie in beheer nie, die unies is. Dis nou daai ouens wat geld maandeliks by jou kry en dan die regering opdraande gee, in so ‘n mate dat hulle nie meer besluite kan neem nie!

Mariana ·

Besluite word sommer na hartelus verander ten koste van leerders. Dit is omdat daar mense in belangrike poste is wat nie bevoeg is nie. Daar is geen salf te smeer aan die land se probleme as mense nie gaan opstaan nie. Ons lewens en die toekoms van ons kinders is in ons hande, ons moet besluite ten opsigte van hulle neem. Dit geld vir alle landsburgers.

Barbara ·

As ek so na die foto kyk sê dot vir my die mense nog steeds nie opgelei hoe om maskers te dra. Hy MOET oor jou neus kom nie net jpu mond nie? Die ander twee mans en skooldogters sin is reg op.

Willem ·

Die unie sadtu en mrk is nou ongelukkig met die Wes Kaap omdat hul gereed was om te heropen. Wil nou hof toe

J ·

Eendag was daar ‘n baie suksesvolle koning … alles het reg geloop in sy land.

Sy seun was koning in die naburige land … maar alles het daar verkeerd geloop.

Die jong koning stuur sy mees betroubare kneg om advies te vra by die ou koning.

Die ou koning vat sy seun se kneg saam en gaan stap in die koringland … sonder ‘n woord kap die koning al die langste koring-are af met sy swaard.

Toe die kneg aankom by die jong koning vertel hy dat die ou koning niks advies gegee het nie … net die langste koringare afgekap.

Die jong koning het egter sy pa se boodskap verstaan … en al die leiersfigure en slim mense in sy land laat onthoof.

Daarna het alles reg geloop in die jong koning se land.

Dis wat die ANC regime doen met SLIM Wittes … !

Hulle noem hierdie verskynsel die “tall poppy sindrome”!

‘Papawers wat langer is as die res, word afgekap!’

Anel ·

Hulke voel ‘n veer vir die kinders, man. Ek kan my net indink hoe teleurgesteld huerdie kinders moes wees! En wat van die koshuis kinders! Ouers moet vêr ry daarom is hulle meeste van die tyd in die koshuis. Nou moet hulle ook weer gehaal word. Wie betaal daarvoor? Hierdie regering is meer onbevoeg as wat graad 1 leiertjies is!.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.