‘Talle skole nie gereed om te heropen’ – DA

Skole in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap is nog nie gereed om Maandag te heropen nie (Foto: Verskaf)

Skaars ʼn week voordat skole moet heropen vir die nuwe jaar heers daar groot kommer oor die kwessie of alle skole in KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Gauteng wel gereed sal wees om dit te doen.

Dit volg nadat die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys verlede week skole in hierdie provinsies besoek het om hul gereedheid te bepaal. Die DA het tydens dié besoeke ʼn aantal kwessies geïdentifiseer wat teenstrydig is met die mandaat van die departement, naamlik om toepaslike gehalte-onderrig vir alle leerders in ʼn veilige omgewing te verseker.

Die departement van omgewingsake het selfs intussen ʼn paar skole in dié provinsie gesluit omdat dit nie veilig vir leerders is nie. Die DA is wel van mening dat skole moet oopmaak as hulle dit veilig kan doen, maar dat dit deur individuele skole bepaal moet word en nie op nasionale vlak nie.

Die heropening van skole vir die 2021-skooljaar is reeds met twee weke vertraag uit vrees dat dit die verspreiding van Covid-19 sal aanhelp.

In ʼn verklaring wys Baxolile Nodada, die DA se skaduminister van onderwys, op die volgende knelpunte:

  • Talle skole het nie behoorlike (of enige) toegang tot skoon water en sanitasie nie en kan nie veilige sosiale afstande handhaaf nie omdat daar nie genoeg klaskamers is nie. “Dit is direk in kontras met die Covid-19-protokolle wat in skole moet geld om die verspreiding van die virus te help bekamp.”
  • Infrastruktuurontwikkeling by sommige skole is onvoldoende, met baie klaskamers wat van gevaarlike materiale – soos asbes – gemaak is. “Boonop is instandhouding van infrastruktuur by talle skole gebrekkig, meestal omdat hul begrotings dit nie toelaat nie.”
  • By van die skole is ook opgemerk dat hulle nie die gehalte van die persoonlike beskermende toerusting wat hulle ontvang, kan bevestig nie. Só loop leerders en onderwysers die gevaar om die Covid-19-virus te versprei.”

Van die skole wat die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys besoek het, het nie behoorlike (of enige) toegang tot skoon water en sanitasie nie (Foto: Verskaf)

Volgens die DA moet die kwessie van vandalisme ook aandag kry. Meer as 400 skole in hierdie drie provinsies het die afgelope ruk onder vandalisme deurgeloop en 62 skole is deur natuurrampe beskadig. Van hierdie skole se geboue het tot so ʼn mate verval is dat dit glad nie meer bruikbaar is nie.

“Die departement misluk daarin om bloot ʼn veiligheidswag aan sommige skole toe te ken, met swak verskonings oor waarom hulle nie hierdie eenvoudige taak verrig nie,” sê Nodada.

Die DA het ook opgemerk dat meer as 120 000 leerders in een van die provinsies nie toegang tot vervoer het nie. “Hierdie leerders moet belaglik ver afstande skool toe loop. Dit is in baie gevalle ʼn oorsaak van die geweldige druipsyfer dwarsdeur die skooljaar.”

Verder het sommige provinsies tot meer as 800 leerders met spesiale behoeftes wat nie beoordeel of in skole geplaas is nie.

Die DA doen ʼn beroep op die departement van onderwys om hierdie probleme betyds uit te stryk om só alles in orde te kry vir wanneer die skole volgende Maandag heropen.

“Hierdie en die vele ander bekommernisse kan slegs aandag kry as die departement nouer verhoudings met die skole bewerkstellig. Angie Motshekga, minister van onderwys, moet die behoeftes van die leerders eerste stel.”

Nodada meen die departement het te laat wakker geskrik om die probleme omtrent die veilige heropening van skole te takel.

“Die departement het reeds die hele Desembervakansie –  en twee weke ekstra – gehad om enige probleme rakende die veilige heropening van skole in provinsies op te los. Die heropening kan nie langer vertraag word nie. Kinders het onderrig nodig en hoe langer hulle uit die klaskamers bly, hoe swakker sal die gehalte van onderwys noodwendig wees.”

Die DA sê hy sal voortgaan om die situasie te monitor en sal weer ʼn opvolgbesoek aan die skole bring sodra hulle heropen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Persheks Adri ·

Ons weet ook waar die skole is wat nie reg is nie genade kom by man! Julle speel met die kinders se toekoms. Kry rigting man

Elize ·

Nou moet ons kinders ook weer die straf kry deur ander wat net wil vernietig! Het simpatie waar die natuur werksaam was maar die meeste gevalle kom van die mens

Kompas ·

Regering het vanaf Maart 2020 gehad om al hierdie probleme by die skole aan te spreek en reg te kry. Absoluut swak!

Anel ·

Hulle het geweet van sl die pribleme, nog voor die virus. Die skole was vir hoe lank toe. Wat het hulle in daardie tyd gedoen? Nou skrik hulle wakker! Die skole moes al die 25 ste begin het. So van die 25ste tot nou het die skole uitmekaar geval! Die mees onbevoegste land in die wêreld! Ek meet, Afriforum bou ‘n universiteit in munder as’ n jaar, tydens die pandemie, en onder begroting. So waar lê die fout!!!!

Pieter ·

Dank sommer vir Lesufi en vir Matshega af weens onbevoegdheid!!!

Mariana ·

Liewe hel as dit is hoe skole in sekere dele lyk, sou ek nie daar wou skoolgaan. Duur boeke lê gestrooi in stof en vullis. Watse tipe onderwysers en skoolhoofde laat sulke goed toe, klaskamers val uitmekaar. Genoeg om enige mens kwaad te maak want dit is belastingbetaler se swaarverdiende geld wat daar vernietig word. En nou is die einste skole nie gereed nie, verbaas my glad nie. Hierdie mense het geen respek vir enigiets. Maar als is vir hulle verniet. Gn wonder Lesufi wil Afrikaanse skole toemaak nie, daar is orde. Hy moet slag sy werk doen en kyk na sy mense se welsyn wat skoolopvoeding betref.

Tanya ·

So sit ons onderwysers al vir langer as n week by die skool om te ‘beplan’ soos deur die departement gevra. En so wag ons steeds na n week om die finale onderrigplanne te ontvang. Die vakke wat dit wel ontvang het is uitgewerk vir 10 weke (tot 23 April). Ons het slegs 5 weke fisiese onderrigtyd omdat ons kinders slegs elke tweede dag kan sien. Vandag word daar gespekuleer dat skole weer 31 Maart gaan sluit, soos oorspronklik in die gazette gese is. So sit ons ons tyd en mors vir 2 weke want die departement se beplanning is nie in plek nie! Rerig, kom net by! Daar is skole wat reg is!

NWT ·

Die nuwe voorgestelde calender is nog in die staatskoerant nie. So die huidige skool kalender bestaan nog steeds. Ek het dit mooi uitgedeel. Skool begin op 15 Febuarie . Leerders neem 2 weke om te settle. Teen 1 Maart begin onderrig. Teen 15 Maart moet opvoeder assesering doen. Teen 31 Maart moet leerders hul eerste kwartaal rapport kry. So die beteken amptelike onderrig dae in skool tien dae. Dit teken elke leerder sal skool bywoon vir 5 skool dae waar amptelike skool onderrig sal plaas vind. Watter grap.

NWT ·

Ek vind dit snaaks dat die DA net skole besoek dat beheer word deur die ANC. Kom besoek die Weskaap en kritiseer die provinsie dat julle beheer. Dit wil ek sien.

Yolandie ·

Ek het opgetel dat die aangepaste kalender wat die datum van die skole se opening as die 15 Februarie aandui nog nie eers op die internet beskikbaar is nie. So waar is die nuwe kalender?? Besef die mense in beheer dat nie net mors hulle met die kinders se skooltyd nie, maar ook met die ouers se vermoe om hulle vakansie vir die jaar te beplan. Kom tog net by!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.